Woestyn Kombuis: Rusplek vir die siel
Lekker koffie, heerlike varsgebak beskikbaar
Catherine Sasman- Die Woestyn Kombuis van mnr. Boetie en me. Jaryn Niemand op Maltahöhe, is ’n oase van vriendelike diens en lekkernye.
Terselftertyd dien dit as ’n interessante vertoonvenster van toentertyd se huisraad en allerhande snuisterye.
Tussen rakke met ingelegde kerriekool, tamatiekonfyt en tuisgebakte beskuit staan Nama-poppies wat plaaslike vroue maak en sleutelhouers en oopmakers wat Jaryn se pa uit springbokhorings gekerf het.
Op ou tasse is ’n outydse radio en weegskale gestapel; op die winkelvloer staan swaar Dover-houtstowe van meer as 100 jaar oud, kool-strykysters, skale, driepootpotte, ou melkkanne en bottels wat oor die jare van plase in die omgewing versamel is.
’n Tafel in een hoek is swaar gelaai met ’n verskeidenheid ou tikmasjiene en die vertoonkaste is vol memorabilia uit die vergange koloniale era: ’n Huisgenoot van Junie 1975 met 'n jong Liz Taylor, 'n Die Huisvrou-tydskrif van 1940, ’n Min Shaw-langspeelplaat, Singer-naaldwerkmasjiene en paraffienlampe.
Op die wit mure is duisende gekrabbelde boodskappe wat besoekers uit alle hoeke van die wêreld oor die winkel, die omliggende woestynsprokiesland en ons land te sê het.
Van die dak hang versieringe wat Jaryn in haar “geïnspireerde ure” uit blikkies en allerhande materiaal ontwerp.
“Dit het alles net gebeur. Ek is redelik kreatief en wanneer ’n idee by my opkom, doen ek dit sommer,” sê Jaryn oor haar kunsvlyt en die eklektiese versameling in die winkeltjie.
’n Groot gedeelte van die versameling kom van Jaryn se familieplaas in die omgewing, of wat by vendusies gekoop is, deur vriende daar aangebring is, of sommer net opgetel is.
Die egpaar het die winkel in 2008 gekoop toe die Namibies-gebore Jaryn na haar geboorteland teruggekeer het ná 20 jaar in Suid-Afrika.
Hulle geniet baie plaaslike ondersteuning omdat hulle daarna streef om goeie verhoudings met hul mede-inwoners te kweek.
In die toekoms beplan hulle om hul spysenieringsdiens uit te brei.
Intussen gaan die paartjie voort om hul positiewe uitkyk op die lewe met hul kliënte deel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie