Winnie Madikizela-Mandela: 'n Omstrede en komplekse lewe

Die vervreemde vrou van oudpres. Nelson Mandela van Suid-Afrika is Maandag oorlede.
Sy het ’n harde, komplekse, omstrede en kleurryke lewe gehad.

Politieke kenners en haar voormalige private sekretaris het Winnie Madikizela-Mandela (81) se lewe Maandag só opgesom nadat sy ná ’n kort siekte in die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede is.

Alan van Zuydam, Madikizela-Mandela se voormalige private sekretaris wat haar bykans 40 jaar lank geken het, was na aan trane toe hy hul werkverhouding in herinnering geroep het.

“Sy het ’n baie, baie harde lewe gehad. Ek het haar sedert die 1980’s geken en weet dat haar lewe ongelooflik hard was.”

Van Zuydam het haar destyds as ’n student in Durban ontmoet toe hy saam met sy professor vir haar in Brandfort, waarnatoe sy verban was, in die Vrystaat gaan kuier het.

“Ons het later vriende geword. Sy was ’n uitsonderlike mens. Sy het in 1994, toe sy die adjunkminister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie geword het, my gevra om Kaap toe te kom om haar private sekretaris te word," het hy gesê.

Prof. Dirk Kotze, ’n politieke kenner aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), het gesê Madikizela-Mandela se lewe was baie kompleks.

“Die belangrikste aspek van haar lewe was as vrou van oudpres. Nelson Mandela."

Hulle was vir 38 jaar getroud, waarvan die meeste tyd afsonderlik deurgebring is omdat hy in die gevangenis was.

"Sy is beskou as die verpersoonliking van die Mandela-idee terwyl hy in die tronk was. Die 1980’s was ’n baie omstrede tyd waarin sy skuldig bevind is in die Stompie Sepei-saak en (uiteindelik) ’n opgeskorte vonnis ontvang het.

“Ek dink daar is baie mense wat haar daarmee assosieer, asook met die halssnoermoorde wat sy as ’n dreigement gebruik het teen die regering van die dag. Mense het dié dreigemente geïnterpreteer as dat sy dit gesteun het.”

Volgens Kotze het die vinnige wyse waarop haar verhouding met Mandela ná sy vrylating tot ’n einde gekom het, ’n lelike klank gehad.

“Die feit dat sy nie deel wou word van sy huishouding nie en verhoudings gehad het, was wat dit alles opgebreek het. Sy wou haar nie onderwerp aan gesag en regeringsprosedures nie. Dit het haar omstrede gemaak.”

Die een ding wat volgens Kotze bly staan oor Madikizela-Mandela was dat sy die simbool geword het van die ANC en van die mense wat in die townships betoog en wat steeds ná 1994 probleme ervaar.

“Sy is geassosieer met Peter Mokaba, die destydse leier van die ANC-jeugliga, asook met Julius Malema, EFF-leier. Sy het daardie beeld probeer behou van iemand wat nie deel was van die ANC-elite nie, maar van die mense op die grond. Sy het ’n kleurryke lewe met baie dimensies gehad.”

Ralph Mathekga, politieke ontleder, het Madikizela-Mandela as ’n “komplekse karakter” beskryf.

“Sy het ’n baie omstrede geskiedenis. Sy was ’n groot leier van die anti-apartheidsbeweging – ’n weduwee van die apartheidstryd.

“Ons kan ook nie daarvan wegskram dat daar geen revolusie is wat skoon is nie. Die storie van Stompie Sepei en die omstrede Mandela United-sokkerklub gaan net nie weg nie,” het Mathekga gesê.

“Sommige in die samelewing sal haar as ’n heldin beskou, maar ander nie.

“Dat sy oorgehel het na radikale beleid het vir haar vyande gemaak. Sy was baie geïsoleerd van die ANC onder die presidensie van oudpres. Thabo Mbeki. Dit was eers in later jare dat dit verander het. Haar nalatenskap sou ek sê is haar geloof in radikale beleid.

"Sy is lank siek en sy was sedert die begin van die jaar in en uit die hospitaal. Sy het vreedsaam in die vroeë middagure Maandag gesterf, omring deur haar familie en geliefdes,” het haar familie in ‘n verklaring gesê.

Volgens biskop Gary Rivas van die Metodiste Kerk van Suid-Afrika het Madikizela-Mandela Sondag nog die Paasdiens by ’n kerk in Soweto bygewoon.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand gesê sy was ’n stem vir die stemloses. “Suid-Afrika het ’n ma, ’n ouma, ’n kameraad, leier en ikoon verloor.

“Mag haar siel in vrede rus,” het hy in ’n spesiale regstreekse TV-boodskap aan die nasie gesê.

Hy het gesê Suid-Afrikaners rou saam met haar familie.

“Jul verlies is ons verlies.”

Victor Dlamini, woordvoerder van die Mandela-familie, het gesê die Mandela-familie is dankbaar vir haar lewe “en selfs al is ons harte gebreek, vra ons almal wat haar geken en liefgehad het, om die lewe van dié merkwaardige vrou te vier”.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu sê Madikizela-Mandela was ’n simbool van die stryd teen apartheid.

“Mag Mam’ Winnie in vrede rus,” het hy gesê. – Netwerk24/AFP bygewerk

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!