Zille: DA wou my uitwerk
Dié opspraakwekkende onthulling sal waarskynlik net die openlike burgeroorlog wat op die oomblik in die party woed, verder aanblaas.
Dawie Boonzaaier – Die voormalige DA-leier Helen Zille sê haar party het haar ná haar omstrede “kolonialisme-twiets” in 2017 uit die pad probeer kry deur vir haar ’n werk in die buiteland te reël.
Dit, skryf Zille in ’n rubriek in Rapport vandag, was deel van ’n desperate poging om die party te “suiwer” en aantrekliker te maak vir “aanhangers van identiteitspolitiek wat in elk geval nooit vir ons (die DA) sou stem nie”.
Zille, onder wie se leierskap die party sy grootste suksesse nóg in ’n nasionale verkiesing by die stembus behaal het, se opspraakwekkende onthulling sal waarskynlik net die openlike burgeroorlog wat op die oomblik in die party woed, verder aanblaas.
Dit volg boonop kort op die hakke van die bedankingsbrief van die party se verkiesingsbestuurder, Jonathan Moakes, waarin hy die party beskryf as ’n “toksiese, abnormale omgewing” waar “interne gevegte, vertrouensbreuk, (en) onenigheid . . . die norm geword het”.
Moakes, op wie se wagbeurt die party byna ’n halfmiljoen stemme en vyf parlementêre setels in die algemene verkiesing in Mei verloor het, het luidens dié brief, wat Vrydag aan die media gelek is, reeds drie maande voor die verkiesing aangedui dat hy gaan bedank.
Hy skryf die DA staan by ’n “kruispunt” en sal moet besluit wie en wat hy is.
Hy kap ook na die partyleiers en sê daar is ’n onvermoë om interne kwessies in die party te bestuur.
In haar rubriek vir Rapport gooi Zille net nóg vet op die vuur deur te beskryf hoe sy ná haar omstrede kolonialisme-twiets nie net tydelik geskors is nie, maar boonop aangemoedig is om Suid-Afrika te verlaat.
“Die DA het selfs ’n skenker gevind om hul strategie te finansier. As ek verdwyn, so het hulle gereken, sal die party uiteindelik as ‘getransformeer’ beskou word. Toe ek beleef weier om as premier van die Wes-Kaap te bedank en die land te verlaat, is ek verbied uit alle party-aktiwiteite.”
’n Senior parlementslid van die DA het Saterdag erken dat daar in 2017 aan Zille ’n aanbod gemaak is vir ’n pos as dosent by twee Engelse universiteite. Die persoon, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het egter benadruk dat die aanbod nie ’n DA-inisiatief was nie “en ook nie deel van ’n eis was vir haar om te bedank nie”.
Zille skryf openhartig oor haar aandeel in die party se huidige probleme en sê dat een van haar grootste foute as partyleier was om toe te laat dat die ANC en EFF se “ras-narratief” ook in die DA vaardig geword het.
“Ek was die een wat die wilde tier opgesaal het. Ek het gedink ons kan hom veilig ry. Maar toe ek afklim, het hy my gebyt. Wat het ek verwag?”
James Selfe, voorsitter van die party se uitvoerende federale raad, het gister erken dat Zille gevra is om te bedank ná haar twiets oor kolonialisme.
Selfe sê Zille se twiets dat kolonialisme se nalatenskap nie net sleg is nie, was skadelik vir die DA “omdat dit een ras teen ’n ander gestel het”.
“Dit is die antitese van dit waarvoor die DA staan,” sê Selfe.
Hy het Zille bedank vir haar rol as leier van die DA, maar sê sy is nou net ’n gewone lid van die party, en dat haar Rapport-rubriek haar eie mening is, en nie dié van die party nie.
Zille skryf ook dat, nadat die DA meer divers geword het, die “ANC en hul medereisigers” voortgegaan het om die DA se swart leiers as “Zille se marionette” te beskryf.
Daarna het die party se breintrust tot die gevolgtrekking gekom dat die DA uiteindelik sy beeld as ’n “wit party” sou verloor as hy haar in die openbaar “verpletter”.
Sy skryf verder: “Dis nie ’n samesweringsteorie nie. Ek het ’n dokument wat na die party se federale uitvoerende raad gestuur is, wat dit verduidelik.”
Toe sy kort daarna, ná ’n besoek aan Singapoer, ’n reeks twiets stuur waarin sy die erflating van kolonialisme as “nie net negatief nie” beskryf het, het die DA sy strategie om van haar ontslae te raak, glo in werking gestel.
Selfe het gister gesê hy is onbewus van enige planne om Zille “te vernietig”.
Die DA se desperate pogings om Zille te snoer het die afgelope week vir die soveelste keer misluk nadat die partyleier, Mmusi Maimane, gedreig het om haar voor stok te kry oor ’n twiet waarin sy te velde getrek het teen die term “wit bevoorregting” en gesê het dat “swart bevoorregting” ewe erg is.
Maimane het aanvanklik gesê stappe gaan teen haar en twee ander senior partylede gedoen word weens oortredings van die party se sosialemediabeleid.
Hoe hy teen Zille, wat ná haar uittrede uit die politiek slegs ’n gewone DA-lid is, gaan optree, het hy nie gesê nie.
Selfe, wat Vrydag nog die klagtes bevestig het, het gister gesê die party het geen belang meer daarby om teen Zille op te tree nie, “want sy is nie meer ’n openbare verteenwoordiger nie”.
Maimane, wat by die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa in Pretoria was, se woordvoerder het gesê hy is nie beskikbaar vir kommentaar nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie