Witrenoster by Otjiwa gestroop

Terwyl nóg 'n renoster op 'n private lodge gestroop is, het 'n vermeende stroper gister in die hof verskyn en is borgtog geweier.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Witrenosterkoei is by Otjiwa Safari Lodge naby Otjiwarongo gestroop.

Volgens mnr. WP Barnard, die eienaar van dié spoglodge en die 20-jarige witrenoster, is die karkas Maandag omstreeks 16:00 gevind.

"Die karkas van die renoster is sowat 10 km van haar ongedeerde bulkalfie (8 maande oud) gevind. Die koei was gekwes en het vermoedelik 10 km ver gehardloop voor sy gevrek het. Die horings is nie verwyder en gesteel nie," het Barnard gister aan Republikein gesê.

"Ek is baie hartseer oor Maria (die koei) se verlies. Dit is verskriklik wat gebeur het. Dit is diere wat jy vir jare oppas en mooier na hulle as jouself omsien."

Gister was vyf polisiebeamptes van die eenheid van beskermde hulpbronne (PRU) en ses beamptes van die ministerie van die omgewing en toerisme op die toneel om die karkas te ondersoek.

Die bulkalfie het ook 'n ouer broer van twee en 'n half jaar oud saam met wie hy nou loop.

"Ons moet nog besluit oor die klein kalfie se toekoms," het Barnard gesê.

'n Amerikaner van Missouri, mnr. Sean Scott, het in sy persoonlike hoedanigheid 'n beloning van US$10 000 (sowat N$133 000) uitgeloof vir enige inligting wat tot die skuldigbevinding van die stropers kan lei.

VERMEENDE STROPER IN HOF

Voorts het 'n vierde vermeende stroper van twee witrenosters naby Gobabis, mnr. David Stephanus (35), gister in die landdroshof op dié Oostedorp verskyn.

Stephanus, 'n Namibiese burger, is verlede Dinsdag in Windhoek in hegtenis geneem en is die medebeskuldigde van die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, en mnre. Domingo Justice Moma en Erwin Tjiteere, wat op 10 Januarie in dieselfde hof verskyn het.

Volgens staatsaanklaer Salomon Kanyemba is 'n saak van die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en onwettige besit van wildsvleis en of -produkte, ook teen Stephanus in Windhoek aanhangig gemaak toe hy met vier pote van 'n Damara dik-dik en 'n jaggeweer in sy besit betrap is.

Stephanus is borgtog geweier en sy saak is tot 31 Maart vir verdere polisieondersoek uitgestel.

Die saak spruit uit die skiet van vier renosters op 22 Desember verlede jaar op mnr. Walter Kinnear se plaas naby Gobabis.

’n Stoetbul en ’n dragtige koei wat besig was om te kalf, is na bewering deur die mans vrekgeskiet. Die diere is dood gevind, met hul horings afgekap en gesteel. Nog twee renosters is op die plaas geskiet en het oorleef.

Kandjii was uit op borgtog van N$20 000 en moes reeds in September in hegtenis geneem gewees het toe hy versuim het om op te daag vir sy hofsaak in die landdroshof op Okahao, óók op klagte wat verband hou met renosterstropery.

Die staatsaanklaer het toe borgtog sterk teengestaan. Die rede was dat die drie mans deur die Kalkrand-landdroshof op borgtog vrygelaat is in ’n moord- en roofsaak waarin ’n plaaseienaar, mnr. Reinhard Schmidt, in Febuarie 2015 vermoor is.

Kandjii was na bewering by die Kalkrand-moordsaak betrokke nadat hy op borgtog van N$20 000 vrygelaat is in ’n saak van stropery van swartrenosters in die Etosha Nasionale Park. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Augustus 2015 uitgereik toe hy nie vir ’n hofverskyning opgedaag het nie.

Kandjii, Moma en Tjiteere het nou opnuut ’n misdaad gepleeg terwyl hulle op borgtog vrygelaat is, volgens die staatsaanklaer.

Nóg een stroper is op vrye voet.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!