Wrang smaak nu00e1 rede van hoop
Wrang smaak nu00e1 rede van hoop

Wrang smaak ná rede van hoop

Die staatshoof het sy kommer uitgespreek oor die “angswekkende” voorkoms van Covid-19 in skole.
Augetto Graig
Augetto Graig President Hage Geingob se 2021-staatsrede was gister ’n boodskap van hoop, ’n beroep op veerkragtigheid en die voortsetting vir ’n plan van aksie gegrond op innoverende ekonomiese ontwikkeling wat op werkskepping gerig is.
Ten spyte van pogings van parlementslede van die regerende en opposisiepartye om dit te verhoed, het sake nogtans teen die einde in ’n stryery en strooiery van geskeurde papiere in die parlement ontaard. Die Speaker, mnr. Peter Katjavivi, moes die LPM-leiers mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb versoek om die Nasionale Vergadering te verlaat, nadat hulle die vraag-en-antwoordsessie ontwrig het.
Geingob het die hoop dat Namibië sy stryd teen Covid-19 kan wen, prominent in sy toespraak beklemtoon.
“Deur ons gesamentlike aksie kon ons dit regkry om ’n gesondheidskrisis in hierdie land af te weer,” sê hy.
Volgens die president het die regering deursigtig gebly en regulasies in die beste belang van alle Namibiërs toegepas.
Die meerderheid van die nasie het hul gedrag aangepas en die regulasies gerespekteer, sê hy.
Spesifiek oor inenting sê Geingob dat Namibië as deel van die Covaxvennootskap 20 000 dosisse Astra- Zeneca sal ontvang.
Sedert die aanvang van die eerste fase van nasionale inenting is 3 282 mense ingeënt. Hy sê 46 051 Namibiërs is sedert die bevestiging van die virus in Namibië positief getoets, van wie meer as 44 000 herstel het en 1 286 steeds met die siekte worstel.
“Die ontwikkelde wêreld ent hulle eie burgers in en Afrika is vir hulle ’n nagedagte,” het hy gesê.
Volgens Geingob is dit Indië en China wat onderskeidelik 30 000 en 100 000 dosisse aan Namibië geskenk het, waarna die land met nasionale inenting afgeskop het. “Hulle het tot ons redding gekom en verpersoonlik vriendskap met Afrika.”
Geingob het beklemtoon inenting is vrywillig, sonder dwang en sonder geweld.
“Nogtans vra ek dat almal asseblief deelneem, vir jul eie beswil.”
Die staatshoof is bekommerd oor die hoë infeksiekoers tussen skoolleerders, onderwysers en gesondheidswerkers. “Die syfers is angswekkend.”
Nogtans sê hy is Namibië derde op die vasteland, ná Suid-Afrika en Marokko, in terme van die getalle mense getoets in vergelyking met die bevolking.
WELVAARTSPLAN TWEE
Die impak van Covid-19 op die Namibiese ekonomie dreig om vordering van maatskaplike ontwikkeling te ondermyn, sê hy. Deur sy Harambee Welvaartsplan Twee (HPP2) wil Geingob ekonomiese herstel op ’n grondslag van nuwe tegnologie en omgewingsbeskermende ontwikkeling bevorder.
Spesifiek sal N$27 miljard oor die vier jaar van dié plan toepassing op die verbetering van landbouopbrengs bestee word.
Lüderitz is deur Geingob uitgesonder as strategies geleë vir Namibië se aanvaarding van ’n blou en groen ekonomie.
Geingob noem ses aanbiedinge om groen waterstof as ’n nywerheid daar te vestig – insluitend uit Australië, België en Nederland – met beleggingswaardes van tussen N$32 miljard en N$150 miljard.
Hierdie bedryf kan tot 42 000 werksgeleenthede skep, sê hy.
Nog ’n nuwe voorstel is om ’n seewierbos van 70 000 hektaar onder die seewaters langs Lüderitz vir uitvoer te kweek, wat 400 werksgeleenthede kan skep.
Geingob wil ook ’n taakspan saamstel om wetgewing te verander sodat besighede teen bankrotskap en werksverliese beskerm kan word. Hy wil ’n nasionale kleinbesigheidsfonds onder die Ontwikkelingsbank van Namibië vestig, asook ’n eenheid om prestasielewering binne die staatsdiens te bevorder. Hy maak staat op die nuwe inkomste-agentskap om meer belastingbetalers te registreer en sal ’n vierde nywerheidsrevolusie-taakspan opdrag gee om die land se werksmag en infrastruktuur te bepaal.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!