Zim se adjunkpresident moontlik vergiftig
Zim se adjunkpresident moontlik vergiftig

Zim se adjunkpresident moontlik vergiftig

Chiwenga, wat binnekort 63 jaar oud word, is glo meer as ’n maand laas in die openbaar gesien en het glo lewerversaking.
Sarel van der Walt



’n Sluier van geheimhouding is getrek oor die nuus dat Constantino Chiwenga, adjunkpresident van Zimbabwe, moontlik weens vergiftiging in ’n Suid-Afrikaanse hospitaal behandel word.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het alle navrae hieroor na die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) verwys, maar dié het nie op enige navrae gereageer nie.

zimlive.com het Dinsdag berig dat Chiwenga, ’n voormalige Zimbabwiese weermaghoof, op 23 Junie per vliegtuig na Suid-Afrika gebring is.

Hy het vroeër ook in Indië behandeling ontvang.

Chiwenga, wat binnekort 63 jaar oud word, is glo meer as ’n maand laas in die openbaar gesien en het glo lewerversaking.

Daar word nou beweer dat hy en sy vrou, Mary, albei vergiftig is deur water wat by hul huis afgelewer is. Hulle is albei vir ’n geheimsinnige verlies aan velpigmentasie behandel.

KRITIEKE TOESTAND

zimlive.com berig dat twee senior regeringsbronne sê dat Chiwenga in ’n kritieke toestand in die hospitaal is.

Om veiligheidsredes wou hulle nie die naam van die hospitaal bekend maak nie.

Die webwerf sê die Zimbabwiese presidensie het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Toe Chiwenga ’n vorige keer in ’n hospitaal in Kaapstad behandel is, het betogers buite die hospitaal daarop aangedring dat hy na Zimbabwe terugkeer en daar behandel word.

Chiwenga is op 18 Mei in ’n private straler na Indië geneem en het op 9 Junie na Zimbabwe teruggekeer.

Hy het in 2017 as weermaghoof die operasie gelei wat tot oudpres. Robert Mugabe se uiteindelik bedanking gelei en die weg vir Emmerson Mnangagwa gebaan het om as president oor te neem.

Daar was sedertdien onenigheid tussen Mnangagwa en Chiwenga. Daar heers ook groot verdeeldheid in die regerende Zanu-PF-party. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer