Zambiër kom jaag na sy Rössing marathon-driekuns
Namibiese langasems tree aan vir een van hul grotes vir die jaar.
Andrew Poolman - Die hopelik gunstige kustoestande en die status as nasionale kampioenskap maak die Rössing-marathon 'n aanloklike wedloop vir die land se langafstandhardlopers.
Die gesogte byeenkoms vind môreoggend op Swakopmund vanaf 'n nuwe venue plaas, naamlik die Pro-Ed Akademie sportveld.
Teen gister was die getal inskrywings vir al die afstande reeds verby die 700 hardlopers, met laat inskrywings wat nog vandag by die Pro-Ed veld gedoen kan word (18:00 tot 20:00).
Namibië se beste mansatlete kon die afgelope twee jare nie verhinder dat die Zambiese hardloper Mathews Mutanya die 42 km beklink nie.
Met sy wentyd verlede jaar (twee ure 21 minute) het Mutanya voor Kefas Kondjashili (tweede in 2:22) oor die eindstreep gehardloop, met Jesaya Matheus die volgende Namibiër (derde in 2:23).
Teen druktyd gister was dit bevestig dat Mutanya weer ingeskryf het en ook 'n paar Zambiese landgenote saambring.
Kondjashili het gister nog nie ingeskryf nie, maar Matheus wel. 'n Ander prominente figuur in die manswedloop is Mynhardt Kauanivi. Die Olimpiese hardloper van 2016, wat verlede jaar die Rössing-byeenkoms se halfmarathon gehardloop het, sal hierdie keer vir die volle afstand aantree.
Kauanivi en die veteraan Salomo David sal hoop die buitelandse aanslag vanjaar die hoof te bied.
Die jarelange byeenkomsrekord vir mans bly 'n ontwykende droom wat sedert 1992 nie uitgedaag is nie, toe die onvergelyklike, wêreldklas Luketz Swartbooi die 42 kilometer in 2:11:23 afgeblits het.
Aan die vrouekant is bevestig dat Helalia Johannes môre vir geen wedloop sal inskryf nie. Namibië se heersende sportvrou van die jaar en Statebondspele-kampioen van 2018 verdien 'n welverdiende blaaskans, nadat sy die afgelope naweek in Japan opnuut haar eie nasionale rekord in die halfmarathon met 'n volle drie minute aan flarde gehardloop het.
Johannes het immers reeds met groot oortuiging die Olimpiese kwalifiserende merk vir Tokio 2020 oortref en hoop nou dat van haar landgenote dieselfde kan vermag – want tans is sy die enigste kwalifiseerder in atletiek.
Alina Armas en Anna Amutoko is plaaslike kampioenhardlopers wie se inskrywings vir die 42 km gister reeds bevestig was – net soos Risa Dreyer, wat die afgelope jare telkens die land se vinnigste by die Comrades ultra-marathon was.
Lavinia Haitope is 'n bekende en gedugte langasem wie se inskrywings teen gister nog nie bevestig was nie. Ditto verlede jaar se vrouekampioen (in 2:43), die driemalige Olimpiër Beate Naigambo.
Die gewildste afstand by die Rössing-byeenkoms bly egter die 10 km, met die meeste inskrywings.
Die Frank Slabbert halfmarathon (21 km), die Uraan-aflos (10 km) wat net vir werknemers van uraanmyne is, en 'n 5 km pretstap ten bate van die Kankervereniging is van die ander opsies vir deelnemers.
Môreoggend begin die opwarming voordat die marathon en halfmarathon beide om seweuur wegspring. Die afsnytyd vir die twee afstande is 10:00 en 12:00, onderskeidelik.
SKOLE OP BAAN EN VELD
Op Stampriet is Securitas môre die hoofborg van 'n NSSU streekatletiekbyeenkoms.
Privaatskool Elnatan is die gasheer met Windhoek Gimnasium, Windhoek Afrikaanse Privaatskool en Gobabis Gimnasium wat ook die bestes van hul interhuisbyeenkomste in die suide sal gaan toets.
Twaalf atlete van Rehoboth-atletiekklub het ook ingeskryf. Die byeenkoms begin agtuur, met die aflosse vir 17:00 geskeduleer.
• Nog 'n streekbyeenkoms vind môre op Outjo plaas met Privaatskool Moria as gasheer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie