Wéér in die kollig

Lloyd Zandberg
Die oomblik het aangebreek: Die einde van die jaar is hier en almal begin regmaak vir die Kersseisoen. Kollig gaan ook vir ’n wyle asem skep voor die nuwe jaar afskop. Ons het vanjaar met maar ’n breukdeel van Namibië se talentvolste kunstenaars, musikante en persoonlikhede gesels. Ons het ook bekende besoekende Suid-Afrikaners aan julle voorgestel. Met ons tweede laaste uitgawe van die jaar het ons nogmaals aan ons voorbladgesigte se deure gaan klop om te hoor wat hul Kersgedagtes is:

1 – Wat wil jy nog doen of bereik voor die jaar verby is?

2 – Wat is die aakligtse Kersgeskenk wat jy al gekry het?

Heidi Louw: Namibië se eie Frida Kahlo

Heidi is nie iemand wat baie praat nie, maar sê graag ja wanneer Kollig wil gesels. In Maart het Heidi ons meer oor haar kuns, haar liefde vir skilder en vir vryheid met ons gedeel. Heidi herinner sterk aan Frida Kahlo omdat beide oor hul lewenservarings skilder. Kwashale, kleur en tekstiel doen die praatwerk. Volgens haar is sy nie baie sentimenteel oor haar werk nie, en die proses eerder as die eindproduk verskaf haar plesier. Heidi woon steeds op Swakopmund en haar werk word gereeld uitgestal in Namibië se topgalerye.

1 – Ons wil die eco container-huis klaar bou.

2 – ’n Resepteboek van my skoonma: 50 Ways With Chicken.

Elize van Huyssteen: Kuns se beskermengel

In April vanjaar het ons by Elize van Huyssteen in Windhoek gaan aanklop. Sy is die Namibiese Kunsvereniging (NAA) se bekende kunskurator en Namibiese erfeniskuns se beskermengel. Sy sê sy hou daarvan om ou goed reg te maak en dit in ’n nuwe konteks te plaas. Haar waardering vir mooi handewerk is groot en volgens Elize is die bewaring van ons erfeniskuns van kardinale belang vir ons land se geskiedenis. Sy het ons geleer dat kuns kritiese denke kan stimuleer en bevorder.

1 – Ek wil my lessenaar opruim en hopelik op iets waardevol afkom.

2 – Vir die soveelste keer ’n horlosie - nadat ek ál die ander verloor het.

Dylan Lackey: Een van Swakopmund se soutwatersibbes

In April het ons by Damien en Dylan Lackey gekuier. Dié tweeling is gebore Swakopmunders en is surfers. Op die ouderdom van een-en-’n-bietjie het hulle hul tasse gepak en op ’n seiljag in die Karibiese Eilande gaan seil met hul gesin. Op die ouderdom van ses het hulle eers na Namibië teruggekeer en tot vandag toe is hulle feitlik elke dag in die water. Damien sê sy grootste prestasie was die dag toe hy in Japan sy swart gordel in karate verwerf het. Damien deel met Kollig dat familie, honde, katte en branders hom die gelukkigste maak. Die sibbes is tans in Suid-Afrika waar hulle die Kaapse branders aandurf.

1 – Ek wil leer om dankbaarder te wees vir wat die lewe my bied.

2 – Enige geskenk word altyd waardeer.

Damien Lackey: Die ander soutwatersibbe van Swakopmund

1 – Ek verbind nooit tyd met doelwitte nie. Ek probeer eerder elke dag my beste gee. Al wat ek hierdie jaar nog werklik wil doen, is om elke dag in die water te probeer wees. Ek wil net surf.

2 – Ek het een jaar ’n belaglike stel onderbroeke gekry. Maar ek is altyd dankbaar vir enigiets wat ek kry, maak nie saak wat dit is nie.

Schalk Bezuidenhout oor dáái hofsaak

Schalk Bezuidenhout is die uiters gewilde Suid-Afrikaanse komediant en akteur en het vanjaar met sy eenmanvertoning, Voksbesit, ’n draai n Namibië kom maak. Kollig het in November met Schalk gesels. Hy sê sy grappe is gebaseer op lewenservaringe en ongewone situasies wat hy beleef. Afgesien van Schalk se briljante vermoë om mense te vermaak, kan hy, volgens homself, ook baie lekker vry. Kollig is opgewonde dat Schalk in 2018 vir nog vertonings na Namibië sal terugkeer.

1 - Voor die einde van die jaar sal ek regtig die gym wil klap, sterk word, en die strongman-kompetisie wen. Ek het bietjie meer as ’n maand oor. Ek dink ek kan dit doen.

2 – ’n Meisie het my een keer met Kersfees gelos. Dit was seker ’n blessing in disguise, want ek het vergeet om vir haar ’n geskenk te koop. Noudat ek daaraan dink, kan dit ook die rede wees waarom sy my gelos het.

Kelly Macnab verf met naalde

In Oktober het Kollig by Kelly Macnab ’n draai gaan gooi. Kelly is ’n gebore Suid-Afrikaner wat vir haarself naam gemaak het in plaaslike tatoekringe. Afgesien van die feit dat sy ’n ongelooflike kunstenaar is, is sy ook ’n wonderlike mens. Haar goedgesindheid teenoor ander mense was tasbaar tydens ons onderhoud. Met min of meer 300 tatoes op haar kerfstof gaan Kelly nog baie bereik met haar kuns. Volgens haar is kuns, net soos “regte” musiek, die laaste bietjie magic wat die wêreld nog oorhet.

1 – Ek wil my kreatiewe grense verskuif. Ek streef altyd daarna.

2 – Ek het deodorant gekry, een van daai stick-goed.

Evlis Blue: Hart vir kinders, kelners en kitare

Tydens Elvis Blue se Nambiese toer het ons met die man agter die mooi Afrikaanse lirieke gesels. In Augustus het Elvis met verskeie uitverkoopte shows in Namibië gespog. Hy sê die grootste aantrekkingskrag van Namibië vir hom is die magdom spasie en die mense. Die spasie hou vir hom ’n soort bekoring in wat hom inspireer. Wanneer Elvis nuwe musiek maak, begin hy gewoonlik met lirieke en die instrumente word later bygevoeg. Hy verkies om in Afrikaans te sing, want Afrikaans is sy moedetaal en hy dink en droom daarin.

1 - Ek wil nog soveel moontlike optredes voor die einde van die jaar inpas.

2 – Sokkies, en ek het nie van dié sokkies gehou nie.

Andeline Wieland vat vlam!

Andeline Wieland, ’n gebore Namibiër, het vanjaar in Julie die Mej. Vasteland-kompetisie gewen en Kollig het net ná die groot prestasie met haar gesels. Andeline sê dit het haar lewe verander en sy wil haar posisie gebruik om ander mense se lewens beter te maak. Sy is mal daaroor as mense moeite doen en jaloesie ontstel haar.

1 – Hierdie jaar was vol groot prestasies soos die Mej. Vasteland-kompetisie en om my Honneurs-graad te voltooi. Voor hierdie jaar eindig wil ek graag hoor dat ek wel my graad gevang het en ek is opgewonde om bietjie stoom af te blaas in Namibië hierdie vakansie.

2 – Sjoe! Ek kom eintlik van ’n familie met great smaak in geskenke, maar die ergste geskenk moet maar die parfuum wees wat my pa vir my drie jaar gelede gekoop het. Dit was veels te soet en ek was toe ook allergies daarvoor.

Andra: Ek voel klank

Presies in die middel van Oktober was Andra in Namibië vir die bekendstelling van haar nuuste album, A Sound or Something More. Sy kan as die Janis Joplin van Namibië beskou word omdat haar stem so uniek is. Sy verwys na die belangrikste mense in haar lewe as haar “tribe” en indien sy eendag ’n biografie moet skryf, sal sy dit I am a ghost noem. Elke keer as sy haar kitaar optel, los sy ’n stukkie van haar hart op die verhoog.

1 - Ek is baie lucky dat ek net-net voor die einde van die jaar my nuwe album bekend gestel het. Dit was nogal ’n big one vir my. So, ek is tevrede met 2017 se doelwitte en wense. Nou wil ek net by my familie in Swakop uitkom en die see gaan inasem. En die maksimum fairy lights opsit waar ek ookal is.

2 – ’n Porselein teepotjie.

Vaughn Ahrens: Verslaaf aan klank

Vaughn Ahrens het vanjaar in Maart met Kollig gesels kort voor hy wegholsukses in die Namibiese musiekbedryf behaal het. Sy debuutliedjie, “In The Clear”, het die topvyfposisie op Namibië se iTunes bereik. Vaughn sê hy kan nie sonder sy familie, musiek, God, ystee en sy meisie leef nie. Sedert die ouderdom van 11 het sy belangstelling in musiek hom gedwing om sy passie vir klank uit te leef. Ahrens het Kollig opnuut laat besef enigiets is moontlik met passie.

1 – Ek is tans besig met die reëlings vir die bekendstelling van my eerste kortspeler. Ons werk ook aan my eerste musiekvideo.

2 - Ek dink nie ek het al ’n slegte geskenk gekry nie. Die slegste geskenk wat jy kan gee, is die verwagting van iets groots. Mens moet die klein goedjies waardeer.

Sanet Prinsloo: Kosmaakgodin

Sanet Prinsloo is die Namibian Chefs Association se president. Sy's ook die ma van drie seuns en die gesig van Checkers se Boereworskompetisie. Sanet het in Mei vanjaar haar houding teenoor die lewe en haar passie vir kos en mense met die Kollig gedeel. Volgens Sanet is sy ’n gelukkige mens omdat sy van haar mense, honde en kos hou. Die onderhoud met Sanet was baie dinge, maar vervelig was dit nie. Haar entoesiasme, lewenslus, wêreldkennis en manier van reguit praat, maak van haar ’n ware Nambiese ikoon.

1 – Ek moet nog tonne Kerfeeskoekies bak.

2 – Ek hoop ek kry nie nog ’n coir hair-deurmatjie nie.

Annabelle Venter: Iets uit niks

Vroeg in Junie vanjaar het Kollig by Annabelle Venter ’n draai gaan maak. Venter is ’n keramiekkunstenaar, fotograaf en babavanger. Dit is baie moeilik om haar in ‘n boksie te druk. Annabelle beskou haar werk soms as té perfek en probeer dikwels om ’n meer organiese gevoel te skep. Sy is tans besig om haar debuutboek te skryf. Venter sê sy wil haar kuns gebruik om plekke te verewig voordat daar niks daarvan oorbly nie. Haar man, Bertie, is haar beste vriend en sy kan haar lewe nie sonder hom indink nie.

1 – Ek wil nog ’n paar wild-beeldhouwerke doen, aan my webtuiste werk, artikels skryf, nog ’n hoofstuk van my boek skryf en foto’s redigeer. Hierdie lys maak my moeg.

2 – Ek kan nie onthou dat ek iets gekry het wat my hewig ontstel het nie.

Linda Louw: ’n Kop sonder clutter

Linda Louw is die bekende fotograaf en filmmaker wat op Swakopmund woon. Kollig het in April besoek aan die kus afgelê en ’n glasie wyn met Linda geniet. Sy het haar eerste kamera op die ouderdom van 12 gekry en van daardie dag af is haar liefde vir fotografie en film gevestig. Linda sê mens moet nooit alles te persoonlik opneem nie, maar liewer eerlik in jou skeppingsvermoë bly. Haar foto’s word deur haar reise en ander lewensraaisels beïnvloed.

