Woede oor Zimbabwe sy skuld met wild delg

In wat as een van die grootste internasionale misdade bestempel word waarby diere betrokke is, het nog 'n vrag wilde diere oor die Kersnaweek in China aangekom om Zimbabwe se skuld te delg.
Estelle de Bruyn
Grace Mugabe, presidentsvrou van Zimbabwe, het na bewering 36 olifantkalfies, ’n kameelperdkalfie, agt leeus en twaalf hiënas as betaling vir die vervaardiging van weermagtoerusting aan die Chinese sakevrou, Li Song, verhandel.

Johnny Rodrigues van die Zimbabwe Conservation Task Force (ZCTF), beweer die wild is oor die Kersnaweek te midde van internasionale woede by die Victoria Falls-lughawe op ’n Russiese vragvliegtuig gelaai.

Die diere is die afgelope paar maande in die Hwange Nasionale Park gevang en het na verneem word Maandagoggend in Sjanghai in China geland.

Volgens Rodrigues het hy verneem die Boeing 747-400 het dié dag in Moskou geland om brandstof in te neem, sou vlieg.

Dit is die tweede besending wilde diere uit Zimbabwe na China.

Sowat 25 olifantkalfies (waarvan twee op pad na China gevrek het) is in Januarie 2015 in Beijing afgelaai.

Zimbabwe skuld Li na verneem word US$3,8 miljoen wat in verskillende “paaiemente” oor die volgende vyf jaar aan haar “betaal” sal word. Dit sluit glo 200 olifantkalfies in. Li besit die maatskappy Eagle Tannery in Harare.

The Times of London berig Li het ook weermaguniforms en -skoene vir die Kongolese weermag gemaak en dat die Zimbabwiese wild gebruik word om ook dié skuld te delg.

Nick P. Lynch van die WildiZe-stigting sê bewaringsbewustes oor die hele wêreld is woedend vir Zimbabwe wat sy wild na China uitvoer.

Lynch sê die kalfies is weer eens, soos verlede jaar, met geweld uit hul troppe verwyder.

“Maak nie saak hoe professioneel hierdie onderneming uitgevoer is nie, die gewelddadige verwydering van olifantkalfies uit hul troppe is niks anders as dieremishandeling op groot skaal nie.”

Hy sê dit is reeds telkens bewys dat hierdie soort optrede olifantfamilies traumatiseer. Dit gee daartoe aanleiding dat die oorblywende lede van die trop disfunksioneel raak.

“Verskonings deur die Zimbabwiese regime dat Zimbabwe te veel olifante het, is belaglik. Watter verskil gaan die verwydering van ’n paar olifantkalfies aan die sogenaamde oorbevolking van dié diere maak?” vra hy.

Lynch wys verder daarop dat Zimbabwe vir hom baie probleme op die hals haal omdat die oorblywende olifante nou aggressief teenoor mense gaan optree.

Lynch sê hierdie besendings wild wat elke jaar van Zimbabwe na China uitgevoer word, kan as een van die grootste internasionale misdade beskou word waarby wild betrokke is.

Navrae Saterdag aan die Zimbabwe Parks and Wildlife Management Authority, is nie beantwoord nie.

Eli Weiss van VoiceAmerica, ’n internetradiostasie, het op Facebook uitgevaar en gesê hierdie “handelsooreenkoms” is Zimbabwe se “betaling” aan China wat benewens die weermagtoerusting ook verantwoordelik is vir die bou van paaie en ander infrastruktuur in Zimbabwe.

Hierdie besendings wild is deel van ’n sesjaarooreenkoms waartydens Zimbabwe sy skuld aan China afbetaal. Dit sluit 200 olifante oor ses jaar in. Van die olifantjies is glo aan die Chimelong Safari Park verkoop, beweer die nie-regeringsorganisasies Born Free en Animals Asia.

Die park besit ’n sirkus. Bewaringsorganisasies het hul kommer uitgespreek dat dié olifantjies dalk as sirkusdiere opgelei gaan word.

Wildlife at Risk International het ’n foto van die Russiese vragvliegtuig op sy Facebook-blad gepubliseer met die opskrif: “Zimbabwe: Christmas Flight to Hell”.

Zimbabwe hou telkens vol hy is ’n ondertekenaar van die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde fauna en flora (Cites) en dat hy met die toestemming van dié konvensie met sy bedreigde wild handel mag dryf. Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!