Wrywing met borge kry rasse-ondertoon

Te midde van uitsprake deur vele rolspelers oor die afgelope dae het woordvoerders van die NBL en FNB ook hul sê gesê.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die verdelende trant van die taalgebruik van senior lede van die Namibië Rugby-unie (NRU) op sosiale media in die afgelope dae staan in skerp kontras met die topbestuur van die Namibiese Rugbymaatskappy se oënskynlik opregte strewe om ’n middeweg te vind wat die skade aan die aansien van die spel beperk en eerder die positiewe momentum kan herstel.

Woordelikse onderonsies tussen rolspelers en die rugbypubliek het oor en weer op sosiale media gewoed te midde van die dispuut oor watter van die twee liggame regmatig beheer oor internasionale rugbysake en die regstreekse verhouding met borge behoort te hê.

Die president van die NRU, mnr. Corrie Mensah, het oor die naweek ’n inskrywing op ’n geslote Facebook-groep gelaai waarin hy oënskynlik teen die borge van rugby uitvaar wat hulle in die kamp van die Maatskappy bevind.

“Jy kan daar sit, hoog en vernaam op jou stapel geld en neerkyk op die Namibiese nasie. Ek mag dalk net ’n klein, klein druppeltjie in hierdie oseaan van sportadministrateurs wees, maar die hitte van jou onderdrukking sal my nie laat verdamp tot in jou wolk wat ’n skaduwee oor die vooruitgang van die Namibiese nasie gooi nie.

“Vat jou geld, jou arrogansie en jou wit manlike oorheersingsindroom en vlieg hel toe!”

Mensah het laat gistermiddag op die koerant se navraag gereageer om duidelikheid te verkry. Dit wou gister voorkom asof die inskrywing intussen verwyder is.
“Indien ek dit op iemand spesifiek gerig het, sou ek dit beslis op ’n forum gedoen het waar die persoon dit kon sien. Verder wil ek graag nie verder kommentaar lewer nie.”

Mnr. Werner Jeffery, uitvoerende lid van die NRU wat Unam en Tisan verteenwoordig en net soos Mensah ’n man wat nie huiwer om sy struggle-getuigskrif op die voorgrond te hou nie, wou by navraag weet of die koerant nie kon agterkom dat Mensah se inskrywing na die borge van rugby verwys nie.

“Die mense dink hulle kan ons met hulle geld manipuleer. Sodra ons aan die wêreld gewys het dat ons alles volgens die reëlboek doen, sal ons op hulle spring. Hulle moenie die mag van die mense onderskat nie.

“Weet jy nie dat ons regering politieke vryheid beding het, maar nie ekonomiese vryheid nie? Die ekonomie van ons land is steeds in die hande van die RASSISTIESE ONDERDRUKKERS.”

Die 61-jarige Jeffery het oor die naweek ook in ’n afsonderlike woordewisseling met die uitgetrede Namibiese rugbykaptein Jacques Burger (35) betrokke geraak.

Burger het die NRU gekritiseer oor sy dreigemente om op te tree teen die nasionale spelersgroep wat daarop aangedring het dat hulle eers weer sal oefen en wedstryde speel sodra die onaangename dispute tussen die baadjiedraers uit die weg geruim is.

As verdedigingskonsultant van die nasionale span is Burger terdeë bewus hoe die afgelope maande se wrywing in die raadsale wat tans op ’n hoogtepunt is, die spelers se aandag verdeel met minder as 12 maande oor voor die 2019 Wêreldbeker in Japan. Die NRU het laas week selfs geluide gemaak asof hy Namibië uit die wêreldtoernooi sal onttrek indien die spelers nie stilbly en terug in gelid kom nie.

Jeffery het persoonlik aanstoot geneem toe Burger na die “korrupte” NRU-topbestuur verwys het en het aangedring dat Burger bewyse voorlê wat in die hof getoets kan word.

BROUERYE SÊ SY SÊ

Die Namibië Brouerye wat met Windhoek Draught die hoofborg van die senior nasionale span is, se besturende direkteur, mnr. Hendrik (Wessie) van der Westhuizen, het gister gesê die borge sowel as Wêreldrugby hou by die oorspronklike standpunt, maar die maatskappy is oop om soos tevore oor sy bande met die NRU te onderhandel.

“Ons het ingestem tot borgskap van die Rugbymaatskappy (NRL) nadat hulle ’n besigheidsplan aan ons voorgelê het wat as hoofdoelwit gehad het om Namibiese rugby na nuwe hoogtes te neem.

“Die kompetisieplatforms wat deel van die plan vorm, is die Wêreldbeker (insluitend die afgelope kwalifiserende veldtog in die Rugby Afrika Goue Beker), die Curriebeker, die SuperSport uitdaagreeks, internasionale toere of besoeke deur toerspanne, asook die Namibië o.20-span.

“Die besigheidsplan is baie duidelik dat Wêreldrugby verantwoordelik is vir die aanstelling van die nasionale afrigter (Phil Davies van Wallis) en die NRL weer vir die aanstelling van die Curriebeker en die ander kompetisieplatforms se afrigter/s.

“Die NRU op hul beurt moet voortgaan om klub- en amateurrugby te bevorder. Die standpunt wat die NRU ingeneem het nadat ons die mees suksesvolle seisoen nóg bewerkstellig het en (op oortuigende wyse) vir die 2019 Wêreldbeker gekwalifiseer het, was in direkte konflik met die sakeplan wat aan ons as borge en Wêreldrugby voorgelê was.

“Die NRU wou volle beheer oor die geldbronne en die afrigters hê, wat nie deel was van die oorspronklike borgskapooreenkomste nie.

“Die borge is nou besig om ’n dispuut te verklaar met die NRL deurdat die plan waarin ons geld belê het nie tans uitgevoer word soos per die ooreenkoms nie.

“Die gevolg hiervan kan tweevoudig wees. Een is dat borgskapooreenkomste in geheel gekanselleer word, of tweedens dat alle geldbronne gevries word totdat die huidige situasie uitgeklaar is.

“Wat nie gaan gebeur nie, is dat die borgskapgeld aangewend sal word vir enige aktiwiteite buite die borgskapooreenkomste. Dink so daaroor: geen mens kan geld by die bank gaan leen om ’n huis te koop en dan die geld vir ander doeleindes aanwend nie ... dit werk eenvoudig nie so nie.

“Maar wat is die oplossing? Eenvoudig – die NRL het ’n verantwoordelikheid teenoor die besigheidsplan ... laat hulle dit uitvoer. Indien die NRL onsuksesvol sou wees, eindig die ooreenkoms en vat die NRU weer volle beheer. Indien suksesvol, geniet die NRU die voordele wat uit die NRL uitvloei om klubrugby en die groei van rugby in Namibië te bespoedig.

“Die Namibië Brouerye is en was nog altyd oop vir enige projek wat Namibiese rugby in sy geheel sal bevorder.”

• Namens die ander prominente rugbyborg, FNB Namibië, het me. Tracy Eagles, hoofbemarkingsbeampte van die FNB-groep, gesê: FNB Namibië het ’n lang en trotse geskiedenis as ondersteuner van die ontwikkeling van talle sportkodes in Namibië.

“Ons verhouding met die sportkodes vir wie ons borg was nog altyd een van geloof in die in die geloofwaardigheid van die visie en planne van die begunstigdes. Geldelike steun en geldelike dienste vorm die grondslag van ons betrokkenheid as borg.

“In dieselfde mate is ons verhouding met die Namibiese Sportkommissie sterk en het ons ’n gedeelde visie van ’n gesonde Namibiese sportbedryf.

“Die onlangse interne kwessies binne rugbygeledere het egter die opgewondenheid en trots laat afneem wat Namibiërs behoort te beleef sedert die land se kwalifisering vir die 2019 Wêreldbeker.

“In die belang van die ontwikkeling van die sport, sy spelers en ondersteuners, sê FNB Namibia hy moedig dringende optrede aan om die rugby-administrasie met alle wetlike vereistes in lyn te bring.

“Ons belang is en sal altyd wees om deeglike, professionele geleenthede vir die ontwikkeling van aspirerende en toegewyde sportmanne en -vroue te ondersteun. Ons bly daartoe verbind om goedgekeurde strukture te ondersteun wat bedoel is om dié visie te laat bewaarheid.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!