Wêreldwye groei in toerisme

Die Verenigde Nasies se Wêreldtoerismeorganisasie het hul verslag oor 2017 se toerismehoogtepunte uitgereik.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Internasionale toeriste-aankomste het in 2016 met 3,9% gegroei om 'n totaal van 1,235 miljard wêreldwyd te bereik.

Dit is 'n styging van 46 miljoen internasionale toeriste-aankomste (wat gemeet is aan oornagbesoekers) vergeleke met die vorige jaar.

Hierdie positiewe statistieke is in die Verenigde Nasies (UN) se Wêreldtoerismeorganisasie (UNWTO) se jongste verslag oor toerismehoogtepunte van 2017 uitgereik.

"Internasionale toeriste-aankomste het sedert 1950 met 25 miljoen wêreldwyd tot 278 miljoen in 1980 gegroei, 674 miljoen in 2000, en 1,234 miljard in 2016," lui die verslag.

Volgens die verslag is dit die sewende agtereenvolgende jaar met bogemiddelde groei in internasionale toerisme sedert die wêreldwye ekonomiese krisis in 2009.

Wat die streke betref, het Asië en die Stille Oseaan in 2016 met 9% in internasionale aankomste gegroei, gevolg deur Afrika met 'n groei van 8% en die Amerikas met 3%.

Die wêreldstreek wat die meeste besoek word, Europa, het gemengde resultate gewys en met 2% gegroei, terwyl die Midde-Ooste 'n daling van 4% getoon het.

AFRIKA HERSTEL IN 2016

Internasionale toeriste-aankomste in Afrika het met 8% in 2016 gegroei volgens beperkte data beskikbaar, maar verteenwoordig 'n sterk herstel ná swak prestasies in 2014 en 2015 weens verskeie gesondheids-, geopolitieke en ekonomiese uitdagings.

Die streek het 58 miljoen internasionale toeriste in 2016 (5% van die wêreldtotaal) verwelkom - vier miljoen meer as in 2015. Afrika het US$35 miljard uit internasionale toeriste verdien.

Lande suid van die Sahara het met die hoogste groei van 10% tot die Afrikastreek se herstel gelei. Volgens die verslag is Suid-Afrika die substreek se topbestemming en het die land 'n groei van 13% getoon, danksy eenvoudiger visumprosedures. Madagaskar het met 20% gegroei, Kenia met 17% en Tanzanië met 16%.

Namibië se statistieke vir toeriste-aankomste vir 2016 is nog nie beskikbaar nie, maar finale syfers wat gister deur die Namibië Statistieke-agentskap (NSA) uitgereik is, toon hotelle en restaurante - 'n aanwyser vir die stand van toerisme - het in 2016 met 5,1% gegroei.

Dit is aansienlik beter as die voorlopige syfer van 1,4% wat vroeër vanjaar vrygestel is. In 2015 het hotelle en restaurante groei van 5,6% getoon.

TOP-10 WêRELDWYD

Die top-10 internasionale bestemmings vir 2016 is Frankryk, Amerika, Spanje, China, Italië, Brittanje, Duitsland, Mexiko, Thailand en Turkye.

Wat inkomste uit buitelandse toeriste betref, is die top-10 bestemmings Amerika, Spanje, Thailand, China, Frankryk, Italië, Brittanje, Duitsland, Hongkong (China) en Australië.

Bestemmings het in totaal wêreldwyd na raming sowat US$1,22 miljard in 2016 verdien.

Die Chinese, Amerikaners en Duitsers het in 2016 die meeste na buitelandse bestemmings gereis, wat van hulle die topbesteders maak.

LANGTERMYNVOORUITSIGTE

Daar word verwag dat internasionale toeriste-aankomste wêreldwyd met 3,3% per jaar tussen 2010 en 2030 gaan styg om 1,8 miljard in 2030 te bereik. In dieselfde tydperk word verwag toeriste-aankomste gaan in opkomende bestemmings met 4,4% per jaar groei.

Die markaandeel van opkomende ekonomieë het van 30% in 1980 tot 45% in 2016 gegroei. Na verwagting sal 57% groei teen 2030 bereik word, wat gelykstaande is aan meer as een miljard internasionale toeriste-aankomste.

Volgens die verslag is daar nou soveel nuwe bestemmings wêreldwyd, bykomend tot Europa en Noord-Amerika, die tradisionele gunstelinge.

Meer as die helfte (53% of 657 miljoen) van internasionale toeriste het verlede jaar vir vakansie of ontpsanningsdoeleindes gereis.

Wat internasionale besteding in toerisme betref, het dit van US$2 miljard in 1950 tot US$104 miljard in 1980 gegroei. In 2000 was inkomste uit toerisme US$495 miljard en in 2016 US$1,22 biljoen.

HAN REAGEER

Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, sê oor die algemeen weerspieël die verslag presies wat tans in Namibië in die toerismebedryf ook ervaar word.

"Toerisme groei en Europa bly steeds Namibië se hoofbronmark vir internasionale toeriste," het Paetzold gesê.

"China is die grootste besteder in toerisme en al is hulle eerste op die bestederslys, is dit weens hul reusebevolking. Per capita bly Duitsland steeds die wêreldkampioene van toerisme."

Paetzold sê intrastreek-toerisme groei ook in getalle en in belangrikheid, met besoekers van Botswana en Zambië wat in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) saam met die belangrike Suid-Afrikaanse mark tot Namibiese toerisme bydra.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!