Zimbabwe smag na leierskap

‘n Politieke ontleder meen benewens die fiskale krisis, is gebrekkige leierskap Zimbabwe se grootste probleem.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Pres. Emmerson Mnangagwa se besluit om met sy twee weke lange besoek aan Rusland en Europa voort te gaan terwyl Zimbabwe brand, is ’n aanduiding van sy arrogansie.

“Mense is uiters gefrustreer en voel hulle word nie gehoor nie. As Mnangagwa sy buitelandse reis gekanselleer het, sou dinge dalk nie Maandag so handuit geruk het nie.”

Só het mnr. Ringisai Chikohomero, navorser by die Instituut vir Sekuriteitstudies (ISS) in Pretoria, Suid-Afrika, gister by navraag op die gebeure Maandag in Zimbabwe gereageer.

Volgens berigte is minstens vier mense dood en nagenoeg 200 ander tydens gewelddadige betogings in Zimbabwe in hegtenis geneem.

Die onluste het uitgebreek twee dae nadat die pryse van petrol en diesel meer as verdubbel het. Die polisie het traanrook afgevuur in die hoofstad, Harare, asook Bulawayo waar die betogers die paaie versper, motorbande gebrand en Mnangagwa uitgejou het.

Hy het die brandstofprys verhoog in die hoop om die tekort aan buitelandse valuta te verlig en in ’n poging om die land se ergste ekonomiese krisis in jare die hoof te bied.

Mnr. Owen Ncube, Zimbabwe se minister van veiligheid, sê mense het in die onluste gesterf, maar hy het geen verdere besonderhede bekend gemaak nie.

Hy het die blaam vir die onluste voor die deur van die opposisieparty en regse politieke groepe gelê, berig Reuters.

Mnangagwa het intussen gister met pres. Wladimir Poetin in Rusland vergader.

TALLE EKONOMIESE FLATERS

Volgens Chikohomero is die gebeure die afgelope dae die gevolg van talle ekonomiese flaters oor die jare, asook die gebrek aan leierskap.

“Die belangrikste element van die krisis is die regering se onwilligheid om fundamentele mark- en ekonomiese beginsels te volg, veral wat geldeenheid-hervormings betref. Die buitelandse reserwes is uitgeput.

“Tweedens het die regering die land diep in die skuld in bestuur deur reusebedrae by die plaaslike banke te leen.

“Die regeringsuitgifte waarteen geleen is, was blote boektransaksies sonder enige waarde wat dit ondersteun, en die regering kan nie sy US$8 miljard-skuldlas delg nie,” verduidelik Chikohomero.

Hy sê regeringsamptenare verdien US$350 – US$400 per maand, maar dit is elektroniese transaksies sonder enige harde kontant. Dit word op die swartmark vir 1:3 verhandel en die markbeginsels ontbreek om dit reg te stel.

“Wat ons Maandag gesien het, was die gebrek aan leierskap. Dit is simptomaties van ‘n regering wat nie leiding neem om probleme reg te stel nie en nie met die gefrustreerde burgers in gesprek tree nie.”

Chikohomero sê terselfdertyd swyg die opposisie, óf hulle ry die onlustegolf sonder om werklik regstellende bydraes te lewer.

“Die regering het teruggekeer in die verstekmodus wat hy die afgelope 38 jaar onder (pres. Robert) Mugabe geken het. Hy verskuif die blaam en aanvaar geen verantwoordelikheid nie.

“Mugabe het ’n Ponzi-skema bedryf en geld uit niks geskep nie. Die land met nou her-dollaraliseer, wat beteken interne transaksies moet die werklike waarde van die geldeenheid weerspiëel,” sê hy.

Verder moet die regering ware leierskap toon, die burgery ernstig opneem en hulle die geleentheid gee om hul frustrasies te bespreek, meen Chikohomero.

“Indien dit nie gebeur nie, sal Zimbabwe ‘n prutpot bly.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!