Ystermyn-planne vorder
Die planne om ’n oopgroef-ystermyn by Dordabis te vestig, neem vorm aan.
Augetto Graig – Lodestone Namibia is besig met die ontwikkeling van ’n ystermyn net buite Dordabis. Insette vir ’n ondersoek na die omgewingsimpak van die projek is reeds teen Augustus 2020 deur Namisun projekbestuurders aangevra.
Die Dordabis ystererts mynprojek sal ’n reeks veranderinge in infrastruktuur van die omgewing vereis, maar kan tot 445 permanente nuwe werksgeleenthede skep.
Om die myn moontlik te maak, vereis die bou van ’n nuwe 132 kV kraglyn vanaf die Auas NamPower substasie; die aanlê van ’n 95 km mPVC 315 mm ondergrondse waterpyplyn vanaf die Oanobdam buite Rehoboth; die verskuiwing van ’n deel van die C23-grondpad met sowat 300 meter na die suidekant; vergroting van die Auas-klipbrug en opgradering van verskeie padkruisings, asook die herbou van die Weatherly-spoorsylyn en opgradering van die Hoffnung-sylyn by Finkenstein Estate.
Dit alles in die strewe om 2 miljoen ton ystererts per jaar (suiwerheidsgraad 68%) oor die volgende 17 jaar op vragmotors na Hoffnung, van daar per trein na Walvisbaai te vervoer en uiteindelik wêreldwyd te kan verskeep.
Reeds in 1954 het Dordabis se ysterneerslag die New York Times gehaal, toe ’n bekende Amerikaanse staalvervaardiger Bethlehem Steel ’n spoorweg en ’n hawe wou bou om dit te ontgin.
Lodestone het in 2006 na vore getree toe die Namibiese geoloog mnr. Jan Joubert die prospekteerlisensie vir die gebied gekry het.
Joubert is steeds die nie-uitvoerende direkteur van die maatskappy wat nou onder leiding van mnr. Carsten Mosch as uitvoerende hoof stelselmatig vorder.
Mosch en sy finansiële hoofbeampte, mnr. David Hinsley, is ook die grootste beleggers in die maatskappy, met ander nie-uitvoerende direkteure mnre. Johannes Marklin en James Grobler. Mosch, Hinsley en Marklin het al drie lang loopbane by Deutsche Bank voltooi voor hulle hierdie projek aangepak het, terwyl Grobler ’n baanbreker logistieke kontrakteur was.
Lodestone se bestuurspan sluit ook mnre. Daniel Castelyn, Oscar van Antwerpen en Werner Moeller, asook dr. Ekkehart Mertins in, wat almal kenners met lang ervaring in mynbou is.
“Ons vorder goed met die beplanning en ontwerp,” sê Castelyn.
Hul mynboulisensie nr. 182 is reeds winsgewend, nadat omgewingsklaring in Desember 2019 hernu is vir hul kleinskaal magnetietoperasie wat Ohorongo Cement voorsien.
Die plan is om twee groot oopgroefmyne langs mekaar te bou, met die stortingsterrein vir afvalrots tussen die twee. Die plan is aangepas vandat dit oorspronklik in 2013 goedgekeur is, om alle mynbou nou tot noord van die C23 te beperk. Die nuwe plan is vir ’n kleiner mynoperasie wat as aanvanklik beoog is, wat meer doeltreffendheid lewer.
Tot 4,13 miljoen ton rots moet per jaar deur die aanleg loop, teenoor die oorspronklike 3,4 miljoen ton. Teen topvlak produksie moet 1,84 miljoen ton nat ysterkonsentraat en 2 miljoen ton droë ysterkonsentraat per jaar vervaardig word.
Ná die verplettering en maal van die erts, sal die ystererts meganies gekonsentreer word. Verpletterde rots sal op vervoerbande na die verwerkingsaanleg geneem word, waar dit gemaal en gekonsentreer word deur middel van swaartekrag en magnetiese skeiding. Geen chemiese verwerking is nodig nie, volgens die maatskappy.
In terme van die omgewingsimpak moet gekyk word na hoe die nuwe myn ondergrondse waterbronne sal beïnvloed. Potensiële lug- en geraasbesoedeling asook die impak op bioverskeidenheid in die gebied is ander oorwegings. Nagevolge vir nabye gemeenskappe moet ook in ag geneem word, saam met die impak van die nuwe kraglyn en waterpyplyn.
Goedkeuring moet vanaf drie ministeries (myne en energie; werke en vervoer; landbou, water en grondhervorming) kom, voordat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme finaal moet instem. Hierna, indien die ysterprys reg staan, kan konstruksie in Februarie 2021 begin, met ’n boufase van ongeveer 22 maande, voordat mynbedrywighede kan begin.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie