Windhoek wil sonkrag opwek
Windhoek wil sonkrag opwek

Windhoek wil sonkrag opwek

Die munisipaliteit is op soek na vennote om 'n 25 MW-sonkrag­plaas in die hoofstad op te rig.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Windhoekse munisipaliteit beplan om sonkrag op te wek om meer doeltreffend in die stad se elektrisiteitsbehoeftes te voorsien, en vra ervare onafhanklike kragopwekkers om aansoek te doen om saam 'n 25 MW-sonkragaanleg te ontwikkel.

Volgens die munisipale woordvoerder, me. Lydia Amutenya, is die voorstel al 'n geruime tyd op die tafel en is die laaste keer op 25 Maart aan die stadsraad voorgelê.

Die uitnodiging is vir 'n enkel 25 MW-sonkragplaas wat die stadsraad in vennootskap met 'n privaat maatskappy wil finansier, bou, besit en vir 25 jaar bestuur.

Aansoekdokumente is vanaf Vrydag teen 'n heffing van N$1 000 by die munisipaliteit se hoofkantoor beskikbaar en aansoeke word tot 10:00 op Donderdag 19 Augustus aanvaar.

Dokumente van die stadsraadvergadering dui aan die hoofstad beoog steeds om ten minste vyf 5 MW-aanlegte te vestig – soos in 2017 besluit en geadverteer is – maar die eenheid vir openbare-private-vennootskappe (PPP) in die ministerie van finansies, dring aan op die finansiële voordele wat een groot aanleg kan bied.

Die stadsraad was verlede jaar nog van plan om insette vir albei planne in te samel, maar het teen Februarie besluit om self kleiner sonkragaanlegte te oorweeg, en vir nou net die groter aanleg op 'n PPP-basis te implementeer.

Die eerste van die kleiner aanlegte word vir Ramatex en die munisipale hoofkantoor se parkeerruimte ondersoek.

Die stadsraad het op 1 Februarie goedkeuring vanaf die PPP-eenheid ontvang om met advertensies vir aansoeke voort te gaan.

Nog 'n twispunt tussen die munisipaliteit en die PPP-eenheid was oor die grond waar die nuwe aanleg gebou sou word.

Die finansministerie se eenheid is van mening dat die grond suid van Cimbebasia vir toekomstige nywerheidsontwikkeling beter benut kan word en het die stadsraad aangemoedig om ander persele te identifiseer.

Terugvoering in Junie 2020 van die uitvoerende beampte van die Windhoek-munisipaliteit, mnr. Robert Kahimise, dui egter aan dat dié grond bo die stad se noodsaaklike waterdraer geleë is. Ontwikkeling in daardie gebied is dus baie beperk, brei hy uit, met voorvereistes wat reeds uiteengesit is.

Die toepassing van die algemene reël dat 10m² benodig sou wees vir genoeg sonpanele om 1 kW op te kan wek, dui 'n 25 MW-sonkragplaas sou sowat 25 hektaar benodig word, afhangend van die gehalte van die sonpanele en of hulle outomaties die son sou volg of nie.

Die besonderhede oor die aanleg sal eers nadat die aansoeke ontvang is, in 'n proses vir die aanvraag van voorstelle uiteengesit word.

Aansoekers sal ook ten minste 45% Namibiese eienaarskap moet kan bewys, terwyl gesamentlike ondernemings aangemoedig word om aansoek te doen. Aansoekers moet ook ten minste aan netto bate-vereistes van N$25 miljoen kan voldoen.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!