Wu00eareldbeker nie u00e1l wat Gibson in visier het
Wu00eareldbeker nie u00e1l wat Gibson in visier het

Wêreldbeker nie ál wat Gibson in visier het

Krieket
Christo Buchner - Ottis Gibson wil in sy nuwe rol as afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan veel meer as net sukses op die speelveld behaal.

Dié 48-jarige Windie was gisteroggend in Sandton die eerste keer in Suid-Afrika aan die woord nadat hy as breier van die Proteas aangewys is.

“Met my kennis van Suid-Afrikaanse krieket en dit wat ek die afgelope klompie jare van hulle gesien het, is daar ongelooflike talent en dit gaan my taak wees om daardie talent op die speelveld te laat uitleef,” sê hy.

“Ek weet daar word baie van die Wêreldbeker in 2019 gepraat en dat dit die doel is wat nagestreef moet word. Ek sien die prentjie egter veel wyer.”

Gibson wil nie net kriekettalent ontwikkel nie, maar mense van gehalte help kweek. Hy sê ook dit is sy doelwit om mense na plekke te neem waar hulle nog nie was nie.

Hy erken ook dat wanneer daar na hom verwys word as die eerste swart afrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan, dit nogal na 'n etiket klink wat met heelwat druk gepaard kan gaan.

“Ek erf 'n baie goeie span by Russell Domingo en het baie respek vir wat hy oor die laaste paar jare met hierdie span vermag het.”

Wat sy hulpafrigters betref, sê Gibson die situasie sal ná die reeks teen Bangladesj hersien word en dan sal hy besluit met wie hy kan saamwerk en wie nie.

“Ek wil ook so gou as moontlik al die hoofafrigters van die verskillende franchises ontmoet en 'n gevoel kry vir van die spelers se karakter. Ek sal dit inderdaad verwelkom as van die afrigters in daardie eerste paar dae van die reeks teen Bangladesj by van ons voorbereidingsessies wil inloer.

“Van die spelers sal dalk meer op hul gemak wees as hul bekende afrigters ook daar is, terwyl hulle my moet leer ken,” sê Gibson.

“Dit is nou maar so in sport dat as die span wen, is die spelers in die kollig en as die span verloor, is die kollig op die afrigter. Ek besef dit en aanvaar dit so.

“Ek erken ek kan nogal knorrig raak, maar in die geheel is ek 'n gemaklike mens om mee oor die weg te kom en ek hou van pret in die lewe. Ek is ook baie lief om gholf te speel en geniet 'n glasie rooiwyn,” sê hy.

“Ek is deeglik bewus daarvan dat transformasie 'n belangrike aspek van Suid-Afrikaanse krieket is en sal my daarby aanpas. Krieket Suid-Afrika het dit al met my bespreek en wat my afrigtingspan betref, sal ek beslis afrigters kies wat aan daardie vereistes voldoen,” sê Gibson.

“Ek sien daarna uit om deel van die Protea-vuur te word wat deel is van die spanopset,” sê hy.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!