Woudreuse tuimel vir China

Vrese bestaan in die Kavango-streke dat die moontlik onvolhoubare oeswerk in Namibiese woude meer winsgewend vir bestaansboere as tradisionele landbou is.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Soos in die Zambezistreek gaan stemme ook in veral Kavango-Wes op teen die grootskaalse oes van hout deur Chinese kontrakteurs.

‘n Ondersoek in die geraakte gebied het getoon die kosbare woudreuse tuimel met die goedkeuring van owerhede.

Chinese kontrakteurs beweer hulle doen die plaaslike gemeenskap ‘n guns deur grond vir produktiewe landbou skoon te maak.

Teen die begin van die maand, op 2 November, is 161 permitte vir die oes van hout aan boere in die Kavango-Wes-streek toegestaan. Elke aansoek is toegestaan.

Kiaat- en rooshout word geoes.

Kommer heers dat Namibië nie ‘n regverdige deel van die inkomste uit die oeste ontvang nie.

Die ministerie ontvang N$100 per aansoek. Hiervan is N$60 vir die oespermit en N$20 elk vir vervoer- en bemarkingspermitte.

‘n Boer werf ‘n “belegger” om die bome af te kap. Hulle kom op ‘n prys ooreen, wat gewoonlik tussen N$300 en N$450 wissel, afhangende van die afstand tussen die boom en ‘n teerpad.

Bronne beweer die hout word op Walvisbaai aan ‘n Chinese koper gelewer, wat ongeveer N$12 000 per kubieke meter betaal.

Vir 600 bome behels die plaaslike inkomste dus tussen N$180 000 en N$270 000, terwyl die “belegger” meer as N$3 miljoen kan verdien.

“Waar is die verhouding?” het ‘n ontstoke plaaslike getuie gevra. “Hoekom sorg die regering nie dat die regte voordeel plaaslik hieruit verkry word nie?”

TOELAATBARE KWOTAS

Volgens die permanente sekretaris van landbou, water en bosbou, mnr. Percy Misika, is permitte toegestaan op grond van berekende, toelaatbare getalle bome van sekere spesies wat geoes mag word.

Volgens die ministerie se kantoor op Rundu is 130 oespermitte uitgereik vir ‘n maksimum van 600 bome per spesie. Amptenare by dié kantoor sê die kwotas word net elke vyf jaar toegeken.

Op Nkurenkuru het ‘n amptenaar gesê slegs twee permitte is tot dusver vir Kavongo-Oos uitgereik.

Die oestyd strek volgens amptenare oor drie maande, maar besorgdes beweer bome word voortdurend afgekap en bevorder ontbossing.

Bestaansboere het huurpagkontrakte van 99 jaar en het volgens die ministerie die reg om hul grond as eienaars vir boerdery te ontwikkel. Bewyse van landbou-ontwikkeling was egter moeilik om in die gebied te bespeur.

Die afkap van bome is volgens sekere inwoners ‘n meer doeltreffende metode om grond skoon te maak as die tradisie om grond skoon te brand. Ander voel dit is ‘n onvolhoubare slopingsproses wat ‘n beter inkomste as ernstige boerdery bied.

“Alle boere is haastig om oespermitte te kry, as gevolg van die swak ekonomie en die sluiting van Meatco. Hulle kan nie hul beeste verkoop nie en nou wil hulle ‘n inkomste uit die bome verdien,” het een waarnemer gesê.

ONTBOSSING

Bosbou-owerhede is egter nie te bekommerd oor ontbossing nie.

“Ons dun bepaalde bome uit; ons is nie besig om die bos uit te roei nie. Die natuurlike plantegroei sal vanself teruggroei; dit is hoekom ons toelaatbare oeste toelaat,” het ‘n amptenaar gesê.

Volgens Misika is sy ministerie se rol om die gepaste gebruik van permitte te reguleer.

“Hy/sy (die boer) het die reg om hierdie produkte te verkoop volgens die markwaarde en aanvraag.”

Die ministerie wil nie aktief by houthandel betrokke raak nie en beskou sy taak as een van toesig hou. Inspeksies om onwettige en oortollige oesting te voorkom, word weens begrotingsperke nie meer gereeld gedoen nie. Voorheen het inspeksies twee keer per week plaasgevind.

HOPE HOUTSTOMPE

‘n Lugfoto van die Ncute-gebied wys nie grootskaalse ontbossing nie, maar op voetsoolvlak is die handel in hout duidelik sigbaar. Houthope langs die nasionale paaie groei en groot vragmotors, volgepak met stompe, word gereeld gesien.

‘n Amptenaar het ontken van die hope houtstompe langs die pad tussen Mpungu en Okongo is te klein om geoes te word. Volgens hom word kleiner snitte hout van groot bome se takke afgekap.

Daar was nie eenstemmigheid oor die regte oesgrootte nie. Volgens die Nkurenkuru-bosboukantoor is die toelaatbare grootte 55 cm in deursnee. Die Rundu-kantoor het gesê dit is 45 cm. ‘n Chinese kontrakteur op Nkurenkuru het gesê dit is 42 cm.

Volgens hom sal hulle nie klein bome afkap nie, want dit is nie winsgewend nie. Die kontrakteur het gesê ‘n hoop hout is langs die pad gelaat weens dalende pryse in China.

Die onderneming het ‘n basiese aanleg op Nkurenkuru waar geoeste bome tot houtblokke en planke verwerk word. Die kontrakteur het gesê tussen 70% en 80% van die hout word via Walvisbaai na China uitgevoer. Die res word volgens hom plaaslik of in Suid-Afrika verkoop.

Hy het aangevoer die besigheid is 100% wettig weens die permitte en koopprys.

“Die plaaslike boer verdien ‘n inkomste waarmee hy vir die ontwikkeling van sy plaas kan betaal. Ons oes die hout, ons betaal hom, en hy kon sonpanele opsit, ‘n nuwe huis bou en nuwe grensdrade span. Die besigheid is nie ‘n eenrigtingstraat nie,” het die Chinees gesê.

Die boer, mnr. Fillipus Shikwambi, ‘n onderwyser by ‘n laerskool op Rundu, het gesê hy het genoeg geld verdien vir die nuwe infrastruktuur op sy plaas en hy kon genoeg grond vir boerdery skoonmaak.

BOOMBEGRAAFPLASE

Oos van Rundu, in die bewoude gebied rondom Mbambi, word hout volgens ‘n inwoner in kolle elke 500 m tot 1 km met kettingsae geoes.

Op een plek is groot hope bruikbare hout agtergelaat, soos in ‘n “boombegraafplaas”.

Langs ‘n sanderige tweespoorpad is baie kiaat- en dolfhout (“uhuua” in die plaaslike dialek) tot teenaan die wortels afgekap, maar die bome is agtergelaat, vermoedelik as gevolg van die daling in houtpryse in China en ‘n gebrek aan belangstelling in die oes.

Dít is egter volgens ‘n bosbou-amptenaar op Rundu hoe kappers hul eiendomme “merk” voordat hulle verder werk.

SLUIERS DIG

Ondanks goedkeuring vir die oes wil slopers en vervoerders so ver moontlik uit die openbare oog bly.

Inwoners beweer hout word laataand weggery. “Beleggers” weier om hul name of die name van hul maatskappye bekend te maak.

Vragmotorbestuurders verjaag enigiemand wat nuuskierig genoeg is om oor hoë heinings te loer en bedek hout met seile.

Die oortollige en onwettige oes van hout is volgens owerhede op Rundu seldsaam.

Amptenare erken die uitreik van oespermitte het dalk “‘n blik wurms oopgemaak”, al word dit vir ‘n goeie doel gedoen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!