Wêreldberoemde groep by Oktoberfees

Lloyd Zandberg
Die jaarlikse Windhoek Oktoberfees skop vandag amptelik in die hoofstad af.

'n Beduidende bydrae tot die jaarlikse fees se vermaak, is die amptelike en oorspronklike Oktoberfees-groep, die Kirchdorfer-groep van München, wat elke jaar na Windhoek reis om plaaslike feesgangers aan die dans te kry.

Sonder hierdie groep sal die Windhoek Oktoberfees nie dieselfde wees nie – 'n gevoel wat deur baie feesgangers gedeel word.

Van Duitsland tot Chili, Rusland, Japan, Namibië, Suid-Afrika, Dubai en Indië, en selfs die Demokratiese Republiek die Kongo, noem dit, die Kirchdorfer-groep is daar vir die jaarlikse Oktoberfees.

Die groep tree jaarliks by die Oktoberfees in München, Duitsland op. Dié fees is die grootste ter wêreld en lok tot 6 miljoen besoekers oor ’n tydperk van 10 dae.

Die Kirchdorfer-groep het tot dusver 100 toere in 17 lande gedoen.

Met 2 500 konserte op hul kerfstok en 'n repertoire van meer as 500 liedjies uit 'n wye verskeidenheid genres, is hulle eenvoudig uit die boonste rakke.

Ander lande wat tot dusver die Kirchdorfer-groep geniet het, sluit in Oostenryk, Brasilië, China, Frankryk, Italië, Liechtenstein, Switserland, Suid-Korea en Thailand. Op die Oktoberfees in München speel die Kirchdorfer-groep elke jaar 16 tot 18 dae aaneen in die wêreldbekende Hacker-tent.

Thomas Wohlschläger, ‘n lid van die groep, sê hulle is gereed en opgewonde om weer by die Windhoek Oktoberfees te speel.

"Een van ons hoogtepunte elke jaar is die Windhoek Oktoberfees! Die fees in Windhoek was nog altyd 'n goeie geleentheid vir ons en ons geniet dit om die mense in Namibië met ons oorspronklike en outentieke Oktoberfees-musiek te vermaak, en natuurlik vind alles regstreeks plaas. Ons is lief vir die mense van Namibië. Ons is goed voorbereid en die groep sal weer 'n groot repertoire na Windhoek bring, insluitend die nuutste Oktoberfest Hits van 2018, met 13 musikante insluitende Chrissie en Julia, twee vroulike sangers," sê Wohlschläger.

‘n Komiteelid van die Oktoberfees, Norbert Wurm, sê die Kirchdorfer-groep is 'n belangrike bydraer tot die opwinding en egtheid van die jaarlikse Windhoek Oktoberfees.

"Die Kirchdorfer-groep is 'n vereiste om dié outentieke ervaring te skep. Baie van die fees se ondersteuners en aanhangers woon die geleentheid by net vir die Kirchdorfer-groep. Hulle is werklik wêreldklas en enig in hul soort," sê Wurm.

Die Windhoek Oktoberfees se 60ste verjaardag word met trots deur Namibië Brouerye (NBL), 'n filiaal van die Ohlthaver & List (O&L)-groep, Sport Klub Windhoek (SKW) en Pupkewitz BMW aangebied.

Kaartjies is beskikbaar by enige Pick n Pay landswyd, of kan aanlyn deur Webtickets gekoop word.

Besoek www.oktoberfestnamibia.com vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer