Wêreld eer geliefde Japie se nalatenskap

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer Agting vir die merkwaardige bydrae wat wyle dr. Japie van Zyl in 'n tegnologies gevorderde omgewing gelewer het, loop saam met waardering vir sy aardsheid en sy liefde vir Namibië soos 'n goue draad deur eerbetuigings uit talle oorde.
Van Zyl is Woensdag om 00:35 Kaliforniese tyd (09:35 Namibiese tyd) in die Huntington-hospitaal in Pasadena in dié Amerikaanse deelstaat dood. Hy het Maandag 'n hartaanval in die oprit by sy huis gehad nadat hy gaan draf het. Hy het op 20 Julie sy 63ste verjaardag gevier.
Pres. Hage Geingob het gesê sy dood het “ons nasie beroof van 'n uitstaande wetenskaplike wie se bydraes in ruimtenavorsing ons verstaan van die helaal bevorder het”.“Hy het 'n komplekse veld van die ruimtewetenskap en sy werk by Nasa toeganklik gemaak vir baie jong Namibiese leerlinge en hulle uitgedaag om te droom.”
Geingob sê Van Zyl het nog so baie gehad om tot die mensdom by te dra.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het in 'n verklaring gesê hy is “diep bedroef oor die afsterwe van twee vooraanstaande Namibiese US-alumni, dr. Japie van Zyl, een van die wêreld se voorste ruimtewetenskaplikes, en die politikus en 'vredesmakelaar', mnr. Dirk Mudge”.
Laasgenoemde is omstreeks 04:00 Woensdag in Mediclinic in Windhoek dood waar hy vir Covid-19 behandel is.“Die feit dat Van Zyl en Mudge op Heldedag oorlede is, mag nie ongesiens verbygaan nie,” lui die US se verklaring.
Die US het Van Zyl in 2015 vereer met 'n eregraad “vir sy bydrae as dryfkrag agter verskeie suksesvolle ruimteprojekte, as Afrika- en Universiteit Stellenbosch-ambassadeur in straks die mees gevorderde tegnologiese omgewing wêreldwyd, en as inspirasie vir jong wetenskaplikes op sy geboortevasteland”.
Mudge is 'n jaar later net 'n eregraad vereer vir “sy vernuftige dog beskeie leierskap in diens van sy land, sy uitnemende veranderingsbestuurvermoëns, en sy rol om as vredesmakelaar en handelaar in hoop op die vasteland, onafhanklikheid vir Namibië en versoening tussen wit en swart Afrikane te fasiliteer”.
Oor Van Zyl sê die US “ten spyte van sy menige suksesse oorsee het hy die aardsheid en potensiaal van die Afrikavasteland hom steeds na aan die hart gelê”. Hy het as buitengewone professor in die US se departement elektriese en elektroniese ingenieurswese “herbelê in die volgende geslag ingenieurs en wetenskaplikes by sy alma mater”, sê dié universiteit.
Van Zyl het in April verlede jaar afgetree ná 'n loopbaan van 33 jaar by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL). Hy het in Augustus verlede jaar dié ruimteagentskap se hoogste toekenning gekry vir sy merkwaardige bydrae tot 20 suksesvolle ruimtesendings.
Dr. Michael Watkins, direkteur van JPL, het Woensdag in 'n huldeblyk gesê “JPL en Nasa is ryker danksy sy vele tegniese en bestuursbydraes, asook sy onwrikbare toewyding en innemende persoonlikheid”.Hy sê almal by Nasa en JPL se harte gaan uit na Van Zyl se vrou, Kalfie.
Die landbouskrywer Marietjie van Staden, wat saam met Van Zyl en sy vrou op Outjo skoolgegaan het en deur die jare kontak behou het, sê “Kalfie se sin vir perfeksie het baie gehelp dat hy nie 'n voet verkeerd gesit of dalk 'n vervelige toespraak gelewer het nie”. “Kalfie was Japie se beste klankbord. 'n Gedugter span sal 'n mens kwalik kry. Hulle huwelik is gewis in die hemelruim gemaak – daar tussen die sterre en hemelliggame waar hy ook sy beroep beoefen het,” sê sy.
Prof. Matie Hoffman, 'n dosent aan die departement fisika aan die Universiteit van die Vrystaat en bestuurder van die Naval Hill-planetarium in Bloemfontein, het aan Netwerk24 gesê Van Zyl was “briljant en nederig”.Hulle het jare lank saam deelgeneem aan die RSG-radioprogram Sterre en planete.
“Ek voel baie geëerd en bevoorreg dat ek die laaste paar jaar byna maandeliks op Sterre en planete vir Japie vrae kon vra oor die fantastiese ruimteprojekte waarby hy betrokke was, of selfs gelei het. Hy was nog intensief betrokke by die Perseverance-rover en Mars-helikopter wat nou op pad Mars toe is,” het Hoffman gesê.
Van Zyl se broer, die mariene bioloog dr. Ben van Zyl van Swakopmund, sê hulle het 'n spesiale verhouding gehad, al het hulle mekaar min gesien. “Vir my was hy van kleins af 'n steunpilaar asook iemand wat leiding kon gee. Japie, of Kaspaas soos ons hom genoem het, was die nederigste mens wat ek geken het, ten spyte van sy prestasies van jongs af.
“Sy vermoë om met enige iemand te sosialiseer, was merkwaardig. Hy het 'n mens-mens gebly.
“Sy waardering vir die skepping en natuur was 'n aansporing en ek het dit altyd geniet as hy foto's stuur van sy tuin, of wanneer hy spog met sy druiweoes, of tong in kies gekla het oor die eekhorings wat sy tuin verwoes.”
Hy het mense bedank vir hul gebede en ondersteuning- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!