Zim voel volle kolfgeweld van Zane en JJ

Namibië sal in Oktober by die T20 Wêreldbeker wees, maar nie Zimbabwe nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Zimbabwe Krieket het ooglopend onderskat hoeveel skietgoed nodig is om in sy ontluikende span te kies wat tans in Windhoek op toer is en wat reeds in die eerste twee wedstryde die Castle Lite T20-reeks teen die Namibiese Eagles prysgegee het.

Kaptein Gerhard Erasmus en sy manne het ondanks die aftyd wat die pandemie op hulle afgedwing het sedert hul laaste vorige wedstryd in April, steeds die ongenaakbare soort krieket gespeel waarvoor hulle onder die afrigterskap van Pierre de Bruyn bekend geword het.

Zimbabwe het in beide Saterdag en gister se wedstryde nie oor genoeg ervaring beskik om die Namibiërs van twee eensydige wegholoorwinnings te weerhou nie.

Zane Green, JJ Smit en Craig Williams was die drie kolwers wat sover reeds met onoorwonne vyftigtalle vasgetrap en die volle geweld van hul slaankrag losgelaat het. Danksy dié drietal se inklimspel het Namibië beide wedstryde sover met 'n reuseverskil gewen (eers met sewe paaltjies en toe met 132 lopies).

Die T20-reeks word vandag met wedstryd nommer drie by die Wanderers afgesluit, met alle aanduidings dat die tuisspan ook hier behoort te oorheers – voordat die fokus oorskakel na die drie eendagwedstryde wat Woensdag, Vrydag en Sondag voorlê.

Oor die ietwat langer formaat is daar ook geen rede hoekom die Eagles nie hul oorheersing nog dieper sal invryf nie.

Die toetsspelende Zimbabwe het nie gekwalifiseer nie en sal afwesig wees wanneer Namibië in Oktobermaand sy debuut by die T20 Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate maak.

Die huidige toernooi in Windhoek dien as 'n vroeë losmaker vir die Namibiërs wat dan op hul heel skerpste sal moet wees om hul uitdunwedstryde teen Ierland, Nederland en Sri Lanka te wen en sodoende na die hoofkompetisie te vorder.

Die opgesomde verloop van die eerste twee T20-wedstryde:



WEDSTRYD 1

Zimbabwe wen die loot en stel 112/8 op. Hul kaptein Chamu Chibhabha vaar die beste as aanvangskolwer (35 van 35 balle, drie viere, een ses), totdat die draaibouler Mauritius Ngupita (1/21 in drie boulbeurte) hom been-voor betrap.

Die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus tree eers later tot die boulaanval toe (nommer agt), maar neem drie paaltjies vir agt lopies in twee wedstryde. Jan Frylinck het goed gevaar met 2/5 in 2, asook Ruben Trumpelmann met 0/10 in 3.

In die Eagles-kolfbeurt slaan Stephen Baard twee viere voor hy uitgevang word (13 van 13 balle), maar sy aanvangsvennoot Zane Green kry die oorhand en slaan 81 nie uit nie van 47 balle (sewe viere, vyf sesse).

Aan die einde van boulbeurt 7 was Green op 36* van 26 balle, maar onmiddellik hierna moker hy drie opeenvolgende sesse om sy vyftigtal van net 29 balle op die telbord te plaas.

'n Hoogtepunt vir die Zimbab­wiërs is die puik duikende vangskoot waarmee Brian Mudzinganyama in die buiteveld van Craig Williams (7 van 11 balle) ontslae te raak. Die Eagles behaal egter die wenlopie met sewe paaltjies staande en 39 balle oor.

Speler van die wedstryd: Zane Green.



WEDSTRYD 2

Zimbabwe wen weer die loot en stuur Namibië om eerste te kolf.

Teen die tyd dat die eerste paaltjie val, het die Eagles reeds 91 lopies in 7.3 boulbeurte opgestapel danksy die aanvangspaar Craig Williams (77 van 50 balle, 9x4 1x6) en Zane Green (44 van 20 balle, 5x4 2x6).

Nicol Loftie-Eaton (14 van nege balle, 1x4 1x6) en Gerhard Erasmus (13 van 10 balle, 1x4) is uit voordat hulle behoorlik kon oorneem, maar met laasgenoemde se vertrek ná 12.2 boulbeurte was daar steeds oorgenoeg tyd vir JJ Smit om so byna-byna 'n honderdtal te plunder.

Smit het sy 93 nie uit nie van net 29 balle gedonder, wat tien sesse en vier viere bevat het. Sy vyftigtal is van net 16 balle geblits.

Sy reuse-aandeel om die tuisspan se totaal tot 254/4 op te stoot, het hom die ooglopende aanwysing as speler van die wedstryd gemaak.

Die toerspan kon met net 122 antwoord voordat almal binne 17 boulbeurte uitgehaal is. Kolwer drie, Brian Chari, se 33 van tien balle het 'n indrukwekkende vyf sesse ingesluit en het kortstondig vir verwagtinge van 'n behoorlike skouspel gesorg.

Nicol Loftie-Eaton was giftig met 3/5 in 4 boulbeurte. Op sy hakke was nog 'n draaier, Mauritius Ngupita, met 2/19 in 2, en die sneller Ben Shikongo (1/9 in 2). Dewald Nell (1/50 in 4) het egter deurgeloop.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!