Wynbedryf kry nie kopseer oor Brexit
Wynbedryf kry nie kopseer oor Brexit

Wynbedryf kry nie kopseer oor Brexit

Dié kwessie is van groot belang omdat Brittanje Suid-Afrika se grootste uitvoermark is.
Nellie Brand-Jonker – Die onsekerheid oor Brittanje se toekoms in die Europese Unie (EU) hou dalk beleggers wêreldwyd wakker, maar dit is nie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf ’n kopseer nie.

Dit blyk uit ’n antwoord dié week op ’n vraag op die inligtingsdag wat die wynbedryfsliggaam VinPro jaarliks hou. Die vraag was of Brexit die wynbedryf besig hou, of daarvoor beplan word en hoe dit die bedryf gaan beïnvloed.

Dit is van groot belang omdat Brittanje Suid-Afrika se grootste uitvoermark is. Bykans ’n kwart van Suid-Afrika se uitvoerwyn van 430 miljoen liter per jaar, gaan na Brittanje (104 miljoen liter).

Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, sê hy glo die wynbedryf sal die voordele behou wat hy tans kragtens die baie voordelige ekonomiese vennootskapsooreenkoms (EPA) met Europa het. Dit is ’n ooreenkoms wat Suid-Afrika, Lesotho, Mosambiek, Namibië en Swaziland met die EU onderteken het.

Kragtens die ooreenkoms kan Suid-Afrika 110 miljoen liter wyn per jaar tariefvry per jaar na die EU uitvoer.

Daarvan kan sowat 35 miljoen liter wyn tariefvry na Brittanje uitgevoer word.

Hy sê die Suid-Afrikaanse en Britse regering het ooreengekom dat ’n soortgelyke voordeel onder Brexit sal geld.

Hy sê die wynbedryf was die afgelope agt tot tien maande baie proaktief hieroor.

Christo Conradie, hoof van wynkelders van VinPro, het later aan Netwerk24 gesê die bedryf se verteenwoordiger het gereeld saam die departement van handel en nywerheid oorsee en plaaslik deelgeneem aan gesprekke met hul Britse eweknieë. “Ons het gedoen wat ons kan, daar is niks meer wat ons kan doen nie.”

Conradie sê benewens dat Brittanje ingestem het dat die tariefvrye kwota behou word, word verder onderhandel om uiteindelik 70 miljoen liter tariefvry na Brittanje uit te voer.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het vandeesweek gesê die enigste konkrete ding wat Suid-Afrika te midde die onsekerheid oor Brexit kan doen, is om te verseker handel met Brittanje word nie onderbreek nie.

“Ons werk reeds ’n wyle daaraan en ons is amper klaar met ’n ooreenkoms tussen die lande van die Suider-Afrikaanse Doeane-Unie (Sadu) plus Mosambiek, wat die partye van die EPA met die EU is,” het hy volgens Fin24 gesê.

Fin24 het ook in Desember berig Davies hoop Sadu sal teen middel Januarie ’n ooreenkoms met Brittanje afhandel.

Davies het vandeesweek gesê die “voorgestelde basiese ooreenkoms” met Brittanje is om ’n parallele ooreenkoms met die EPA te hê. Hy sê die tariewe op landbouprodukte soos wyn en vrugte is reeds uitgewerk en hy meen dit is goeie tariewe.

’n Tegniese vergadering is in Desember gehou en hy hoop ’n finale vergadering met die ministers vind binnekort plaas sodat ’n ooreenkoms betyds bereik word om te verseker dat handel voortgesit kan word.

Die wynbedryf is egter bekommerd oor die moontlikheid dat Brittanje soortgelyke ooreenkomste met ander wynuitvoerlande, soos Australië, Chili en Argentinië, gaan sluit, sê Conradie.

Suid-Afrika suig reeds aan die agterspeen wat betref pryse op winkelrakke in Brittanje vergeleke met dié lande.

Tans is Suid-Afrika die enigste land wat wyn tariefvry na Brittanje uitvoer.

Robert Joseph, ’n bekende Britse wynskrywer en skrywer van die boek The Future of Wine Has Changed, het in sy praatjie gesê die voordeel wat Suid-Afrika het ingevolge die EPA gaan uitgewis word as Brittanje post-Brexit ook sulke ooreenkomste met lande soos Australië, Nieu-Seeland en selfs dalk Amerika sluit.

Afhangende van hoe die ekonomie vaar, kan die wynbedryf ook probleme ondervind ten opsigte van die koopkrag van Britse verbruikers. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!