‘Zim kan sy landboubedryf op ’n tiekie omdraai’
Sarel van der Walt - Zimbabwe het die potensiaal om sy landboubedryf baie gou “op ’n tiekie om te draai”.
Só sê dr. Theo de Jäger, nuwe president van die Wêreld-landbouorganisasie.
“Hulle kan dit doen as die beleidsomgewing herstel. Die land het nog ’n baie goeie infrastruktuur en die groot voordeel is dat daar deesdae eenheid in Zimbabwe se landbou is.
“Al vier die land se landbou-unies het twee weke gelede vergader om te praat oor ’n strategie. Hulle wil uit een mond met die regering praat, landbou stabiliseer, die bedryf regruk en werksgeleenthede skep,” het De Jäger gesê wat gehelp het om die proses te fasiliteer.
“Landbou is die enigste bedryf in Zimbabwe wat die potensiaal het om die land weer op sy voete te help,” het De Jäger gesê.
“Zimbabwe se landbou het ’n kapitaal-inspuiting nodig. Die boere daar sal vir jou sê daar móét vergoeding wees vir dié wat hul plase verloor het, sowel as vir dié wat sonder finansiële hulp grond gegee is.”
Voordat pres. Robert Mugabe 17 jaar gelede begin het om wit kommersiële boere van hul plase te jaag, was Zimbabwe bekend as die “broodmandjie van Afrika”.
De Jäger sê dit gaan op die oomblik goed met die tabak- en katoenbedryf in Zimbabwe, maar dié bedrywe word beheer deur groot multi-nasionale maatskappye.
Dié maatskappye leen nie net die geld aan die boere om te plant nie, maar bepaal ook wat die boere vir hul produkte betaal word.
“Dit is dus ’n geslote waardeketting,” het De Jäger gesê.
Daar is nog net sowat 125 wit kommersiële boere in die land oor. Die meeste van hulle boer nou op aansienlik kleiner stukke grond as in die verlede.
Toe die Mugabe-regering in 2000 begin het met sy beleid van grondhervorming was daar sowat 4 500 wit kommersiële boere in Zimbabwe.
’n Verskynsel wat die laaste paar jaar sy kop in Zimbabwe uitgesteek het, is dié van die sogenaamde “woonwa”-boere.
Hulle huur grond by begunstigdes wat grond gekry het deur Mugabe se grondvergrype en woon dan in hul woonwaens op die plase.
Die 93-jarige Mugabe het twee weke gelede gal gebraak en gesê al die wit boere wat in die land oor is, moet verdryf word.
Sporadiese grondvergrype kom steeds voor.
’n Tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het in November 2008 in Windhoek, Namibië, beslis die grondhervormingsproses van die Zimbabwiese regering is onwettig en rassisties.
De Jäger vertel toe hy onlangs in Zimbabwe was, het hy op ’n keer saam met ’n boer gery wie se plaas van hom afgevat is.
Hulle het ’n polisieman wat langs die pad ’n saamry-geleentheid gesoek het, opgelaai.
“Toe die polisieman hoor sy weldoener is ’n voormalige boer wat sy plaas verloor het, het hy gesê: ‘I’m so sorry. Your pain is my hunger’.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie