Woede kook oor by Ngoma

Die naweek is deur grootskaalse protesoptrede oor die dood van die Nchindo-broers aan die hand van Botswana se weermag gekenmerk.
Augetto Graig
Augetto Graig – Regeringsafgevaardigdes het laat Saterdagmiddag hul hande vol gehad om gemoedere by die Ngoma-grenspos te kalmeer toe ’n skare woedende inwoners uit die Zambezistreek wat op die repatriëring van die Nchindo-broers se oorskot uit Botswana gewag het, vragmotors uit dié buurland met klippe bestook het.

Dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne wat in die dié streek grootgeword het, was saam met die goewerneur van die Zambezistreek, mnr. Alufeu Sampofu, en ander afgevaardigdes by die grenspos om die lyke van mnre. Tom Nchindo, Wamunyima Nchindo en Martin Nchindo, die drie broers wat deur lede van die Botswana-weermag (BDF) in ’n teenstropingsoperasie doodgeskiet is, in ontvangs te neem.
Hul oorskot is Saterdag deur die Botswana-owerhede daarheen vervoer nadat hulle verlede Donderdagaand naby die Kasika-nedersettings by Kasane doodgeskiet is. Anders as wat beweer word, het familielede aan Nampa gesê hulle was nie besig om wild te stroop nie, maar om in die Choberivier te hengel. Hulle was ongewapen en het net visvangnette by hulle gehad, sê die familie.

Hul neef, mnr. Sinvula Munyeme van Zambië, is saam met hulle doodgeskiet. Dit is in dié stadium nie bekend of sy oorskot direk na Zambië gerepatrieer sal word nie.

Hul getraumatiseerde moeder, me. Alphonsina Nkungano Mubu (69), het vier dae ná hulle skietdood vermoedelik weens die skok ook gesterf.

Groot protesoptogte is Vrydag in Windhoek, op Katima Mulilo asook by Impalila-eiland gehou. Met plakkate wat lees “Namibian lives matter” en “Stop killing us” het die optoggangers van Onafhanklikheidsrylaan na Botswana se hoëkommissariaat gemars. Die voorsitter van die groep wat die optog in die Khomastreek gereël het, me. Nadia Mushabati-Lizazi, moes die skare kalmeer voordat die eise aan die buurland se hoë kommissaris, mnr. Batlang Comma Serema, voorgelees kon word.
“Ons kom in vrede, maar ons ken oorlog. Ons het oorlog gemaak. Ons vryheid en onafhanklikheid is nie aan ons geskenk nie soos die van Botswana nie. Moet ons nie verder uitlok nie,” het sy aan Serema gesê.

Volgens die betogers het die BDF sedert onafhanklikheid reeds 37 Namibiërs vermoor, insluitend ’n negejarige seun. Hulle sê die buurland se soldate is arrogant en ontvoer dikwels Namibiërs onder die voorwendsel dat klagte van wildstroping teen hulle ondersoek word.

Hulle eis ’n onmiddelike, openbare verskoning deur die president van Botswana, mnr. Mokgweetsi Masisi, asook die staking van gewelddadige optrede teen Namibiërs, die afskaffing van die doodskietbeleid teen stropers en die vinnige afhandeling van die ondersoek na die omstandighede van die jongste skietvoorval.

Serema het beloof om binne sewe dae terugvoering hieroor te gee.

Intussen het die Namibiese polisie drie ondersoekbeamptes na Botswana gestuur om deel te neem aan die gesamentlike ondersoek na die gebeure van 5 November toe die vier mans doodgeskiet is.

Volgens die inspekteur-generaal van die polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, is die nadoodse ondersoek op Francistown gedoen voor die oorskot na Namibië vervoer is,

“’n Versoek is aan die regering van Botswana gerig dat die familie teenwoordig moet wees tydens die nadoodse ondersoek en hulle ingestem, ”het Ndeitunga Donderdag in ’n onderhoud aan Namibian Sun gesê. Die eerste twee Namibiëse ondersoekbeamptes het Woensdag reeds saam met twee Nchindo-familielede na Botswana gevlieg.

Ndeitunga sê die ondersoek sal môre amptelik afskop en tot 20 November duur, tensy meer tyd daarvoor nodig is. “Die regering doen alles wat moontlik is en ons moet die proses waarmee beide regerings begin het, vertrou. Tweedens wil ons die regering van Botswana bedank vir sy bereidwilligheid om sonder enige voorbehoud met ons saam te werk,” sê hy.

Intussen het die regering in die buurland Donderdag die gesamentlike ondersoek in ’n nuusverklaring aangekondig, en gesê pres. Masisi is telefonies in gesprek met Namibië se pres. Hage Geingob om meegevoel met die familie te betoon. Geingob het verlede week die familie besoek en die versekering gegee dat die voorval die nodige aandag van die owerhede in beide Namibië en Botswana geniet.

Die aankondiging Donderdag deur sy perssekretaris, dr. Alfredo Hengari, dat beplande protesaksies die naweek “nutteloos en onnodig is” synde die regerings in gesprek is oor die voorval, het onder kritiek van die organiseerders deurgeloop.

Hy het versoek dat die protesoptrede nie vir politieke doeleindes misbruik word nie en gewaarsku teen die kaping van emosies vir blatant politieke demonstrasies.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!