1 – Ek wil my blikkieskos- en papvoorraad aanvul voor die groot migrasie na die kus begin. Ek wil wegbly van al die paaie wat na Swakopmund lei en ’n maand lank hiberneer met goeie boeke, musiek en flieks. Alles in die wete dat die hype ook verby sal gaan.

2 – Elke geskenk is welkom en word waardeer. Maak nie saak hoe groot of hoe klein dit mag wees nie. Vriendelikheid teenoor ander, opregte gesprekke en drukkies is prysloos.

Ollie Reissner: Van hare tot snare

Kollig het in Maart hierdie interessante man by sy huis in Klein Windhoek ontmoet. Ollie verwys na homself as ’n musikale barbier. Albei passies stimuleer hom op verskillende maniere. Hy het in 2015 ’n barbierskursus voltooi en sedertdien is sy hande vol en sy dagboek loop oor van die afsprake. Ollie is vol talent en in die kort tydjie saam kon Kollig deel word van hierdie man se bedrywige skedule.

1 – Ek wil al die volwasse dinge soos besigheids-admin voor die vakansie begin afhandel, sodat my vakansie ’n regte vakansie kan wees.

2 – Mense glo my nie, maar ek het al airtime en Sunlight Liquid gekry. Régtig?

Erna Muller: Storiefabriek

Kollig het in Junie by die Namibiese jeugverhaalskrywer, Erna Muller, in Windhoek gekuier. Erna het al van baie kleins af ’n liefde vir die vertel van stories gehad en haar skryfwerk word deur mense, goeie musiek en ander boeke geïnspireer. Haar gunstelingskrywer is Roald Dahl. Sy het al 13 boeke gepubliseer en sê sy skryf omdat sy ’n bydrae wil lewer op ’n gebied waar sy dit die beste kan doen. Erna het die vermoë om iets eenvoudig baie anders te sê en haar gebruik van properse Afrikaans is bekoorlik.

1 - Ek wil ’n lysie maak van al die dinge wat ek nog hierdie jaar wou doen en waarby ek nie uitgekom het nie, en boaan die lysie skryf: 2018. Dan maak ek ’n kortlys van daardie lysie: Ek trek die helfte van die dinge wat ek weet ek ook nie volgende jaar gaan by uitkom nie, dood. Van daardie kortlys word ’n finale kortlys gemaak. ’n Finale kortlys mag nie meer as drie goed op hê nie, anders is dit nie ’n kortlys nie. Dan gooi ek my glas rooiwyn vol en sit tevrede agteroor. Klaar vir die jaar.

2 - My slegste Kersgeskenk was toe my voortand in die middel breek in Windhoek twee dae voor ons familie-Kersfees in die Kaap - en my tandarts en sy kollegas het almal al by die viswaters gerus.

Lloyd Zandberg: Midas-hofnar

Kollig het in Junie met Lloyd Zandberg gesels. Lloyd het vanjaar sy debuutbundel komiese sketse, Per Ongeluk, bekend gestel en verskeie optredes dwarsoor die land en in Suid-Afrika gedoen. Lloyd hou sy lyf sjef, musikant, komediant en skrywer. Hy sê hy is sy eie held en wou ’n prostituut in sy vorige lewe wees, maar “iewers nice, soos in Praag of Bucharest”. Hy probeer die mooi en snaaks in alles sien en sy grootste dryfkrag is om mense beter te laat voel. Dan voel hy beter.

1 – Ek is tans besig met die skryf van my tweede reeks sketse. Ek is ook besig met repetisies vir my eenmanvertoning waarmee ek volgende jaar landswyd en in Suid-Afrika gaan toer. Ek wil bitter graag vir ’n foot massage gaan voor hierdie jaar kalf. My hakke lyk soos beskuit. En dit ontstel mense. Ten minste voel ek niks as ek in die duwweltjies van die lewe trap nie.

2 – ’n Dieetplan van my lover in daai stadium. Ek moes vir ’n maand net eiers eet. Ons praat nie meer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!