Zirk wen weer groot met 'klein boek'
Die Namibies-gebore skrywer het weer stof in die oë van Afrikaanse skrywersreuse geskop.
Francoise Steynberg – Die Namibiese skrywer Zirk van den Berg het weer met twee groot literêre pryse weggestap.
Sy “stadsprokie” van 176 bladsye, Ek wens, ek wens, is met twee van die vier kykNET-Rapport boekpryse bekroon wat Saterdagaand aanlyn toegeken is.
Van den Berg is die wenner in sowel die fiksie- as filmkategorie van die kykNET-Rapportpryse vir sy Ek wens, ek wens.
Hy het voor die toekenningsgeleentheid uit Auckland geskryf: “Ek sal Sondagoggend vyfuur Nieu-Seeland-tyd op my pos wees. Vir ingeval weerlig twee keer slaan!”
Vir Van den Berg het die weerlig inderdaad twee keer getref en hy het weer eens dié pryse voor ander literêre reuse weggeraap én die tweede keer die filmkategorie gewen.
Ek wens, ek wens is vroeër vanjaar ook met die W.A. Hofmeyrprys bekroon. Van den Berg, wat in Nieu-Seeland woon, het in 2014 ook die eerste kykNET-Rapport-filmprys ontvang vir 'n Ander mens. Die rolprent van dié boek is verlede jaar uitgereik.
Op die vraag of Van den Berg gedink het hy staan 'n goeie kans om te wen, veral nadat hy die W.A. Hofmeyrprys ingepalm het, het hy geantwoord: “Ek het gedink dalk die filmprys, as ek gelukkig is. Ek het teoreties verstaan dat ek albei kon wen, maar het die gedagte dadelik uit my kop gesit. Dit het immers nog nooit gebeur nie en die ander boeke op die lyste het intimiderend gelyk.”
'OORNAG-SUKSES' SLAAN DRONK
Van den Berg het soos met die W.A. Hofmeyrprys weer stof in die oë van swaargewigskrywers geskop.
Die ander benoemdes in die fiksiekategorie – wat vanjaar 'n rekord van 52 inskrywings gelok het – was wyle Harry Kalmer vir In 'n land sonder voëls, Johan Jack Smith vir Zola, Etienne van Heerden vir Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Jan van Tonder vir Die verevrou.
Van den Berg sê hy het heelwat gelukwensinge van ander skrywers ontvang teen wie hy meegeding het.
“Ek waardeer hul groothartigheid. Dit kan nie maklik wees nie. Ons almal wil maar wen.”
Dink hy hy word nou eers as 'n gerekende skrywer erken?
“Op die oomblik lyk dit of daar heelparty mense is wat my werk hoog begin aanslaan. Dis vir my 'n vreemde gedagte wat my verstand bietjie te bowe gaan.
“Dit voel na die verwesenliking van 'n lewensdroom, en oor die twee pryse kan ek nie eens probeer maak of ek cool is nie. Ek is nie!”
Van den Berg sê vier jaar gelede kon hy nie 'n uitgewer vir sy Namibiese stories kry nie. Nou ryg hy pryse in.
“Dis mos genoeg om enige mens deurmekaar te maak. As daar minder waardering vir my werk is (of was) as wat daar kon wees, het dit te doen met die soort boek wat ek skryf. Mense hou maar van goed wat gemaklik in kassies pas, en ook van sekere soort gegewe.”
'LEEF MY IN TONELE IN'
Volgens die filmkeurders kan die gestroopte taal in Ek wens, ek wens soomloos tot 'n draaiboek verwerk word en bied die teks talle visuele padaanwysers.
Ook benoem in die filmkategorie was Sidney Gilroy vir Klikbek, Johan Jack Smith vir Zola, Réney Warrington vir Smit Motors en Marita van der Vyver vir Grensgeval.
Skryf Van den Berg so asof sy boek soos 'n rolprent voor hom afspeel?
“Ek dink nogal so, ja. Maar dis nie net visueel nie, ek probeer my in tonele inleef, en die evokatiewe elemente uitwys, met welke sintuig dit ook al te make het,” is Van den Berg se antwoord.
Op die vraag wat hy met sy prysgeld gaan doen en wanneer gaan hy weer in sy geboorteland kom kuier, het hy gesê: “Ek het laas net genoeg van Lüderitz gesien om te weet ek moet weer soontoe gaan.”
Hy sê hy sal in Namibië kom kuier “sodra die kiem wyk”.
Die tweede boek in sy Hochnamib-trilogie ná Die vertes in wat in Namibië afspeel, Tweegevreet, is in Augustus gepubliseer en in boekwinkels beskikbaar.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie