• Tuisblad
  • Sake
  • Woolies: Ja, ons produkte kom van daai fabriek
Woolies: Ja, ons produkte kom van daai fabriek
Woolies: Ja, ons produkte kom van daai fabriek

Woolies: Ja, ons produkte kom van daai fabriek

As voorsorgmaatreël teen listeriose het Woolworths sommige produkte met sy eie handelsmerk aan die mark onttrek.
Vida Booysen



Sommige van Woolworths se handelsnaam-kouevleis word by die Enterprise-fabriek in Polokwane geproduseer.

Dit is waarom dié winkelgroep Sondag sy eie produkte aan die mark onttrek het.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het dié fabriek Sondag as die bron van die huidige uitbreking van listeriose geïdentifiseer.

“Enterprise produseer 'n beperkte reeks produkte vir Woolworths by die betrokke fabriek,” het 'n woordvoerder van Woolworths Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

“Ons het 'n gebied in die fabriek wat spesifiek vir die vervaardiging van Woolworths-produkte toegewys is en daar word van hulle verwag om aan ons internasionale gehalte- en veiligheidsertifiseringstelsel (HACCP) te voldoen, wat verskeie veiligheids- en gehaltetoetse insluit.”

Volgens die woordvoerder word Woolworths se gereed-om-te-eet-produkte in dié spesifieke produksie­gebied gesny en verpak.



produkte herroep

“In ooreenstemming met die departe­ment van gesondheid se vereistes moes ons alle produkte afkomstig van die fabriek herroep.”

In sy aanvanklike verklaring het Woolworths 'n lys van sy eie produkte gegee wat klante moet terugbesorg, maar nie spesifiek genoem dat dié produkte by die Polokwane-fabriek geproduseer word nie.

Hy het bloot gesê die produkte word as 'n “bykomende veiligheidsmaat­reël” herroep. Die onttrekking van die Woolworths-produkte sluit verskeie soorte verwerkte kouevleis in, onder meer gerookte hoender, ham, Weense worsies en salami-stokkies.

Hierna het verskeie ander winkelgroepe, onder meer Spar en ­Shoprite, vinnig verklarings uitgereik waarin hulle beklemtoon het dat verwerkte kouevleisprodukte onder hul eie handelsnaam nie deur die onttrekkings geraak word nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer