Zim pleit by beleu00ebrde Eskom vir meer krag
Zim pleit by beleu00ebrde Eskom vir meer krag

Zim pleit by beleërde Eskom vir meer krag

Crecey Kuyedzwa – Zimbabwe se grootste hidroëlektriese dam is byna leeg, en voordat die kragopwekkers afgesit word, gaan Zesa, Zimbabwe se kragvoorsiener, aan Eskom se deur klop.

Zimbabwe se opwekkingskapasiteit kan binne 14 weke die wiele ingery word as die Kariba-dam se watervlakke nog laer daal. Dit is tans net sowat 29%. Die hidroëlektriese eenheid by dié dam is Zesa se anker-opwekker vir die hele Zimbabwe.

Fortune Chasi, Zimbabwe se minister van energie, het verlede week die parlement gewaarsku dat die lae damvlak verskriklike gevolge vir die land se kragtoevoer inhou.

Zimbabwe het in Mei beurtkrag begin toepas.

Waar die land aanvanklik tot 450 megawatt (MW) uit Suid-Afrika ingevoer het om sy opwekkingsvermoë aan te vul, is dié syfer tot slegs 50 MW verlaag weens die kragkrisis in Suid-Afrika.

Die hoeveelheid krag wat uit Mosambiek ingevoer is, het ook gedaal tot net sowat 50 MW.

Maar Zimbabwe het ook ’n beduidende skuldrekening met albei lande opgebou vir ingevoerde krag.

Zesa is sowat R480 miljoen aan Eskom verskuldig en het in Oktober 2018 laas sy rekening betaal vir enige krag uit Suid-Afrika. Terselfdertyd skuld Zesa ook vir HCB, Mosambiek se staatsbeheerde kragvoorsiener, bykans R510 miljoen.

Saam met die pleidooi vir meer krag sal amptenare van die Zimbabwiese nutsmaatskappy vandeesweek ’n betalingsplan probeer onderhandel.

“Ons kon sedert Oktober verlede jaar nie betaal vir ons ingevoerde krag nie,” sê Patrick Chivaura, waarnemende uitvoerende hoof van Zesa.

“Eskom kan vir ons 400 MW gee wat hulle nie in die aand nodig het nie.”

Eskom se plaaslike kragkrisis blyk tans onder beheer te wees, altans ten minste wat beurtkrag betref.

Die nutsmaatskappy, wat tans meer as R420 miljard se skuld het, het in Maart laas beurtkrag toegepas.

Al bly daar ’n kans op beurtkrag tot die einde van die jaar, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in April beloof dat dit in die winter ’n maksimum 26 dae van fase 1-beurtkrag sou behels.

Maar al waarborg Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, dat instandhoudingswerk op veral sy belangrike steenkooleenhede vorder, bly die nutsmaatskappy se finansiële situasie onder erge druk.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof by Eskom, het pas aangekondig hy bedank. Hy bly net tot einde Julie aan.

Hy het gesê sy gesondheid is geknou deur die “ondenkbare eise” wat die beleërde maatskappy aan hom gestel het. – Fin24, verwerk/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!