Woestyn se geheime word vir skoonheid verwerk
Tanja Bause - In ’n klein fabriek in Windhoek staan drie vroue en maak skoonheidsprodukte met die hand. Hulle gebruik net 100% natuurlike Namibiese tsammasaad-, maroela-, mopanie- en mirre-olie om die Desert Secrets-produkte te maak.
Me. Sophia Snyman is op Aus, in die suide van die land, op die plaas Klein Aus gebore. Dit is daar waar haar liefde vir natuurlike olies en geure van die natuur vandaan kom.
“Ek en my ma het baie in die veld gaan stap, veral na die winterreën, en die reuke van die verskillende plante het my gefassineer. Sommige het net lekker geruik, terwyl ander na kruie geruik het,” vertel Snyman.
Sowat vier jaar gelede het haar ma, me. Sophia Swiegers, haar in Windhoek gebel en vertel van ’n kursus oor noodsaaklike olies. Volgens Snyman het sy, haar ma en haar skoonsuster daar en dan in ’n voertuig geklim en na Stellenbosch, Suid-Afrika, gery om die kursus by te woon.
“Ons was baie entoesiasties en het ’n klein distilleerder gekoop en saamgebring. Ongelukkig het dit daardie jaar nie baie gereën nie en daar was nie baie plante waaruit ons olie kon kry nie,” sê Snyman.
Dit was nog altyd Snyman se droom om die geur van plante in skoonheidsmiddels te sit. Sy het oor ander Namibiese plantolies begin navraag doen en op tsammasaad-, maroela-, mopanie- en mirre-olie afgekom.
“Ek gebruik nou dié vier olies in my produkte, want ek het ’n volhoubare bron nodig. Daar is ander olies, maar hulle is nie op die oomblik volhoubaar nie en ek kan hulle dus nie gebruik nie.”
Snyman het alles oor olies en noodsaaklike olies begin lees en op die internet navorsing gedoen. Sy het ook met die olies begin eksperimenteer. In 2013 het sy aan ’n kompetisie deelgeneem wat haar lewe sou verander.
Die Natural Resources Institute, University of Greenwich, en die Millennium Challenge Account Namibia Indigenous Natural Products Innovation Fund het ’n kompetisie uitgeskryf. Deelnemers moes ’n lyfversorgingsproduk maak en die Namibiese mirre-olie gebruik wat op Opuwo gemaak word.
Snyman is as een van die twee wenners aangewys en moes genoeg van haar produkte maak sodat dit by die Namibië Tourisme Ekspo in Junie 2013 bekend gestel kon word.
“Ek het myself dood geskrik toe ek hoor ek moet nog van die produkte maak. My produkte was nie getoets nie en ek het nie geweet wat hulle rakleeftyd is nie. Ek het nie geweet of hulle van kleur gaan verander nie of hulle hul geur sal verloor nie. Maar ek het aan die werk gespring,” vertel Snyman.
Sy het haar produkte en olies in haar kombuis gemeng en gemaak totdat haar man eendag genoeg gehad het en haar en haar klein besigheid motorhuis toe geskuif het.
“My bestuurder het op ’n dag vir my gesê ek moet besluit of ek parfuum wil maak en of ek by die bank wil aanhou werk. Ek het baie lekker by die bank gewerk, maar my kop het die hele tyd in my motorhuis om my skoonheidsprodukte gedraai.”
Die motorhuis het ook te klein vir Snyman se skeppings geword en sy het na ’n klein fabriek naby die Eros-lughawe getrek. Sedertdien het sy haar produkreeks en besigheid uitgebrei.
“Op 1 Junie was ons twee jaar in ons fabriek,” vertel sy.
Me. Magdalena Gaoases was van die begin af by die projek betrokke.
“Ek en Magdalena het saam in my kombuis begin om olies te meng en kosmetiese produkte te maak. Toe het me. Merelene Visagie by ons aangesluit en nou is ons drie vroue wat alles doen. ”
Dié drie ontwikkel die produkte, vervaardig en toets, etiketteer en verpak dit. Alles word met die hand gedoen.
In Maart het Snyman met die ministerie van handel en nywerheid se hulp nuwe toerusting gekoop wat die werk vergemaklik.
“Die toerusting help baie en maak die werk makliker. Dit bly steeds ’n baie arbeidsintensiewe proses.”
Die maroela- en tsammasaadolie kry Snyman van die Eudafano Women’s Co-operative in Ondangwa.
Die vroue maak die maroelavrugte in die somer bymekaar en laat dit droog word. In die wintermaande wanneer hulle meer tyd het, haal hulle die neute uit en stamp dit stukkend om die goue “ondjove” uit te pers.
Die olie word oor die eeue heen in die voorbereiding van verskillende disse gebruik. In die 1990’s is studies gedoen en bevind dat maroela-olie die vel voed, bevog en vernuwe. Die vroue bring nou sakke vol maroelapitte na die koöperasie waar hulle gepers word om die waardevolle olie te kry wat in verskillende skoonheids- en velsorgprodukte gebruik word.
Die tsammasaadolie is ryk aan antioksidante, Omega 6 en 9 en is ’n belangrike bestanddeel in bevogtigers en masseerolies.
Die mirre en mopanie kry Snyman van die verwerkingsfasiliteit op Opuwo.
Himbavroue gebruik mirre reeds eeue lank as parfuum.
Diecommiphora-boom is ’n klein, kurkagtige boom wat ’n hars afskei wat op die grond val. Himbavroue versamel die “omumbiri” en omdat die boom nie seergemaak word nie, is dit ’n volhoubare produk.
Hulle sit een stuk van dié Namibiese goud onder in ’n beeshoring, hul parfuumbottel, en voeg dan vet en oker by. ’n Klein kooltjie word ook bygevoeg om die geur van die mirre vry te stel. Namibiese mirre is gelykstaande aan die wierook en mirre wat duisende jare reeds in die Arabiese skiereiland en Oos-Afrika gebruik word.
Die Himbavroue versamel die omumbiri en verkoop dit aan die verwerkingsfasiliteit op Opuwo.
Hier word die noodsaaklike olie in ’n stoomdistilleerdery herwin. Die olie word die afgelope paar jaar in Europese parfuums gebruik.
Die olie wat van die sade van die mopaniebome gekry word, is ’n natuurlike insekweerder. Die olie meng goed met ander olies om ’n strelende, geurige mengsel te skep wat liggaam en siel streel en verfris.
Die produkte sluit vloeibare hande- en lyfroom, badseep, lipsalf, lyfolie en lyfskroproom, badsout, soliede handeroom, soliede parfuum en handgemaakte seep in.
“Ons seep word nie vandag gemaak, môre verkoop en oormôre gebruik nie. Dit is ’n vier tot ses weke lange proses van die produksie tot die verkoop daarvan,” vertel Snyman.
Soos met al haar produkte het Snyman met verskillende metodes geëksperimenteer totdat sy die perfekte resep en metode van seepmaak verfyn het.
“Ek het eers met ’n ou familieresep begin. Die mengsel is op die stoof gekook en in houers gegooi om af te koel. Maar ek het gevind die koue metode werk baie beter en is baie doeltreffender omdat die geure en natuurlike eienskappe van die olies behoue bly,” brei sy uit.
Sy het drie verskillende seepresepte vir haar produk ontwikkel. Dit is maroela-, tsammasaad- en Namibiese olyfolie-seep.
Nadat die olies gemeng is wat die seep sy spesiale geur gee, word stukkies saad en mirre, ’n bietjie paprika en ’n paar gekneusde blare by die mengsel gevoeg. Dit gee die seep meer kleur en tekstuur.
Die mengsel word daarna in vorms gegooi en vir tot 36 uur laat staan sodat dit kan begin afkoel en set.
Die blokke word in klein blokkies gesny voordat die mengsel heeltemal set en dan op rakke uitgepak word. Die seep moet die volgende vier tot ses weke uitdroog voordat dit verpak en verkoop kan word.
Die neut van die makalani-palmboom wat in die verre noorde van Namibië groei, gebruik sy op ’n baie unieke manier, te wete as juweledosies vir die lipsalf. Snyman was op soek na ’n houer waarin sy haar lipsalf kon verpak wat besonders en Namibies is.
Sy het me. Angelika Eichas se gebruik van die makalani-neut in kunswerke gesien en saam het die twee vroue die juweledosies ontwerp. Eichas saag die neut in die helfte deur, haal van die vleis uit en boor klein gaatjies in die neut vir die skarnier en klamp.
“Elke neut is uniek, want elke neut se kleur en vorm verskil. Die natuurlike houer vir die lipsalf ondersteun nie net plaaslike handwerkers nie, maar maak ’n 100% Namibiese produk nog meer trots Namibies,” vertel Eichas.
Snyman het nog nie afgesien van haar droom om die natuurlike plante van die Aus-omgewing in haar produkte te gebruik nie. Sy wag net dat goeie winterreën val en dan word die klein distilleerder op die plaas afgestof en die plante geoes.
“Ek is lief vir die natuurlike geure en om bestanddele te meng en te eksperimenteer.
“Dit is my passie om die produkte so Namibies as moontlik te hou. Hulle moet hier gemaak word van Namibiese bestanddele, deur Namibiese mense,” voeg Snyman by.
Dié besondere 100% Namibiese produk is onder meer by verskeie lodges asook apteke in Windhoek beskikbaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie