• Tuisblad
  • Sake
  • Woolies: Só gaan coronavirus klere op rakke raak
Woolies: Su00f3 gaan coronavirus klere op rakke raak
Woolies: Su00f3 gaan coronavirus klere op rakke raak

Woolies: Só gaan coronavirus klere op rakke raak

Nellie Brand-Jonker – Gaan Covid-19, die dodelike coronavirusstam, klere op winkelrakke in Suid-Afrika laat opdroog?

Ian Moir, uittredende uitvoerende hoof van Woolworths, glo daar gaan ’n impak wees.

Baie van Woolworths en ander Suid-Afrikaanse klerekleinhandelaars se voorraad word van China ingevoer.

Hy het Donderdag op ’n aanbieding van Woolworths se resultate vir die halfjaar tot einde Desember ges die virus gaan die meeste markte en klerewinkelgroepe raak.

“Dit is moeilik om te weet hoeveel aankope en voorraad daardeur geraak gaan word. Ons inligting is dat net sowat 50% van Chinese klerefabrieke oop is; en van dié wat oop is, is omtrent nog net die helfte van hul personeel terug by die werk.

“Ons glo dit gaan minstens ’n maand se vertraging in bestellings veroorsaak, maar dit kan selfs langer wees.

“Ons probeer die risiko’s identifiseer en versag. As ons duideliker inligting daaroor het, sal ons dit met die mark deel.”

Ontleders wou ook weet of Woolworths keer dat sy aankopers na China reis.

Moir het gesê die beleid oor reis is verander, want personeel se veiligheid kom eerste. “Niemand gaan in China in nie. Ons kyk ook na gebiede wat meer risiko het en ons het ’n verstandige benadering daaroor.”

Sukkel met die aanbod van vroueklere

Dié nuwe kopseer kom nadat Woolworths se klereverkope in Suid-Afrika in die afgelope halfjaar weer teleurgestel het, veral vroueklere. Daar was nie voldoende deelname aan Swart Vrydag ten opsigte van watter klere op promosie gesit is en hoeveel afslag gegee is nie. Hy sê dit was ’n “strategiese fout wat nie weer gemaak sal word” nie.

Woolworths het ook weer die pot misgesit met die ontwerp van sy vroueklere, asook die prys daarvan. Volgens Moir het hulle byvoorbeeld ná Swart Vrydag “vir diegene wat nog geld oorgehad het en nuwe klere gesoek het, nie genoeg vars somerklere op die rakke gehad nie”.

Klereverkope in Suid-Afrika het, op grond van aangepaste syfers vir die ekstra week in die halfjaar, met net 0,9% gestyg.

Pryse het met gemiddeld 4% gestyg. Dit het die volumes wat verkoop is, benadeel.

Die bedryfswins het met amper 9% tot R834 miljoen gedaal nadat die bedryfskoste skerper as verkope gestyg het.

Moir het gesê die klerewinkels het markaandeel verloor.

Dié probleem moet met die regte pryse opgelos word.

Woolworths verwag sy pryse in klerewinkels (wat ook skoonheidsprodukte en huisware insluit) gaan in die tweede helfte van die boekjaar met 5,7% styg.

Ontleders wou weet wat hy gaan doen om dit in toom te hou in die lig daarvan dat van sy mededingers geen of baie lae prysstygings het.

Moir het erken dié styging is hoog en het gesê die bestuur kyk na pryse van vroue- en mansklere.

“Ons kyk daarna om ons winterreekse te herprys sodat dit meer mededingend is en vorentoe gaan ons seker maak dat die balans van die reeks meer na die goedkoper kant verskuif.

“Die span is baie, baie gefokus op prys, hulle besef hulle moet dit regkry.”

Die teleurstellende vertoning kom nadat die groep wel een kwartaal lank sy klere-aanbod reggekry het nadat hy reeds in die vorige boekjaar daarmee gesukkel het.

Woolworths se Suid-Afrikaanse klerewinkels kry ’n nuwe besturende direkteur wanneer Manie Maritz, wat van The Foschini Group (TFG) af kom, hom in Junie by Woolworths aansluit.

Die getal klerewinkels gaan einde Junie 2022 van 282 tot 272 verminder word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!