Windhoek voor afgrond

Volgens ’n verslag haal die stadsraad die meeste van sy eie teikens nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Reusegroei bedreig die hoofstad se volhoubaarheid en inwoners se lewensgehalte.

Onder meer het verskeie geweldsmisdade jaar op jaar die hoogte ingeskiet.

Só bieg die Windhoekse stadsvaders in die pasverskene jaarlikse raadsvorderingsverslag.

Dié rapport, wat die 2017-’18-boekjaar onder die loep neem, is die heel eerste in sy soort.

Meer moorde en gewapende rooftogte

Gewapende rooftogte het met 22% toegeneem, terwyl moord met 42% die hoogte ingeskiet het en 115% meer inbrake by sakepersele aangemeld is.

Rooftogte en verkragtings het wel met 18% en 61% onderskeidelik afgeneem.

Luidens die dokument “bedreig die hoë koers van verstedeliking in Windhoek die stad se omgewingsvolhoubaarheid”.

Die uitdagings wat veral informele nedersettings meebring, sluit die bestuur van vaste afvalstowwe, die uitbuiting van bome en bosse wat as kragbron gebruik word en sanitasiekwessies in.

“Gevolglik bly Windhoek nie gespaar van die wêreldwye impak van verstedeliking en klimaatsverandering nie,” lui die lywige verslag.

Minste arm mense

Ondanks dié werklikhede voer die verslag aan die Khomasstreek “weerspieël die laagste armoedevlakke” in die land.

Die streek huisves 6,3% van die armes en 2,4% van verskriklike arm mense, lui die verslag.

Een van die strewes van die Windhoekse stadsraad (CoW) is politieke leierskap, wat help om verbeterde munisipale dienste teweeg te bring.

Ondanks sy sukkelbestaan voer CoW in sy buigingvorderingsverslag aan hy het in die jaar onder oorsig bestendig binne die raamwerk van nasionale ontwikkelingsbeleidsrigtings opgetree.

Verantwoordbaarheid geniet glo voorkeur

Daarnaas, voer die verslag aan, het die stad verantwoordbaarheid en goeie bestuur hoog aangeskryf. Dít beteken hulle het gehoor gegee aan die pleidooie vir nasiebou, die uitwissing van armoede en maatskaplike vooruitgang vir sy nagenoeg 322 500 inwoners, lui die verslag.

“Die raad het spesifiek die verbetering van lewensomstandighede en basiese dienslewering in informele nedersettings verbeter.”

‘Wedloop teen tyd’

Ondanks dié mooi broodjies het die burgemeesteer, mnr. Muesee Kazapua, vroeër vanjaar gesê raadslede moet vinniger belangrike besluite neem as hulle nog tydens hul ampstermyn ’n verskil wil maak.

Hulle is tans in ’n wedloop teen tyd gewikkel, omdat hulle nog net twee jaar van hul vyfjaartermyn oorhet, het Kazapua tydens die eerste stadraadsvergadering gesê.

Hy het gesê raadslede moet hul pogings verskerp “om ’n volhoubare omgewing te skep in ’n tydperk waarin ’n gebrek aan behuising, basiese dienste in informele nedersettings, werkloosheid, honger, armoede en talle ander maatskaplike euwels aanhou om ons strewe na maatskaplike vordering en welvaart te ontspoor”.

Skuld by die miljoene

CoW het onlangs by monde van sy woordvoerder, mnr. Harold Akwenye, bevestig hul debiteure skuld hulle bykans N$900 miljoen in agterstallige rekeninge.

Akwenye het by navraag aan Republikein gesê: “Ja, dit is waar.”

Dié skuldenaars is individue, besighede en regeringsinstellings, het hy gesê.

Die jongste skuldskok het gekom dae nadat minstens 10 Windhoekse skole se water- en kragtoevoer weens agterstallige rekeninge van N$55 miljoen opgeskort is.

Republikein het Maandag berig CoW se verlies in die jaar onder oorsig geëindig 30 Junie 2018 was bykans N$1 miljard.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!