Wéét hoe laat jou vlug vertrek en wees betyds!
Francois Williams - ’n Lughawe is nie ’n biblioteek nie. Maar die mode wêreldwyd is “stil lughawens” en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) speel saam.
Van 1 Julie af gaan daar nie meer openbare aankondigings oor vlugte oor die luidsprekers by Acsa se ses streeklughawens gedoen word nie.
Die Port Elizabeth- Internasionale Lughawe, die Bram Fischer- Internasionale Lughawe in Bloemfontein, die Upington- Internasionale Lughawe asook die Acsa-lughawens van Oos-Londen, George en Kimberley sal almal die beleid in werking stel om die geraasvlakke by dié lughawens te verminder.
Acsa sê in ’n verklaring die standaardprosedures vir die meeste binnelandse vlugte is dat passasiers minstens ’n halfuur voor die geskeduleerde vertrektyd moet begin aanmeld om aan boord te gaan.
Vir laatkommers en aandagafleibares wat hul tyd in die boekwinkel, koffiewinkel of kleedkamers van die lughawe verwyl, is die openbare aankondiging van ’n vlug wat binnekort vertrek die nodige wekker om hulle na die instaphekke te laat haas.
Maar by die streeklughawens gaan die luidsprekers op 1 Julie af afgeskakel word en passasiers moet hul instapkaarte en die vertoonborde met vluginligting raadpleeg om na te gaan presies hoe laat hul vlug vertrek en wanneer hulle aan boord moet stap.
Acsa sê die enigste kere dat die openbare aankondigings wel nog gedoen sal word, sal wees wanneer vlugtye of instaphekke verander, as stelsels breek of as kinders verlore raak.
Senzeni Ndebele, senior bestuurder vir streeklughawens by Acsa, sê dit is ’n belangrike stap om die kliëntediens-ervaring van passasiers te verbeter deur geraasvlakke te verminder. Volgens hom stem dit ooreen met internasionale beste praktyk om die atmosfeer by lughawens te verbeter. Dit volg die toepassing van geraasverminderingsmaatreëls wat reeds die afgelope jaar by ander Acsa-lughawens in Suid-Afrika ingestel is, sê hy.
Acsa sê kliënte-peilings wys mense kla oor geraasvlakke by lughawens, en die staatsonderneming volg nou die voorbeeld van talle internasionale lughawens wat reeds ’n beleid van “stil lughawens” aangeneem het. Wat mense blykbaar veral irriteer, is die aantal herhaalde aankondigings om individuele passasiers op hul name te herinner om aan boord te gaan nadat hulle reeds ingeboek het, maar dan kwansuis vermis raak.
“Ons glo passasiers sal voordeel trek uit die beter reiservaring. Passasiers moet individuele verantwoordelikheid aanvaar om betyds by die instaphekke op te daag om aan boord te gaan,” sê Ndebele. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie