Zim-president oorleef aanval
Zim-president oorleef aanval

Zim-president oorleef aanval

Democracy Works se uitvoerende direkteur sê groot dele van die bevolking, asook elemente in die veiligheidsektor, voel steeds gefrustreerd, wat hulle ‘na geweld kan dryf’.
Jacob Rooi - Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het Saterdagmiddag ’n ontploffing by ’n verkiesingsveldtog van Zanu-PF in Bulawayo oorleef.

Teen druktyd was ’n ondersoek nog aan die gang, maar daar is bespiegel dat iemand ’n handgranaat gegooi het na ’n plek waar Mnangagwa verbygeloop het pas nadat hy met ’n toespraak klaar was.

Volgens die staatsmedia – wat dit as ’n sluipmoordpoging bestempel het – het die president by ’n verkiesingsaamtrek in die White City-stadion in die stad gepraat. Zimbabwe hou volgende maand verkiesing.

Die ontploffing was glo naby ’n tent vir hooggeplaastes.

Aanlyn-videobeelde het gewys hoe die president vir die skare wuif, omdraai om by die BBP-tent in te gaan en toe is daar die rook van ’n ontploffing. Mense het geskreeu.

Volgens die The Herald is die president nie beseer nie, maar verskeie ondersteuners van Zanu-PF het beserings opgedoen.

George Charamba, presidensiële woordvoerder, het Saterdagaand gesê ’n ondersoek is aan die gang.

Videobeelde het gewys hoe mense op die grond lê en hoe mediese personeel hulle na die toneel haas en van die beseerde mense op draagbare verwyder.

‘Die voorval verbaas my nie.’

Mnangagwa het in November verlede jaar president geword ná ’n bloedlose staatsgreep in Zimbabwe waartydens pres. Robert Mugabe ontsetel is.

Olmo van Meijenfeldt, uitvoerende direkteur van die stigting Democracy Works – ’n nie-winsgewende maatskappy wat in Suid-Afrika geregistreer is – het Saterdagmiddag gesê: “Die voorval verbaas my glad nie.

“Totdat ware politieke verandering wat die oppergesag van die reg erken en vrye en regverdige verkiesings met ’n gelyke speelveld vir alle politieke partye toegepas word, sal Zimbabwe polities onstabiel bly.”

Hy sê groot dele van die bevolking en die opposisie, asook elemente in die veiligheidsektor, voel steeds gefrustreerd.

Dit kan hulle na geweld dryf, “soos wat vandag gesien is.”

· Die voorval kom ure ná ’n ontploffing in Addis Abeba, waar ’n onbekende aantal van die ondersteuners van die Ethiopiese premier Abiy Ahmed, dood is. Minstens 154 mense is beseer, tien van hulle kritiek.

Ahmed het gesê dit was ’n onsuksesvolle poging teen hom “van magte wat Ethiopië nie verenig wil sien nie”.

’n Handgranaat is tussen duisende mense op die Meskelplein in Addis Abeba gegooi.

Ahmed is sedert Februarie premier en het met verskeie hervormings begin, insluitende die oopstelling van honderde webtuistes en TV-kanale.

Hy het ook aangekondig dat hy gereed is om ’n vredesooreenkoms met Eritrea, wat in 2000 ná ’n twee jaar lange oorlog onderteken is, te implementeer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!