Wu00eareldrekord kan weer tuiskom
Wu00eareldrekord kan weer tuiskom

Wêreldrekord kan weer tuiskom

Rolskaatshokkie
Andrew Poolman
Heike Dedig en Vikki de Jager - Komende naweek, van Vrydag tot Sondag, word gehoop om geskiedenis by die Scorpions rolskaatshokkieklub op Otjiwarongo te herskryf.
Spelers van oral in Namibië sal hul bes doen om die Guinness wêreldrekord vir die langste onafgebroke rolskaatshokkiewedstryd te verbeter.
Die Namibiërs is vasberade om die rekord terug agter hul naam te kry, soos in September 2013 toe die rekord onder ’n snikhete son op die Scorpions-klub se ou baan met ’n betonvloer opgestel is.
Komende naweek se rekordpoging sal egter in veel gunstiger omstandighede geskied. Scorpions se nuwe baan is onderdak, met ’n behoorlike vloeroppervlak vir die sport en muurbeskutting wat die wind en stof wegkeer.
Baie van die spelers wat die vorige rekord gehou het, sal weer in aksie wees en is baie opgewonde oor die geleentheid. Beplanning word reeds ywerig gedoen om idees uit te ruil oor wat die vorige keer reg uitgewerk het – of nie.
Drie jaar gelede het Scorpions se spelers vir 27 ure en 7 sekondes aangehou speel, teen ’n span wat vanuit die ander geregistreerde klubs in die land versamel is. Die eindtelling was 316 doele teen 291, in die guns van Scorpions.
Die Namibiër is bewus van enkele pogings elders in die wêreld om die rekord te verbeter, maar wat nie deur Guinness erken is nie.
In Februarie 2016 het die rolskaatshokkieklub IH Samurai Iserlohn in Iserlohn, Duitsland, die nuwe wêreldrekord opgestel deur vir 30 ure lank teen spelers van Team Sauerland (die Mendener Mambas en die Highlander Lüdenscheid) te speel.
Die kompeterende Namibiërs het die uitdaging aanvaar om hul wêreldtitel terug te verdien. Die aansoek is ingedien en toestemming is deur die Guinness wêreldrekordkomitee verleen om die rekord te probeer verbeter.
Altesame 32 spelers sal in twee spanne van 16 spelers elk verdeel wees – NIIHA OTB en NIIHA Theo’s Superspar. Beide spanne bevat spelers van verskeie klubs in Namibië.
Die oomblik wanneer enige van die twee spanne minder as agt spelers op die baan het, sal die stophorlosie die einde van die rekordpoging aanteken.
Guinness stel verskeie ander streng vereistes. Elke plaasvervanging, elke doel en elke strafdoel moet presies tot op die uur, minuut en sekond aangeteken word – wat deur beamptes langs die baan bygehou sal word. Die beamptes mag ook net vir skofte van twee uur op ’n slag werk.
Twee onafhanklike getuies sal oor die wedstryde en die beamptes toesig hou en sal elke twee ure die rekords en logboek onderteken.
Alles moet ook op video opgeneem word en die volle opname moet aan Guinness beskikbaar gestel word. Al die rekords en logboeke moet presies met die video-opname ooreenstem.
Tydens die marathonpoging moet ten alle tye ook twee skeidsregters op die baan wees, net soos normaalweg tydens wedstryde die geval is. Die enigste verskil is dat hierdie wedstryd vir 36 ure onafgebroke sal duur, met geen halftyd of tydonderbrekings nie.
Die radiostasie One FM sal tydens die poging teenwoordig wees en sal die spelers en luisteraars op die hoogte van sake hou en sal ook musiek verskaf.
Almal is welkom om die rekordpoging te kom ondersteun. Kos en drankies sal deurentyd beskikbaar wees – ewe onafgebroke as die wedstryd op die baan!
Die skyf (puck) sal ­Vrydagaand presies om nege-uur laat val word vir die eerste hou van die wedstryd om geslaan te word.
Die bestaande wêreldrekord sal dus Sondagoggend om drie-uur verbeter te word, maar die eindfluitjie sal hopelik eers om 09:00 blaas om die einde van die rekordpoging aan te kondig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 37° Rundu: 22° | 38° Eenhana: 21° | 37° Oshakati: 22° | 34° Ruacana: 19° | 37° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 21° | 36° Omaruru: 20° | 38° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 18° | 34° Henties Bay: 14° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 18° | 34° Mariental: 18° | 35° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 17° | 35° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 17° | 34° Oranjemund: 14° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 16° | 32° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 7° | 24° Antananarivo: 17° | 27° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 19° | 30° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 24° Durban: 14° | 23° Johannesburg: 13° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 30° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!