Zim-betogings: Pastoor ná 2 weke vry op borgtog

Evan Mawarire is aanvanklik daarvan aangekla dat hy die regering probeer omverwerp het.
Evan Mawarire, ’n bekende pastoor en aktivis van Zimbabwe, wat in die onlangse betogings in die land in hegtenis geneem is, is uit die tronk vrygelaat.

Hy was een van honderde ander wat vir die versteuring van die openbare orde in hegtenis geneem en aangekla is.

Gewelddadige betogings het 20 dae gelede begin nadat pres. Emmerson Mnanga­gwa aangekondig het dat die brandstofprys met 150% verhoog gaan word.

Mawarire is aanvanklik daarvan aangekla dat hy die regering probeer omverwerp het.

Mawarire sê in ’n video op Twitter dat hy is twee weke in die Chikurubi-maksimumveiligheidsgevangenis aangehou was en op streng borgtogvoorwaardes vrygelaat is.

ONMENSLIKE BEHANDELING

Hy het ’n beroep gedoen op sy Twitter-volgelinge om vir Zimbabwe te bid. Hy sê hy bid ook vir die “onskuldige mans en drie 16-jarige seuns wat glo nog onmenslik in die Chikurubi-tronk behandel word.

Soos vroeër berig, is mense in die betogings geskiet en aangerand, en die land se internettoegang is by tye afgeskakel.

Prokureurs en aktiviste sê die polisie en soldate het minstens 12 mense vermoor, nog meer gewond en honderde in hegtenis geneem. Een polisiebeampte is dood.

Nadat Sky News die week ’n video gewys het waarin die polisie ’n man aanrand, het Mnangagwa onderneem om op te tree teen die lede van die veiligheidsmagte wat hulle hieraan skuldig maak.

Zimbabwe se ministerie van inligting, publisiteit en uitsaaiwese het daarna bevestig dat die konstabel in die video in hegtenis geneem is.

MOORD, VERKRAGTING

In dokumente wat die Britse koerant The Guardian onder oë gehad het, blyk dit dat soldate aandadig was aan die moord en verkragting tydens die onlangse gewelddadige betogings teen die regering in Zimbabwe.

The Guardian het Woensdag berig dat verskeie dossiere deur polisiebeamptes van dié land met die koerant gedeel is om die soldate se grusame aanvalle op burgerlikes bloot te lê. ’n Reeks aanvalle word in dié dossiere beskryf, insluitend twee moorde en die verkragting van ’n 15-jarige meisie. Ondersoekbeamptes in die Zimbabwiese polisie het in die dossiere geskryf dat dié grusame dade deur mans gepleeg is wat “uniforms of kamoeflering” dra, ooglopend ’n woordkeuse om nie die kragtige weermag van die land in dié misdade te impliseer nie.

Volgens die polisie het misdadigers, wat uniforms gesteel het, die misdrywe gepleeg, maar in die dokumente wat in The Guardian se besit is, dra die aanvallers outomatiese masjiengewere wat net deur soldate en polisiebeamptes in Zimbabwe gebruik word. Die geweld is die ergste wat Zimbabwiërs die afgelope dekade beleef en het die hoop laat vervaag dat die einde van die 37 jaar lange outokratiese beheer van Robert Mugabe ’n nuwe era vir die land sou inlui.

GETAL SKIETWONDE

Volgens die Chicago Tribune het 18 mense in konflik gesterf sedert die 76-jarige Emmerson Mnangagwa president van Zimbabwe geword het. “Mnangagwa het belowe dat hy verandering sou bring, maar niks het verander nie. Ons word nou nie net gejaag en geslaan nie maar ook geskiet,” het Boniface Tonderai, ’n 56-jarige groenteverkoper in Harare, aan joernaliste gesê.

Dokters raam die getal skietwonde sedert die betogings op 78. Dié getal is hoër as die 20 skietwonde wat gedurende die verkiesing in 2008 aangemeld is.

Volgens News Day is die militêre beheer van burgerlikes in Zimbabwe die duidelikste teken dat Mnangagwa in sy leierskap as president gefaal het. Indien soldate nie van publieke plekke verwyder word nie, sal Zimbabwe net verder en verder in politieke en ekonomiese chaos verval, sê Fadzayi Mahere, ’n rubriekskrywer, in News Day. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!