Zimbabwe: u2018Geen hoop op vernuwing nieu2019
Zimbabwe: u2018Geen hoop op vernuwing nieu2019

Zimbabwe: ‘Geen hoop op vernuwing nie’

Zimbabwe se nuwe kabinet het net drie vroueministers en al die lede is ouer is 64.
Jacob Rooi - Terwyl baie Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika bly nog ’n wag-en-kyk-houding inneem oor ontwikkelinge in hul land, meen Tendai Biti, oudminister van finansies, dat daar geen hoop is op vernuwing in dié land nie.

“Die wittebrood is verby nog voordat dit begin het. Wat ’n skande. Wat ’n verpaste geleentheid,” het Biti getwiet ná die aankondiging van pres. Emmerson Mnangagwa se nuwe kabinet, wat verskeie lede van die militêre magte insluit.

Sibusiso Moyo, die generaal wat op TV verskyn het ná die onlangse militêre oorname, is die nuwe minister van buitelandse sake. Perence Shiri, hoof van die land se lugmag, is die nuwe minister van landbou en grondsake.

Biti en Morgan Tsvangirai, oudpresident van die Movement for Democratic Change (MDC), was Vrydag albei veronderstel om op ’n simposium by die Universiteit van Johannesburg te praat.

Nie een van hulle het egter opgedaag nie en hul plekke is deur ander sprekers ingeneem.

Brian Tamuka Kagoro, ’n Zimbabwiese ontwikkelings- en regeerkundige, glo nes Biti dat die wittebrood verby is en sê Mnangagwa se “ou kabinet” waarvan al die lede ouer as 64 is, met net drie vroueministers, is ’n bewys hiervan.

Hy sê slegs 4% van Zimbabwiërs is ouer as 64 – net een persentasiepunt meer as die wit minderheid.

“Dit beteken . . . ons is terug by ’n minderheidsregering.”

Hy sê die mening bly dat daar transformasie moet wees.

Gesprekke met opposisie

Mnangagwa het wel met die opposisie gesprekke gevoer en die opposisie het alle stappe teen Mugabe gesteun in die hoop dat ’n meer inklusiewe regering sou volg.

“Maar laas nag het hulle spyt geraak. Mnangagwa het ’n inklusiewe regering saamgestel, maar inklusief van die militêre magte en rowers.

“Ons is deur ’n gedwonge wittebrood vir sewe dae. Dit het Donderdagnag geëindig. Ons sal deur twee weke van rou gaan. Die mobilisering het reeds begin.”

Kagoro het gesê die analise dat Zanu-PF in die verkiesing, wat oor ses maande gehou gaan word, meer stemme gaan kry, is vals – nes die idee dat die verwydering van Mugabe tot hernuwing sal lei.

“Zanu is tans deur ’n groot egskeiding. Sal die G40 (die Grace Mugabe-aanhangers) vir Mnangagwa steun?”

Hy meen min opposisiekiesers sal weer vir Zanu-PF stem en in Harare en Bulawayo steek baie onafhanklike kandidate hul hande op.

Sox Chikowero, oudintelligensie-operateur van die MDC wat 16 jaar gelede uit Zimbabwe moes vlug en gewese voorsitter van die Global Zimbabwe Forum, het voor die simposium gesê sommige Zimbabwiërs is bereid om Mnangagwa 100 dae kans te gee.

Hy meen die nuwe kabinet was slegs ’n “verandering van administrateur, nie die administrasie nie. Die kabinet is ook meer militêr as tevore.”

Volgens Chikowero het Mnangagwa se inhuldigingstoespraak voorverlede Vrydag hoop op demokrasie gebring.

“Maar dis te vroeg om te sê. Ons sal wag met die hoop dat sake beter kan wees as tevore. Ons hoop ook Mnangagwa doen nie dieselfde as Mugabe nie, maar die aanstellings in sy kabinet laat wenkbroue lig.”

Austen Sibanda, ’n gewese vegvlieënier in Zimbabwe wat al agt jaar in Suid-Afrika is, betreur Mugabe se grondhervormingsplanne waardeur wit boere na Suid-Afrika, Mosambiek en Zambië gedwing is.

“Die grondhervormingsprojek het smart vir Zimbabwiërs gebring. Mense het grond, maar dit werk nie vir die land se behoeftes nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!