Zim was nooit Afrika se broodmandjie – ekonoom
'n Ekonoom neem die aanname dat Zimbabwe voor chaotiese grondhervorming stapelvoedsel uitgevoer het, in oënskou.
Vida Booysen - Voordat pres. Robert Mugabe 17 jaar gelede begin het om wit kommersiële boere van hul plase af te jaag het Zimbabwe as die “broodmandjie van Afrika” bekend gestaan.
Maar was dié land destyds 'n verskaffer van stapelvoedsel aan Afrika?
“As 'n land as 'n voedselmandjie beskou word, beteken dit dat hy in staat is om aan sy eie stapelvoedselbehoeftes te voldoen en terselfdertyd 'n aansienlike hoeveelheid van dieselfde voedselhulpbronne uitvoer,” sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, in 'n artikel wat hy vir die onafhanklike feitekontroleringsagentskap Africa Check geskryf het.
Sihlobo gee toe dat Mugabe se chaotiese grondhervorming tot 'n afname in Zimbabwe se landbouproduksie bygedra het, maar sê daar is min bewyse dat die land wel 'n oorheersende krag in Afrika se voedselproduksie vóór 2000 was – minstens vanuit die perspektief van die produksie van stapelvoedsel.
“As ons na die produksiedata van mielies en koring kyk, het Zimbabwe se produksie van dié twee stapelvoedsels oor 55 jaar nooit meer as 10% van die totale produksie van die vasteland oorskry nie,” sê Sihlobo.
Hy gebruik onder meer landboustatistieke wat die Verenigde Nasies se voedsel-en-landbou-organisasie (FAO) sedert 1961 insamel.
“In die twee dekades vóór Mugabe se leierskap – in die 60's en 70's – was die land se mielieproduksie gelykstaande aan 5% van Afrika se produksie,” sê Sihlobo.
Die land was in die meeste jare 'n netto invoerder van mielies, maar gemiddeld bereken, was hy 'n netto uitvoerder met 'n dalende mieliehandelsbalans (die verskil tussen 'n land se uit- en invoer).
Die daling in Zimbabwe se mielieproduksie en -handelsbalans het ná die instelling van die grondhervormingsprogram in 2001 versnel.
“Die land se bydrae tot mielieproduksie op die vasteland het tussen 2001 en 2016 tot gemiddeld 2% gekrimp en plaaslike verbruik het produksie met gemiddeld 550 000 ton verbygesteek,” sê Sihlobo.
Dit het die land dus in 'n netto invoerder van mielies verander. Die produksie van koring en ander grane het 'n soortgelyke neiging getoon.
“Die beskikbare data, wat drie afsonderlike fases in die Zimbabwiese landbou dek, dui daarop dat die land in die eerste twee fases selfvoorsienend was: Vóór Mugabe die bewind oorgeneem het, asook in die eerste twee dekades ná sy bewindsoorname.”
Maar, sê Sihlobo, selfs toe was mielie- en koringproduksie wisselvallig en nie baie groot nie.
“Dit was nie genoegsaam vir 'n groot uitvoer na die res van die vasteland nie, en die land voldoen dus nie aan die vereistes om as 'n voedselmandjie bestempel te word nie.”
In die derde fase (ná grondhervormings) het die land se produksie van mielies en koring merkbaar gedaal, wat sy status in die vasteland se voedselstelsel verder verlaag het, sê Sihlobo.
Landbou is sleutel tot Zimbabwe se herstel
Sowat 70% van Zimbabwe se bevolking maak vir hul voortbestaan op landbou staat, sê die Verenigde Nasies se voedsel-en-landbou-organisasie (FAO) in 'n verslag op sy webtuiste.
In dié verslag noem die FAO dat Zimbabwe eens die “broodmandjie van Suider-Afrika” was.
Hy skryf die agteruitgang in die land se landbouproduksie aan “ 'n dekade lange resessie” toe.
Die organisasie lei tans Zimbabwiese boere op om bewaringslandbou toe te pas en sê die 300 000 kleinboere wat dié metode toepas, het hul produksie verdriedubbel.
Wanneer landbou in Zimbabwe presteer, het dit 'n verbysterende rimpel-effek, sê Amos Chimhowu, 'n navorser van die Global Development Institute van die Manchester-universiteit, in 'n meningsartikel op News24.
“Dit verlig nie net landelike armoede nie, maar skep werkgeleenthede in die landbouwaardeketting in stede en klein dorpe.”
Hy sê dit behoort 'n prioriteit van die Zimbabwiese regering te wees om landbou weer aan die gang te kry. - Netwerk24/Bykomende bronne: africacheck, fao.org, News24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie