Zambezi-plan binnekort voltooi

‘n Behoefte aan ontwikkeling van die Zambezirivierkom bestaan – veral op die gebiede van energie, voedselsekerheid en beter ekostelseldienste.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - ‘n Strategiese plan om die Zambezirivierkom se ontwikkelingspotensiaal te ontsluit, sal na verwagting binne die volgende vyf maande afgehandel en goedgekeur word.

Omstandighede vir inwoners van die gebied het die afgelope 10 jaar nie veel verbeter nie.

‘n Gebrek aan infrastruktuur, die agteruitgang van die omgewing en voortdurende armoede kniehalter ontwikkeling en vooruitgang in dié gebied.

Die Zambezirivierkom huisves meer as 40 miljoen mense.

Dié getal sal teen 2025 na verwagting tot sowat 51 miljoen styg.

Die gebied strek oor agt “oewerlande”, wat Namibië, Angola, Botswana, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe insluit.

BEHOEFTE AAN ONTWIKKELING

‘n Behoefte aan die ontwikkeling van die gebied bestaan – veral wat energie, voedselsekerheid, en beter ekostelseldienste betref.

Planne moet vir beleggings gemaak word, asook vir die aanpak van eksterne bedreigings en meer werksgeleenthede.

Dienooreenkomstig is die Zambesi-waterloopkommissie (Zamcom) besig om ‘n strategiese plan vir die gebied op te stel wat beleggings in die rivierkom moet fasiliteer en ook die ontwikkelingspotensiaal daarvan ontsluit.

Zamcom bestaan uit ‘n raad van ministers, wat hoofsaaklik vir besluitneming verantwoordelik is, en uit ‘n tegniese advieskomitee (Zamtec) en die sekretariaat (Zamec).

Zamec se kantore is in Harare, Zimbabwe, geleë.

BINNEKORT AFGEHANDEL

Die opstel van die strategiese plan het reeds in Januarie 2017 begin en sal na verwagting teen volgende jaar Januarie afgehandel wees en goedkeuring van Zamcom se raad van ministers ontvang.

Die hoop is dat dit die betrokke lande met hul ontwikkelingsagenda sal help en ook om armoede in die groter Suider-Afrika uit te wis.

Die plan, waarvan fase een en twee reeds afgehandel is, is op ‘n deelnemende basis met onderskeie belangegroepe opgestel.

Sekere strategiese doelwitte is uiteengesit, wat die gebrek aan infrastruktuur aanspreek, asook die verbetering van die rivierkom deur beter samewerking in die streek.

Verder moet die institusionele vermoëns van Zamcom se sekretariaat ook nog groei.

Die betrokke lande wil hul ontwikkelingsagenda deur die volhoubare gebruik van beskikbare waterbronne deur samewerking bereik.

Kommentaar

Republikein 2025-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer