Wintertyd is snoesel-tyd
Wintertyd is snoesel-tyd

Wintertyd is snoesel-tyd

Estelle de Bruyn
Ek hou van die winter. Om die waarheid te sê, hou ek van al die seisoene, elkeen het sy eie lekker. Wintertyd is ’n tyd van lekker los, groot truie en jasse, stewels tot by jou knieë en wollerige serpe om die nek - alles om die middeljarige figuur en die afsakkings weg te steek wat deur die ouderdom meegebring word.
Wintertyd is boonop ’n tyd van lekker stomende bakke sop, natuurlik met ’n skeutjie room bedien, geurige Glühwein, bredies en gebakte poedings.
Ek hou ook van die gevoel om snags onder ’n snoesige donsduvet in my bed te kruip met die warm worshondlyfie wat styf teen my slaap.
Die winter is vir my ’n rustige tyd. Om die een of ander rede assosieer ek somer met besig wees en dinge wat gedoen moet word en ’n gejaag om klaar te kry. In die winter kan ek ’n hele naweek in my huis voor die TV of met ’n lekker boek verwyl, sonder dat ek enige begeerte het om in winkelsentrums rond te draf, kaste reg te pak of wat dit ook is wat ’n mens in die somer so bedrywig maak.
Maar as die lente kom, is dit ook ’n welkome tyd. ’n Tyd van vernuwing en ’n tyd om in te spring en die spreekwoordelike spinnerakke, waarmee ’n mens jou in die winter toegespin het, uit te werk. Die lente bring ’n huppel in ’n mens se stap en ná die leeglê wintermaande is ’n mens sommer lus om soggens te gaan stap en weer met nuwe voornemens die res van die jaar aan te durf.
Die koms van die somer hou die belofte van reën in en as die voorspellers reg is en ’n La Niña-verskynsel vanjaar vir ons voorlê, is dit beslis ’n tyd om na uit te sien. Lekker donderstorms en swaar wolke wat oor die Auasberge hang bly van die lekkerste belewenisse waarvan ons hier in die droogtetye net kan droom.
Die koel lafenis van seewater om ’n mens se enkels, die reuk van sonbrandolie, en die smaak van ’n vars perske is my somer-assosiasies.
Maar as die herfs kom kan ek nie anders as om die woorde van N.P. van Wyk Louw aan te haal nie:
“Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.”
Dis vir my een van die mooiste skrywes in die Afrikaanse taal en gepas vir die mooiste seisoen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer