Ya Toivo: Die groot vuur
Ya Toivo: Die groot vuur

Ya Toivo: Die groot vuur

Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Sonder vuur sou ons wêreld moeilik, koud en donker gewees het.

Alles van hitte, tot kos, tot die vermoë om yster te buig, begin met vuur.

Hoe weet jy watter rigitng om in te slaan as die ligte wat jou lei geblus is?

Soos die dood van ‘n familielid is die verlies van die hoogste geestelike owerheid in Namibië se onlangse geskiedenis vir die land ‘n onmeetbare verlies.

Laas week het Namibiërs hul groot vuur gegroet.

Ek dink ons as ‘n nasie besef nie die werklike impak van hierdie held wat vir dekades as ‘n morele baken hoog bo die oerwoud van menslike begeertes gedien het nie.

Deur my ma se betrokkenheid by die onafhanklikheidstryd en later ook in my werk as joernalis het ek heelwat kontak met Namibië se helde gehad.

Snaaks genoeg het hulle altyd meer in die buitelandse media as in my geskiedenisboeke op skool verskyn, maar dit het gelukkig nou baie verbeter.

Hierdie helde en heldinne het ’n natuurlike aantrekkingskrag wat jy in hul teenwoordigheid kan aanvoel.

Almal in ’n vertrek, selfs al drie die presidente wat Namibië al gehad het, sou vir ‘n oomblik stil raak en die ongelooflike energie wat Ya Toivo uitgestraal het, waardeer wanneer hy die vertrek instap.

Baie van sy voormalige vyande en selfs diegene wat hom inhegtenis geneem het, het hom vir sy toewyding, trots en volharding geprys. Dit bewys oor watter stille krag hierdie reus beskik het.

Tatekulu Andimba Herman Toivo ya Toivo, of die veldmaarskalk, soos hy homself graag genoem het, was ‘n man wie se oortuigings hom die krag gegee het om een van die invloedrykste mense op die planeet te wees.

Sy destydse verklaring in die hoërhof in Pretoria het die wêreld geskud.

Ya Toivo het, in ’n verklaring met baie dieselfde impak as Martin Luther King se "I have a dream", die res van die wêreld bewus gemaak van Namibië se stryd om onafhanklikheid.

Hy het sy uitdagende gees op die roerendste manier moontlik op rekord geplaas.

Oubaas Ya Toivo was ‘n toegewyde patriot en veteraansoldaat wat tot in sy negentigs sonder moeite by sy marsjerende kamerade kon inval.

Die Nelson Mandela-stigting het gesê hulle sal altyd sy hardkoppige rebelsheid met blymoedigheid onthou.

Mandela self het gesê hy was beïndruk met Ya Toivo se onbreekbare gees.

Ná 16 jaar op Robbeneiland het die vyand gedink die onafhanklikheidsbeweging is omvergewerp, maar toe hulle hom vrylaat, het hy vrede en die land se ontwikkeling bo sy eie behoeftes geplaas en die teendeel bewys.

Ek het die voorreg gehad om af en toe met Ya Toivo te gesels en was selfs in die bevoorregte posisie om vir hom ‘n vuur te kon maak.

Net soos die vlamme van sy gees duidelik in sy oë gebrand het, het hy ook van ‘n groot vuur gehou.

En dit is hoe ek hom sal onthou: as ‘n groot vuur wie se toewyding aan sy beginsels so aansteeklik was, dat dit later die apartheidhuis tot die grond laat afbrand het.

Sy wysheid en eerlikheid, selfs oor sy eie party, was nodig om ons aan onsself aanspreeklik te hou.

Sonder die groot vuur wat almal bymekaar bring, verantwoordbaar hou en die pad aandui, sal almal in die koue en duisternis vergaan.

Soos daar nooit weer ‘n Mandela, ‘n Castro of ‘n Kennedy sal wees nie, sal daar ook nooit weer ‘n Herman Andimba Toivo ya Toivo wees nie.

Tot siens aan ons leier, ons held en ons groot vuur.

Dankie vir dit wat u gedoen het, en vir wat u ons laat glo het ons kon bereik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!