Windhoek Woordfees 2016 gister bekend gestel
Windhoek Woordfees 2016 gister bekend gestel

Windhoek Woordfees 2016 gister bekend gestel

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Afrikaans trek binnekort weer haar dansrok aan om hoog te skop by die vierde jaarlikse Windhoek Woordfees wat op 29 Julie in Windhoek afskop en op 11 Augustus met die teaterproduksie Liefdesbriewe/Liefdesbrieven op Rehoboth ten einde loop.
Dr. Chrisna Beuke-Muir, stigter en voorsitter van die Windhoek Woordfees, het gister tydens die bekendstelling van die 2016-fees gesê solank as wat mense hul gewaarwordinge in Afrikaans kan formuleer, sal die taal leef en nie van die liggaam van Afrika geamputeer word nie.
Dit is beaam deur me. Revonia Kahivere, bestuurder van korporatiewe maatskaplike beleggings by die FNB Stigting Trust, wat weer eens die hoofborg is en N$100 000 bygedra het om die aanbieding daarvan moontlik te maak.
Sy het gesê die onder­skeie tale en kulture in Namibië moet gekoester en beskerm word aangesien dit vir mense ’n gevoel van behorendheid gee.
“Afrikaans is een van die kleurrykste tale wat daar is. Dink nou maar aan uitdrukkings soos dit is bloedig warm, balke saag, ’n uiltjie knip, leë blikke maak die meeste geraas of jy moet hare op jou tande hê,” het Kahivere gesê.
Mnr. Dani Booysen, redakteur van Republikein, mediavennoot van die Windhoek Woordfees, het op sy beurt gesê Afrikaans is ’n taal waarin ’n klomp mense in Namibië wat eintlik uit huis uit ander tale praat, mekaar vind en met mekaar kommunikeer. “Afrikaans is vir baie mense in hierdie land gedeelde grond.”
Soos gewoonlik, is daar vanjaar weer gesprekke met skrywers en wel met Piet van Rooyen oor sy boeke Voëlvry en Amatola en met die bekende skrywer en fotograaf Amy Schoeman oor fotografie as ’n literêre medium. Francois Smith kom gesels oor sy opspraakwekkende roman, Kamphoer. Tydens die filosofiegesprek word die renoster by sy kosbare horings gepak en gaan met onder andere Julian Rademeyer, skrywer van Killing for Profit, oor bewaring gedebatteer word.
Die gewilde Storievuur vind hierdie jaar by die Gondwana Shebeen by die Windhoek Skougronde plaas en oudrenjaer Lukas Hipondoka gaan onder meer van sy beste stories met die gehoor deel.
Kom kyk ook hoe die liefdeslewe tussen ’n man en vrou op die verhoog uitgespeel word in Liefdesbriewe/Liefdesbrieven, en beleef die onvergeetlike sang van Arina de Witt en André Schwartz in Aand van Bekoring. Is gedigte en die luisterlied jou liefde, sal die twee Kitskonserte jou hart bly maak.
’n Daglange skryfkursus word deur ’n bekroonde skryfster aangebied op Saterdag 30 Julie, en natuurlik gaan weer in Afrikaans gekook word.
’n Nuutjie vanjaar is ’n uitdaging aan plaaslike “bands” om ’n prysgeld van N$10 000 te wen in die Windhoek Woordfees se musiekkompetisie, Pluk-’n-Snaar.
Al wat hulle moet doen, is om drie Afrikaanse liedjies, verwerkings daarvan, of eie komposisies uit te voer.
Die dokumentêre rolprent, Boere op die aardsdrempel, word in samewerking met die FNCC vertoon en vertel die aangrypende verhaal van ’n klein groepie Afrikaanssprekendes wat ná die Anglo-Boereoorlog in Argentinië ’n heenkome gevind het.
Die volledige program en meer inligting oor die onderskeie produksies, verskyn Vrydag in Kollig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!