Windhoekers vaar briljant in virtuele resies

Twee Namibiese langasems het die naweek stem dik gemaak in 'n virtuele wêreldkompetisie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Risa Burger en Adelé de la Rey van Namibië het die afgelope naweek beide onder die toptien vroue in die heel eerste wêreldwye virtuele Ystermankompetisie van Ironman Internasionaal klaargemaak.

Die kompetisie wat Saterdagnag om tweeuur (Namibiese tyd) afgeskop het, het uit drie dissiplines bestaan, naamlik 5 kilometer hardloop, 90 km fietsry en 21.2 km hardloop.

Deelnemers het tot Sondagaand 24:00 gehad om op hul eie tyd die drie afstande opeenvolgend af te lê.

Die vier Namibiërs was onder die 6 609 atlete wat die 116 km Ysterman-afstand kafgedraf het. Met vele lande wêreldwyd ingeperk ter bekamping van die coronavirus-pandemie, kon deelnemers óf binnenshuis óf indien dit toegelaat is, op die langpad hul bewegings aanteken.

Risa Burger het algeheel sesde uit 1 163 vroue geëindig en was tweede in haar ouderdomsgroep (30 tot 34 jaar) met 'n tyd van 4 ure 18 minute 54 sekondes (4:18:54).

Sy het die 5 km drafsessie in 18 minute 36 sekondes klaargemaak, die strawwe 90 km New York-roete met die fietsry in 2:32:58 voltooi en die halfmarathon (21.1 km) in 1:27:20 baasgeraak.

Burger, wat 'n geswore hardloper en meer onlangs ook 'n kompeterende fietsryer is, sê sy het die nuwe uitdaging terdeë geniet, maar om alleen die 116 km aan te durf, was gewis nie die maklikste nie.

“Og, dit was vrek moeilik. Om alleen te hardloop of om binnenshuis op die fiets vir 90 km te sit, is werklik 'n uitdaging. Jy moet jouself druk om harder te hardloop of te ry, want dit voel amper simpel as niemand fisies daar is wat teen jou deelneem nie.

“Maar dié ding het ons ook weer baie gemotiveer. Die feit dat jy direk op die webtuiste die uitslae kry, maak dit lekker! Ek het dit op die ou einde baie geniet,” het Burger aan Republikein gesê.

Die inperkingstydperk in Namibië is daar vir almal om bestekopname te doen, sê Burger.

“Vir al ons Namibiërs, veral die sportmanne en -vroue ... ons is bitter bevoorreg om nog buite te kan oefen. Ek glo ons kan hierdie tyd gebruik om bietjie te reflekteer oor ons doelwitte en wat vir 2020 voorlê. Ek dink hierdie gee vir ons 'n goeie breekperiode van die gewone roetines en tyd om steeds konstruktief te oefen.

“Dit is wel 'n moeilike tyd. Ek moet gereeld hard met myself praat om gemotiveerd te bly. Dinge soos geslote swembaddens maak dit vir ons moei­lik om 'n swemsessie agter die blad te kry. Maar dis net vir 21 dae. En ons gesondheid moet altyd eerste kom.”

Burger was genooi om in Oktober aan 'n kwalifiserende Ysterman-driekamp in Helsinki, Finland, deel te neem, maar as dit nie realiseer nie, is daar ook die tweekamp-wêreldkampioenskap in Septembermaand in Nederland wat haar lok.

“As ek 'n borg kry, sal ek bitter graag aan die wêreldkampioenskap by Kemphaan in Almere wil deelneem. Ek dink my sterkpunte lê eerstens in hardloop en dan fietsry. Ek is definitief nie 'n swemmer nie!” het Dreyer vertel.

• Komende naweek bied Ironman Internasionaal sy tweede virtuele kompetisie aan. Hierdie keer is die drie dissiplines meer geskik vir twee- en driekampatlete wat aan korter afstande gewoond is. Die uitdaging sal uit 5 km hardloop, 40 km fietsry en 10 km hardloop bestaan.

Divan du Plooy, die Namibiese nasionale driekampkampioen, het aangedui hy sal in Jeffreysbaai, Suid-Afrika, sy slag teen die res van die wêreld wys.

Laas naweek se uitslae vir die ander drie Namibiërs:

Adelé de la Rey (40 tot 44 jaar): 5 km hardloop, 24 minute 12 sekondes. 90 km fietsry, 2:23:02. 21.1 km hardloop, 1:48:22. Totale tyd 4:35:36. Sy eindig negende algeheel van die vroue.

Tanja Wiese (35 tot 39 jaar): 5 km hardloop, 27:55. 90 km fietsry, 3:45:29. 21.1 km hardloop, 2:09:27. Totale tyd 6:22:51. Sy eindig 139ste uit 195 vroue in haar ouderdomsgroep.

Neil Clarke (55 tot 59 jaar): 5 km hardloop, 22:57. 90 km fietsry, 2:34:53. 21.1 km hardloop 1:44:55. Totale tyd 4:42:45. Clarke eindig 24ste uit 198 deelnemers in sy ouderdomsgroep en 1 138ste uit 5320 mans.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!