Wysigings aan onderwyswet onvanpas
Wysigings aan onderwyswet onvanpas

Wysigings aan onderwyswet onvanpas

Mandy Rittmann
GODFREY KLEINHANS VAN KEETMANSHOOP SKRYF:

Onlangs het die Namibian gerapporteer dat die ministerie van onderwys, kuns en kultuur van voornemens is om bepaalde optredes van skoolhoofde/onderwysers teenoor leerlinge te kriminaliseer.

Skoolhoofde/onderwysers wie rapporte van leerlinge weerhou weens een of ander versuim of teen leerlinge diskrimineer, kan nou ’n boete of tronkstraf opgelê word. Die leerlinge sal ook nou uitdruklik verbied word om fondse (van die publiek) namens die skool in te samel.

Die voorgestelde wetgewing is nog in die wetsontwerpstadium en mens weet op hierdie stadium nie hoe wyd dit strek, wat die werklike impak gaan wees en hoe dit skoolgemeenskappe gaan affekteer nie.

Hierdie voorgestelde wetsontwerp, indien dit die wetboeke haal, sal na my mening heel ongewens en onvanpas wees. Ek verduidelik graag.

DEMOKRATIESE BALANSSTAAT

Demokratiese state streef altyd daarna om ’n gesonde balans tussen vryhede en verpligtinge van sy burgers te handhaaf. Deur handelinge eenvoudig te kriminaliseer, sonder om die balansstaat tussen vryhede en verpligtinge in ag te neem, sal hierdie broodnodige balans versteur. Burgers se regte (in hierdie geval die van skoolhoofde en onderwysers) word onnodig ingeperk.

Ek sal laer af in my betoog aantoon dat die aspekte wat die ministerie beoog om in wetgewing op te neem, suksesvol binne die kader van skoolbestuur gehanteer kan word.

Die professionele gedrag van skoolhoofde en onderwysers word na my mening bevredigend gereël deur bestaande wetgewing. Die Grondwet, Onderwyswet, arbeidsreg, staatsdiensrëels (die Public Service Commission), gemenereg en presedente (hoërhofbeslissings) is voldoende om leerlinge teen onbehoorlike optrede deur skoolhoofde en onderwysers te beskerm.

OUTONOMIE

Die voorgestelde wetgewing sal niks doen om professionaliteit in die onderwyssektor te bevorder nie. Dit sal eerder bepaalde bestuursareas in die skool buite bereik van die besluitnemingsbevoegdheid van die skoolhoof en sy bestuur plaas. Dit sal ‘n uiters negatiewe impak op die outonomie van die skool hê en die skoolhoof, onderwysers en skoolraad niks anders as pionne in die hande van die minister van onderwys, die permanente sekretaris en streeksdirekteure maak nie.

Navorsing toon dat groter outonomie tot ‘n toename in professionaliteit en effektiewe skoolbestuur lei. Dit spreek sonder mond dat hierdie skole en hul leerders baie beter presteer. Perk die outonomie van ‘n skool in, en die teenoorgestelde gebeur.

RAPPORTE EN HANDBOEKE

Die hantering van handboeke was nog altyd deel van bronnebestuur van die skool; dit was nog altyd binne die opdrag van die skool.

Die ministerie betaal die rekening terwyl die skool verantwoordelik is vir die bepaling van die behoeftes en die bestuur van die handboeke. Dit was nog altyd en dit is nog die skool se taak om seker te maak dat elke handboek wat aan ‘n leeling oorhandig word, terug is in die boekstoor aan die einde van elke akademiese jaar.

Hoe die skool dit doen, was nog altyd sy (die skool se) saak. Ek deel nie die standpunt dat die terughouding van die skoolrapport indring teen die regte van die leerling nie; inteendeel dit verplig hom of haar om die eiendom van die staat terug te besorg. So leer die kind dat elke reg ‘n keerkant ("flipside") het: die reg om kosteloos ‘n boek te ontvang staan nie los van die verpligting om dit terug te besorg nie.

’n Tergende vraag is wat van die handboeke wat deur die skool met eie fondse aangekoop word. Baie van die skole kla dat die ministerie sedert die afskaffing van verpligte skoolfondse die subsidies nie betyds betaal nie. Gevolglik koop hulle handboeke en ander hulpmiddels uit eie fondse aan. Mens wonder nou hoe die wetgewing hierdie situasie gaan aanspreek.

Ek sluit graag af met ’n voorbeeld van ’n skool op Rehoboth tydens die bestaan van die ou Keetmanshoop-streek, waar ’n ou studentemaat van my verantwoordelik was vir die hantering van handboeke.

Geen leerling is toegelaat om die eksamenlokaal aan die einde van die jaar binne te gaan indien hy/sy nie die handboeke terugbesorg nie. Hier was ’n duidelike vennootskap tussen onderwyser, ouer en leerling. Die skool het gesorg dat die handboeke in die sorg van die leerling geplaas word. Die leerling moes die handboeke gebruik en goed versorg en die ouer moes help toesien dat die handboeke terugbesorg word. Indien die handboek verlore geraak het, moes die ouer daarvoor in geldwaarde vergoed.

Hierdie reeling het goed gewerk en handboeke is elke jaar terugbesorg. Terloops, hierdie was een van die presterende skole in die streek.

Ter afsluiting: Wetgewing om hierdie sake aan te spreek, sal die mees verkeerde besluit wees. Die ministerie behoort eerder te werk aan die outonomie en professionaliteit van skoolhoofde en hul besture. Daar behoort gewaak te word teen ‘n wanbalans tussen vryhede en verpligtinge en onderwysers behoort nie “gyselaar” gehou te word deur die regte van leerlinge nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!