Zenobia wou vir haar en Eva 'rus vind'

Zenobia Seas het gister beken hoe sy haar dogter twee dae voor haar derde verjaardag vermoor het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer en Marc Springer



Die Swakopmundse ma wat haar driejarige dogter sowat twee jaar gelede noord van Hentiesbaai in haar motor met 'n kombers versmoor het, wou haarself daarna ook om die lewe bring “om rus te vind”.

Zenobia Seas (34) het gister voor regter Christie Liebenberg in die hoërhof in Windhoek beken dat sy klein Ava Antoinette Owoses op 26 September 2016 vermoor het deur haar te versmoor. Sy het ook skuld beken op die klag van regsverydeling waarop sy tereg gestaan het, en erken sy het die voertuig waarin hulle was, aan die brand gesteek.

Seas het in haar pleitverduideliking gesê sy was van Januarie 2013 in 'n ­romantiese verhouding met mnr. ­I­mmanuel (Dumba) Joslin Owosob en Ava is uit dié verhouding gebore. Dit blyk dit was 'n ongesonde verhouding waarin sy aangerand en emosioneel afgetakel is.

Owoseb het beloof om ná die geboorte van hul kind met haar te trou, maar hy het nie dié belofte nagekom nie.

Hy het baie gedrink en haar fisiek aangerand en selfs verkrag.

“Wanneer ons gestry het, het hy my name genoem soos dat ek niks werd is nie en dat hy my net vir seks en my geld gebruik,” sê Seas in haar ­skriftelike pleitverduideliking.

Hy het ook met ander vroue uitgegaan al was hulle in 'n verhouding. By twee geleenthede het hy haar in die teenwoordigheid van klein Ava aangerand en daarna het hy teen haar wil met haar seks gehad, lui haar pleitverduideliking.

“Ten spyte daarvan het ek gedog hy misbruik net alkohol en dat hy sal verander as hy ophou drink.”

Sy het getuig hoe sy later haar werk verloor het en moes terugtrek na haar ouerhuis omdat Owoseb hulle nie wou inneem en versorg nie, en ook nie gereelde onderhoud betaal het nie.

Toe sy later met iemand anders 'n verhouding aangeknoop het, het hy aangehou om haar te bel en haar nuwe kêrel sleg te sê. Daar was toe ook reeds 'n ander vrou in sy lewe.

Vroeg in September 2016 het hy laat weet familie van hom uit Duitsland kom kuier en hulle wil vir Ava sien, maar sy was nie gemaklik daarmee om hul dogter alleen in sy sorg te laat nie.

Hy het volgens haar pleitverduideliking gesê hy wens haar dood sodat hy sy kind kan kry.

Hulle het ook 'n uitval gehad omdat hy nie vir Ava 'n verjaardaggeskenk wou koop nie en haar daarvan beskuldig het dat sy net agter sy geld aan is.

Die laaste strooi was toe sy in dié tyd uitgevind het dat Owoseb en sy nuwe meisie besluit het om 'n keisersnee vir die geboorte van hul baba te reël op 28 September 2016; dieselfde dag waarop Ava verjaar en drie sou word. Hy verjaar ook op dié dag.

“Ek was baie ontsteld; ek kon nie verstaan hoekom 'n ouer sy kind so baie haat nie. Ek het myself afgevra wat ek gedoen het om soveel ellende te ervaar; daar is ingemeng met my persoonlike lewe en ek het gevoel ek en my kind sal beter af wees as ons nie meer in hierdie wêreld is waar niemand ons wil hê nie,” het sy in haar pleitverduideliking gesê.

“Ek het besluit om my en my dogter se lewe te neem, hopende dat ons rus sal vind.”

Seas het gister aan die hof vertel sy was die betrokke dag op pad om Ava na Owoseb in Windhoek te neem en weet nie hoekom sy toe die Hentiesbaai-pad geneem het nie.

Nadat sy Ava verwurg het, het sy in haar dagboek geskryf: “Jy het gekry waarvoor jy gevra het. Ek is uit jou lewe. Jy sal nooit vir Ava kry nie; hierdie is my verjaardaggeskenk aan jou.”

Sy het vertel sy het Ava se mond en neus toegehou en dit het omtrent 'n uur geduur voordat sy dood is. Sy het erken sy was “mal en woedend”, maar het ontken dat sy beplan het om Ava dood te maak toe sy haar omstreeks twaalfuur daardie middag by die kleuterskool gaan oplaai het.

Me. Antonia Verhoef, adjunk-­aanklaer-generaal, het namens die staat aangevoer sy het Ava vermoor om Owoseb te straf. Seas het dit ontken en gesê sy wou haarself ook vermoor om “uit sy pad te kom”.

Verhoef het dit ook aan haar gestel dat dit nie lyk asof sy ernstig was om haarself om die lewe te bring nie, aangesien sy eers die motor aan die brand gesteek het nadat die buurtwag van Hentiesbaai op die toneel verskyn het. Sy het met hout 'n vuur by haar voete gemaak en die lede van die buurtwag het die venster oopgebreek en die vuur geblus.

Owoseb, wat gister se hofverrigtinge bygewoon het, het aan Denver Kisting gesê hy pleit by die hof om vir Seas te begenadig. “Ek vra versagting vir haar. Ek het haar vergewe.

“Dit (die hofverrigtinge) was nogal neerdrukkend,” het hy laat gister by navraag gesê.

Die staat het haar pleit aanvaar, waarna sy op beide die klagte skuldig bevind is. Mnr. Mpo­kiseng Dube het vir Seas verskyn. Sy sal Vrydag gevonnis word.



.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!