Wêreldlugvaart verwag verlies van US$29,3 miljard
Die internasionale lugvaartbedryf stuur vanweë covid-19 af op ’n daling in vraag soortgelyk as tydens die wêreldwye finansiële krisis van 2008-’09.
Ronelle Rademeyer - Volgens die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) se aanvanklike raming sal covid-19, die nuwe coronavirusstam, vanjaar tot ’n daling van 13% in passasiersgetalle vir rederye in Asië- en die Stille Oseaan-gebied lei.
Aangesien ’n groei van 4,8% voorspel is, sal die netto inkrimping in passasiersgetalle vanjaar dus 8,2% wees. Dit is gemeet aan die vraag na lugvervoerdienste in 2019.
Binne hierdie scenario beteken dit rederye in dié gebied kan ’n verlies aan inkomste van US$27,8 miljoen verwag. Rederye in China sal die impak die ergste voel, met ’n geraamde binnelandse verlies van US$12,8 miljard, sê Iata in ’n verklaring.
Wat rederye elders in die wêreld betref, word ’n inkomsteverlies van US$1,5 miljard verwag. Dit is as aangeneem word dat die verlies aan vraag beperk is tot markte wat met China verbind is.
Dit bring die totale verwagte verlies aan inkomste vir wêreldlugvaart op US$29,3 miljard te staan. Volgens Iata verteenwoordig dit ’n daling van 5% in die inkomste uit kaartjieverkope.
In Desember is voorspel dat rederye se inkomste danksy ’n styging in kaartjieverkope met 4,1% sou groei. Die verwagte 5%-daling beteken ’n globale inkrimping van 0,6% word in passasiersgetalle verwag.
Tans word 9 miljoen passasiers elke 18 uur in die wêreld vervoer.
Iata sê hierdie voorspellings is geskoei op ’n verwagting dat China die middelpunt van die covid-19-krisis sal bly.
“Die internasionale lugvaartbedryf beleef uitdagende tye. Die sleuteltaak is om die verspreiding van die virus te voorkom. Rederye volg die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en ander openbare gesondheidsowerhede om passasiers veilig te hou, die wêreld verbind te hou en die virus se verspreiding te keer,” het mnr. Alexandre de Juniac, Iata se direkteur-generaal en uitvoerende hoof in New York gesê.
“Die skerp daling in die vraag na lugvervoer vanweë covid-19, sal ’n negatiewe finansiële impak op rederye hê. Dié rederye wat op die Chinese mark fokus, sal baie erg geraak word. Dit kan tot die eerste internasionale daling in vraag sedert die wêreldwye finansiële krisis van 2008-’09 lei,” sê hy.
Volgens hom neem rederye tans moeilike besluite om kapasiteit te verklein en in sekere gevalle selfs sekere roetes te laat vaar.
“Laer brandstofpryse sal help om die verwagte verliese te versag. Maar hierdie gaan ‘n baie moeilike jaar vir lugrederye wees,” sê De Juniac.
Die WHO het nie gevra vir ‘n beperking op reis of handel in die wêreld nie. Lugvaart speel ‘n belangrike rol om mediese voorrade en medici na gebiede te vervoer waar dié virusuitbreking die ergste is.
Dié gesondheidsorganisasie het op sy webtuiste wel volledige inligting aan lugvervoerpassasiers gepubliseer.
Passasiers word gerusgestel dat die lug in vliegtuie se kajuite gefiltreer word, dat vliegtuie in pas met internasionale standaarde skoongemaak word en dat reisigers se temperatuur by groot lughawens met spesiale skandeerders gemonitor word.
Dr. David Powell, Iata se mediese raadgewer, maan passasiers wel in die verklaring om nie te reis indien hulle siek voel nie. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie