Ystervuis teen misdaad
’n Golf van verset teen misdaad het die naweek ná die moord op die Botma-egpaar van Koës weerklink.
Ronelle Rademeyer - Die vermoorde mnr. Giel Botma (79) van die plaas Lindeshof by Koës het ure voor ’n moordbende van drie mans hulle oorval het, met ’n huisvriend planne bespreek om sy en sy vrou, Sarie (80), se plaaswoning te beveilig.
Dit nadat ’n man Donderdagnag by hul huis ingebreek en sowat N$500 uit sy kantoor gesteel het.
Só het die vriend, mnr. Eugene Vermeulen, gister aan Republikein vertel.
“Oom Giel het Vrydagmiddag seker so vir ’n halfuur by my kom sit en gesels. Ek sou vandag uitgegaan het plaas toe om opmetings te doen sodat ons diefwering en traliehekke vir hulle kon opsit,” vertel Vermeulen, ’n sakeman op Koës.
Dit was ook hy wat in Saterdag se vroeë oggendure op die moordtoneel afgekom het. Hy het uitgery nadat hy gesien het hy het ’n oproep van tannie Sarie op sy selfoon gemis.
Volgens hom bestaan die vermoede dat dieselfde man wat Donderdagnag by die Botmas ingebreek het, Vrydagnag met twee makkers teruggekeer het na die plaas om die bejaarde egpaar te vermoor en te beroof.
Botma, een van die voorste Boerbok-telers in die land en 'n uithaler-boer, is na bewering met sy .22-geweer geskiet. Sy vrou se liggaam is in die badkamer gevind. Sy het na bewering beserings aan haar lyf gehad wat daarop dui dat sy aangerand is. Volgens Vermeulen is dit nog nie bekend of sy ook geskiet is nie.
Kort ná die gru-ontdekking het die Namibië Landbou-Unie (NLU) onder aanvoering van mnr. Hannes Visagie en mnr. Frikkie Engels, voorsitter van die Gesamentlike Misdaadvoorkomingsforum, ’n ystervuis-operasie in samewerking met die polisie van stapel gestuur.
“Dit was minute toe is al die paaie suid van Windhoek tot by Karasburg, en oos van die hoofpad na die Suide beman,” vertel Visagie.
“Ons het, deur al ons strukture in werking te stel en op die hoogste vlak met die polisie saam te werk, die boodskap uitgestuur dat Namibië misdaad nié sal duld nie.
“Ons gemeenskap verwerp hierdie goed ten sterkste. Ons doen en late Saterdag getuig daarvan dat ons as landbougemeenskap, in samewerking met die polisie, nee sê hiervoor. Punt!”
SOUT VAN DIE AARDE
Intussen het me. Petra Botma, hul skoondogter, die bejaarde Botmas só aan Republikein beskryf: “Hulle was sout-van-die-aarde mense. Mense wat hard grootgeword het; wat swaar gekry het, maar wat alles gegee het om dinge in hul omgewing te laat gebeur.
“Hulle het 60 jaar op Lindeshof geboer en produktief vir hierdie land gewerk. Nou is al daardie kennis weg.”
Sy en haar man, Giel (jnr.) boer buite Aranos.
Vermeulen het dit beaam. “Oom Giel het ’n diep, diep kennis van boerdery gehad. As kleinveeboer is daar nie ’n prys wat hy nie vir sy diere gewen het nie.”
POLISIE BEDANK
Visagie sê al is sosiale media soms ’n euwel, is dit Saterdag suksesvol ingespan om boere op grondvlak te mobiliseer en inligting te deel.
Die drie vermeende moordenaars, wat met die Botmas se bakkie, die moordwapen en vermoedelik ook ’n tweede wapen gevlug het, het eers suid gery en later oos geswenk, die Kalahari in, vertel Visagie.
Dit is nie bekend waar die twee mans wat Saterdagaand by Koës vasgetrek is, uitgeklim het nie. Hul makker is toe alleen vort na Aranos.
Volgens Visagie het die inhegtenisname van die man op Aranos die polisie gehelp om later die ander twee ook vas te trek – die een man op Koës en die ander een, wat probeer vlug het, buite die dorp.
Visagie het gister gesê die landbougemeenskap is dankbaar vir die polisie se hoofkantoor in Windhoek se goeie samewerking.
“Sonder om twee keer te dink, is die polisiehelikopter na Mariental gestuur. Daar het dit gereed gestaan om op te styg die oomblik as die boere laat weet waar die bakkie gewaar is.”
Hy het verder gesê dit is belangrik dat Namibiërs paraat bly.
“As dit goed gaan, vergeet ons hoe belangrik dit is dat ons strukture goed is en dat ons aandag aan veiligheid gee.”
Die Botmas laat benewens hul seun, Giel, ook twee ander kinders agter. Hulle is me. Wilma van Wyk van Upington, die oudste van die egpaar se drie kinders en hul jongste seun, mnr. Schoeman Botma, van Kathu. Hulle laat ook hul vyf kleinkinders agter.
Geen begrafnisreëlings is al bekend nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie