Wêreld se ekonomiese fondament verander
Indien die res van die wêreld ’n fase van ekonomiese inkrimping betree, sal dit bitter moeilik vir Suid-Afrika wees om teen die gety te swem.
Johan Willemse – Daar is al hoe meer internasionale doemprofete wat oor die volgende jaar of twee ’n ekonomiese insinking in Westerse ekonomieë en China verwag.
Met rentekoerse weer op pad na zero, word gedebatteer oor wat sentrale banke nog kan doen om ekonomieë te stimuleer. Dié situasie hou verskeie implikasies in vir monetêre beleid oor die volgende paar jaar. Dit hou ook implikasies in vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat baie afhanklik is van internasionale handel en internasionale kapitaalvloei.
Die tabel hierby som enkele vergelykende ekonomiese aanwysers vir ’n aantal lande op, soos gepubliseer deur The Economist, ’n gesaghebbende internasionale ekonomiese tydskrif.
Ons het die afgelope aantal jare, terwyl die res van die wêreld in ’n redelik sterk groeifase was, al hoe stadiger gegroei (selfs by tye negatief). Indien die res van die wêreld ’n fase van ekonomiese inkrimping betree, soos die doemprofete beweer, sal dit bitter moeilik vir Suid-Afrika wees om teen die gety te swem. Dit sal besondere sterk beleidsverandering benodig.
Rentekoers-dilemma
Heelparty lande het reeds rentekoerse van naby nul of in minus-terrein.
Dié verskynsel, waar die sogenaamde rentekoers-opbrengs-kurwe negatief is, kan dui op die koms van moeilike ekonomiese tye. Dit verwys na die feit dat langtermynrentekoerse baie laer is as korttermynrentekoerse, wat teen ekonomiese teorie en praktyk indruis.
Jy kan vir ’n tienjaartermyn geld belê teen -1%; of so 2% tot 3% op kort termyn verdien.
Dit skrap die grondslag van die tydwaarde van geld, wat volgens sekere ontleders ’n fundamentele gat-oor-kop-verandering in die wêreld se ekonomiese en kapitaalmarkstruktuur is. Tienjaarlenings teen minus-rentekoerse?
Terloops, pres. Donald Trump van Amerika meen die Federale Reserweraad (Fed) moet rentekoerse na nul neem (wat staatseffekte se rentekoerse in minus-terrein sal plaas) en Amerika die kans gee om sy skuld te herskik oor langer termyn teen basies nul-rente!
Dit sal dan volgens Trump keer dat die Amerikaanse ekonomie inkrimp en dit sal ook die aandelemark steun. Onthou daar was tradisioneel ’n omgekeerde verwantskap tussen aandeelpryse en rentekoerse: As aandeelpryse styg, is rentekoerse in ’n daalfase.
Kortom, dit betaal dan nie om geld in die bank te sit nie. Dit laat die vraag ontstaan – as die groot ekonomieë aanhou om hul rentekoerse na nul- en minus-terrein te neem, gaan die aandeelpryse in dié lande bly styg?
Sal die rand versterk?
In die lig hiervan wonder ekonome of meer kapitaal gaan vloei na opkomende markte waar rentekoerse heelwat aantrekliker is. Dit kan selfs dié lande se aandelemarkte bevoordeel.
Dit sal natuurlik ook opkomende lande se wisselkoerse versterk teenoor byvoorbeeld die Amerikaanse dollar.
Die tabel wys wat ’n belegger op Suid-Afrikaanse staatseffekte kan verdien vergeleke met ontwikkelde lande se staatseffekte. Onthou ook dat Suid-Afrika steeds van die beste bankstelsels in die wêreld het en dat die rand een van die mees verhandelde geldeenhede is.
Dit alles kan beteken dat die wisselkoerse van opkomende lande kan versterk, wat die rand insluit – soos ook die afgelope week of twee gebeur het.
Die sterker rand is nie noodwendig die gevolg van die binnelandse ekonomie en politiek nie.
Aanmoediging om te spaar
China en Indië is die groei-ekonomieë van die wêreld en albei lande het bevolkings van heelwat meer as 1 miljard met besonderse lae werkloosheidsvlakke.
Hul rentekoerse is ook hoër as die inflasiekoers, wat beteken daar is aanmoediging om te spaar, wat tot investering lei.
Ontwikkelde lande se groei is redelik stabiel met groeikoerse van sowat 1% tot 2%, maar hul rentekoerse is basies laer as inflasie, wat beteken dat daar geen aanmoediging is om te spaar nie – daarom dat byvoorbeeld Amerika se aandelebeurs so sterk is. Dit is ook dan waarom Trump soveel druk plaas op die Fed om rentekoerse na nul te neem – om ekonomiese groei en aandele te ondersteun.
Ook in Brittanje is rentekoerse laer as die inflasiekoers en die risiko is dat die Britse ekonomie kan begin inkrimp. En dan is daar nog Brexit.
Brasilië, Argentinië en Turkye, lande waarmee Suid-Afrika dikwels vergelyk word, se ekonomiese aanwysers is nie veel beter as dié van Suid-Afrika nie.
Suid-Afrika staan onder dié groep ook uit as ’n land met ’n relatief hoë rentekoers en ’n relatief stabiele wisselkoers oor die tydperk onder oorsig – hoewel die rand-wisselkoers ook maar wisselvallig is.
Dit is partykeer nodig om weg te staan van die negatiewe binnelandse debatte sodat ’n mens nie oorhaastige besluite neem op grond van net binnelandse ekonomiese aanwysers nie.
Die wêreldekonomie verander. Ons moenie die probleme ontken nie, maar moet besef dat daar heelwat ekonomiese onstabiliteit in die wêreld is en dat nuwe monetêrebeleidtendense ontwikkel, wat ons almal raak.
· Prof. Johan Willemse is die landbou-ekonoom van Agrimark Consultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie