Wonderboom dalk ’n wonderoplossing

Usakos se Johan Bean werk steeds om sy boerdery meer vaartbelyn en kostedoeltreffend te maak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

‘n Fokus op meerlinge, die besnoeiing van voerkoste en seleksie vir die beste groeiers – dis hoe die bekende Usakos-boer Johan Bean sy boerdery tans verder vaartbelyn maak.

Deel van die antwoord is dalk die wonderboom (Leucaena leucocephala), waarvan die voedingswaarde met dié van lusern vergelyk word. Boonop groei die boom 3 m per jaar en herstel dit baie vinnig nadat dit bewei is. Dit gebruik ook sowat 2 liter water per week, het Johan aan Agri Monitor verduidelik.

Johan, wat plaaslik bekend geraak het as ‘n kenner van intensiewe skaapboerdery onder droë, Namibiese toestande, het reeds baanbrekerswerk met intensiewe skaap- en groenvoerboerdery gedoen.

Tot dusver kon hy bewys 'n mens kan suksesvol en winsgewend op ‘n baie klein stukkie grond in uiters droë omstandighede boer. Hy boer self met sowat 400 skape op 5 hektaar grond en onderhou hulle hoofsaaklik uit ‘n groenvoereenheid.

Nou is hy besig met navorsing om sy stelsel nog meer te verfyn. “Die plan is om met minder diere meer te kan produseer,” verduidelik hy.

WONDERBOOM

Johan het intussen saam met plaaslike navorsers van die Universiteit van Namibië (Unam) gewerk om te kyk of kleinvee se koste binne ‘n intensiewe boerdery verder verminder kan word deur byvoorbeeld wonderboom-blare as ruvoer te bied.

Hy sê hy hou sy wonderbome 1,5 meter hoog en snoei dit indien dit hoër raak. Dit wat afgesny word, word gemaal en as ruvoer aan sy kleinvee gegee. Hy sê in ‘n kamp van sowat 50 m by 10 m kan jy 200 boompies plant, waarop jy 25 skape kan aanhou.

“Dit halfveer bykans my voerkoste. Waar dit sowat N$2 per dag gekos het om een dier te voer, kos dit nou N$1,25.

“Jy kan dit ook vir jou kleinvee gee as dit nog groen is, die diere blaas nie daarvan op nie.”

Johan sê volgens Unam se navorsing vreet vee wat van die wonderboom eet, nie juis lek nie. Dit blyk die rede is dat die wonderboom al die nodige voedingstowwe bevat.

“Die universiteit het monsters van my wonderboom-plante gevat en is besig om dit in hul laboratorium te ontleed. Ons behoort vroeg volgende jaar meer antwoorde te hê,” het hy gesê.

Johan het voorheen, toe die droogte erg geknel het, boskos van prosopisbome gemaak en aan sy kleinvee as ruvoer gevoer. Hy meen egter dat prosopis ‘n vreemde smaak en reuk aan die skape se vleis gee – iets wat wonderbome glad nie doen nie.

Hy sê wonderbome behoort nie te vervuil as jy dit binne ‘n kamp plant waar kleinvee intensief daaraan vreet nie. “In so ‘n kamp is dit maklik om te beheer, boonop eet jou vee al die klein wonderboom-plantjies wat opkom.

“Nog ‘n positiewe impak van kleinvee wat wonderboom-blare eet, is dat ooie se melk verdubbel, wat tot verbeterde groei onder hul lammers lei.”

Johan sê oor gerugte dat vee wat aan wonderbome eet se hare uitval, hy nog nie so ‘n geval gehad het nie. Hy meen dit kan teengewerk word deur jou vee 50% gewone voer ook te gee.

MEERLINGE

Johan sê hy is ook besig met navorsing sodat ooie meer tweelinge moet produseer. “Die idee is om so veel vleis as moontlik per vierkante meter te produseer. Tweelinge halfveer jou koste.

“Ons het gevind wanneer ‘n ram net sowat tien ooie per keer kry om te dek, daar 60% meer tweelinge voorkom. Ons gee ook prikkelvoeding vir die ooie voor paring,” het hy verduidelik.

Johan weet dadelik as ‘n ram ‘n ooi gedek het. Hy smeer ‘n kleursel aan die ram se bors en indien hy ‘n ooi gedek het, sit die kleursel op die ooi se rug.

Deur streng beheer toe te pas, kan hy ook vasstel hoe lank ramme vat om ooie te dek – watter ramme drie dae neem en watter twee weke – en die swakstes uitskot.

So kan hy ook dophou watter ooie oorslaan. Hy gee elke ooi drie kanse en indien sy nie dragtig raak nie, raak hy ook van haar ontslae. “So maak jy seker jou stelsel het nie onnodige passasiers nie,” het hy verduidelik.

Johan hou ook die groei van lammers fyn dop om die bestes te kan kies. Oor die algemeen kry hy dit reg dat ‘n lam op vier maande sowat 40 kg weeg. Sommige lammers weeg op dié ouderdom selfs 43 tot 45 kg.

Johan kan by 081 200 4944 gekontak word. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!