Xaris-saak hervat
Xaris-saak hervat

Xaris-saak hervat

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Arandis Power (Pty) Ltd het ’n aansoek by die hoërhof ingedien dat die toekenning van die tender aan Xaris Energy (Pty) Ltd vir die ontwikkeling van 'n krag­opwekkingsaanleg hersien en ter syde gestel moet word.
Die aansoek is teen NamPower, die president, die kabinet, die minister van myne en energie, Xaris en Sino­hydro Corporation Limited ingedien.
Arandis Power het alternatiewelik aansoek gedoen dat die besluit van Nam­Power om Xaris as die voorkeurbieër aan te stel, hersien en tersyde gestel word. Arandis Power moet gevolglik as die voorkeurbieër aangestel word om die tender op dié basis te finaliseer. Die hof is ook versoek om ’n kostebevel te maak teen enige respondente wat die aansoek teenstaan.
In die dringende aansoek wat in Februarie vanjaar deur Arandis Power by die hoërhof ingedien is, het sy besturende direkteur, mnr. Ezio Vernetti, in sy beëdigde verklaring gesê die maatskappy is gestig met die doel om ’n termiese kragstasieprojek te ontwikkel wat deur swaar brandstofolie gedryf word en die kapasiteit van 120 MW het.
Dié termiese kragstasie sou met 45 MW fotovoltaïese sonkrag gekombineer word om ’n ten volle geïntegreerde hibriede-stelsel, bekend as die “Historiese projek”, te vorm. Dié kragstasie sou naby Arandis Power gebou word. Die maatskappy het glo reeds meer as N$35 miljoen aan die ontwikkeling van die projek bestee.
Die basis vir Arandis Power se aansoek wat gister voor die hof gedien het, is dat die tender toegeken is buite die tenderperiode en dat Xaris nie aan die tendervereistes voldoen het nie. Dit word nie deur NamPower ontken nie.
Die tender het vir ’n aanleg met ’n minimum produksiekapasiteit van 230 MW en ’n maksimum van 250 MW gevra, terwyl Xaris se tender nie aan dié vereiste voldoen nie.
Arandis Power word deur snr. adv. Theo Frank en adv. Natasha Bassingthwaighte­ verteenwoordig. Die saak word vandag in die hoërhof voortgesit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer