• Tuisblad
  • Sake
  • Zeder sien groei in Zaad ná Pioneer verkoop word
Zeder sien groei in Zaad nu00e1 Pioneer verkoop word
Zeder sien groei in Zaad nu00e1 Pioneer verkoop word

Zeder sien groei in Zaad ná Pioneer verkoop word

Nellie Brand-Jonker – As die kosvervaardiger Pioneer uit die prentjie is by die landboubeleggingsmaatskappy Zeder, gaan ’n maatskappy wat op saad vir die landboubedryf fokus sy grootste belegging wees.

Zeder besit 28,6% in Pioneer Foods, wat deur die PepsiCo-groep gekoop gaan word.

Zeder het in sy halfjaar tot einde Augustus die waarde van sy belang in Zaad as R2,2 miljard aangetoon.

Volgens Norman Celliers, uitvoerende hoof, gaan Zeder nog R300 miljoen in Zaad belê om twee beleggings te ondersteun. In die vorige boekjaar het Zeder ook R341 miljoen in Zaad belê.

Die maatskappy bied Zeder waardevolle blootstelling aan die “aantreklike internasionale mark vir landbousaad”, luidens sy jongste jaarverslag. Sy volfiliale sluit in Agricol, Klein Karoo Seed Marketing en Bakker Brothers.

Die belegging in Zaad is bedoel vir ’n transaksie wat begin September aangekondig is om die res van die aandele in Farm-Ag van Suid-Afrika te bekom en om 40% van die EAS-groep van Kenia te koop.

EAS is in 1972 gestig en is een van die grootste saadmaatskappye in Oos- en Sentraal-Afrika, volgens Celliers.

“Zaad het Oos- en Sentraal-Afrika as belangrike groeigebiede vir saad en chemikalieë vir landbou geïdentifiseer. Na afloop van die belegging sal Zaad toegang tot dié markte hê.”

Die belegging in Zaad is naas Pioneer die tweede grootste belegging nadat Capespan in Januarie sy logistieke afdeling ontknoop het en dit nou apart as The Logistics Group bedryf word. Die vrugte- en boerderybedrywighede bly in Capespan.

Anthony Clark, ’n ontleder van aandele met ’n kleiner markwaarde, het op Twitter gesê hy glo nie Zeder se bates gaan sonder Pioneer die mark vreeslik opgewonde maak nie.

Zeder se aandeelhouers het op 30 September die transaksie met PepsiCo goedgekeur. Pioneer Foods se aandeelhouers stem op 15 Oktober daaroor.

Zeder het voorheen gesê hy gaan R6,4 miljard vir sy aandele in Pioneer Foods kry. Daarvan gaan omtrent R1,59 miljard gebruik word om skuld te verminder en vir transaksiekoste.

Van die oorblywende bedrag van R4,82 miljard gaan Zeder tussen R4,25 miljard en R4,75 miljard aan aandeelhouers versprei.

Sy grootste aandeelhouer is die genoteerde PSG-groep.

“Die oorblywende opbrengs sal gebruik word om in nuwe geleenthede of in Zeder se bestaande beleggings te belê.”

Die waarde van Zeder se beleggings en kontant minus sy skuld het met 11% tot R6,25 per aandeel in die halfjaar tot einde Augustus gestyg.

Sedert die aankondiging van die transaksie in Julie het Pioneer Foods se aandeelprys skerp gestyg.

Danksy dit het die waarde van Zeder se belang met 31% tot R6,1 miljard verhoog.

Die belang in Pioneer het einde van die halfjaar meer as die helfte van die waarde van sy beleggings beloop, vergeleke met 43,5% laasjaar, omdat die res van sy beleggings nie werklik gegroei het nie.

Volgens Celliers is die sentiment van beleggers oor Zeder en die sektor waarin hy bedrywig is, steeds negatief weens die toestande wat daar heers. Hy sê dit plaas steeds druk op die waardasies van die beleggings wat hy besit, asook op Zeder se aandeelprys.

Zeder se aandeelprys het van ’n hoogtepunt van bo R9 in Mei 2015 tot R4,62 gedaal.

Hy glo die negatiewe toestande gaan op kort tot mediumtermyn onveranderd bly. Die waardasie van Zeder en sy beleggings gaan in die res van die boekjaar onder druk bly.

“Ten spyte van die uitdagings, gaan Zeder in die lig van die Pioneer-transaksie waarde skep vir aandeelhouers in die boekjaar. Na verwagting gaan die wesenlike kontantopbrengs Zeder in staat stel om kapitaal aan sy aandeelhouers uit te keer en aktief te belê in sy bestaande beleggings en nuwe geleenthede wat voorkom.”

Die maatskappy verklaar nie met die halfjaar ’n dividend nie.

Sy aandeelprys het Dinsdag met tot 1% tot R4,62 gestyg. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer