Wonder van kindwees
Wonder van kindwees

Wonder van kindwees

Tanja Bause
Ek het my die naweek weer vergaap aan kinders se onskuld, nuuskierigheid, avontuurlus, vreesloosheid en vertroue.

Namibiese kinders is bang vir baie min. Ons het die naweek gaan kamp en daar was talle kinders – onder die ouderdom van tien jaar oud – by die kampterrein.

As daar ’n rots of boomstomp is, móét dit geklim word. Ek kan nie onthou wanneer laas ek in ’n boom geklim het nie.

Miskien is dit omdat ek – op my rype ouderdom – meer begrip het en besef dat ek regtig kan seerkry as ek uit die boom val.

Ek vermoed dit kan ook wees omdat ek die laaste paar jaar hoogtevrees ontwikkel het. Skielik kan ek nie meer in ’n glas hysbak klim nie. Hoe ouer ek word hoe banger word ek vir alles. Ek moet net nie iets doen waar ek kan val, seerkry of nog erger dalk iets breek nie.

Kinders is baie aanpasbaar, as hulle wel sou seerkry en al huilend na hul ma toe hardloop, is al wat hulle soek ’n bietjie liefde.

Ma vee net die trane af en afhangend van hoe groot die eina is, word daar ’n kleurvolle pleister opgeplak, ’n soen gegee en gesê: “Daarsy, mamma het die seer weggeblaas en gesoen. Alles is weer oukei, jy kan verder gaan speel.”

Die kind hardloop dalk soos ’n kreupele terug na die maatjies toe, maar hy speel verder. Die een ma het vir die kind gevra om haar na die plek te vat waar sy geval het. Met die kleintjie op die heup is hulle soontoe. Sy het vir die kind gesê die grond het baie seerder gekry, omdat daar ’n duik in die grond was. Die kind het met groot oë na die gat in die grond gekyk en ophou huil. Dit was omgekeerde sielkunde op sy beste. Dit is ook net ’n ma wat so iets kan uitdink. As ons grootmense se seer ook maar net so maklik kan verdwyn.

Kleintjies het ook geen vrees om enigiets in hulle monde te druk nie. As jy jou rug draai, sit hulle met hande vol sand en is besig om heerlik daaraan te smul – veral nat sand. Moet nie van blare en hondekos vergeet nie.

Ek kyk na die volwassenes en wonder wanneer het ons avontuurlus met kos en aktiwiteite verdwyn. Die een man het pofadders op die kole gebraai en verbasend was daar talle mense wat dit nie geken het nie. Hulle het volstrek geweier om hulle monde daaraan te sit toe hulle hoor waarvan pofadders gemaak is. Hulle is almal Namibiërs en ek is seker hulle het ook in hul kinderjare aan sand en modder gesmul.

Dit is ’n jammerte dat ons die wonder van kindwees verloor soos ons ouer raak. Dink net hoe wonderlik dit moet wees om die wêreld deur ’n kind se oë te sien en ontdek; om vreesloos op voorwerpe te klim en te verken; om goed in jou mond te druk sonder om twee keer te dink; om te glo dat wanneer mamma die seer soen, gryp en wegblaas dit regtig weg is en die lewe gaan aan.

Nou is ons groot en bang vir alles, ons is vol strooi wanneer dit by kos kom, ons wil nie eens iets nuuts proe nie, want ons het klaar besluit ons hou nie daarvan nie.

Die gemeenskap vereis dat jy jouself volgens jou ouderdom gedra, maar hier sit ek my voet neer. Ek weier om elke dag bang te wees om te lewe. Ek het die naweek besluit – ek gaan bungee jumping en slang proe probeer – niks gaan my keer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!