'Ziveli oortree niu00e9 met voortgesette konstruksie'
'Ziveli oortree niu00e9 met voortgesette konstruksie'

'Ziveli oortree nié met voortgesette konstruksie'

Ontwikkelaar reageer
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Square Foot Developments sê die brief van die omgewingskommissaris om sy ontwikkelingsaktiwiteite by Ziveli Lifestyle Village te staak, kom as ''n verrassing nadat hy “alle behoorlike en vereiste prosedures” gevolg het.

Terselfdertyd sê die ontwikkelaar hy benodig nie ''n omgewingsklaringsertifikaat nie omdat wette nie in retrospek toegepas kan word nie en ook dat dit nie onwettig is om ''n ontwikkeling binne ''n beskermingsone vir ondergrondse water te bou nie, solank spesiale maatreëls teen besoedeling toegepas word.

Die ontwikkelaar meen hy oortree nie die wet deur met konstruksiewerk voort te gaan nie omdat die ministerie nog nie ''n nakomingsbevel uitgereik het nie en dat hy binne sy regte optree deur eers sy konsultante hieroor te raadpleeg.

Dié reaksie volg nadat die ministerie van die omgewing en toerisme se omgewingskommissaris, mnr. Teofilus Nghitila, op 2 November ''n kennisgewing aan die ontwikkelaar van die Ziveli Lifestyle Village uitgereik het om sy ontwikkelingsaktiwiteite te staak tot tyd en wyl hy ''n omgewingsklaringsertifikaat verkry. Volgens die kennisgewing sal die versuiming om aan die nodige vereistes te voldoen, daartoe lei dat ''n nakomingsbevel aan die maatskappy uitgereik word.



WET NIE RETROSPEKTIEF

“Alle vereiste toestemming vir die vestiging van ''n dorpsgebied is verkry vóór Windhoek se grense uitgebrei is en ook vóór die nuwe omgewingswet van krag geword het. Volgens ons konsultante het ons gehoor gegee aan alle relevante wette wat toe van toepassing was,” het mnr. Dirk Oosthuizen, uitvoerende hoof van Square Foot Developments, in ''n verklaring aan die media gesê.

“Sonder dié dinge ingestel, sou die ministeries van grondhervorming en van stedelike en landelike ontwikkeling nie die vestiging of registrasie van ''n dorpsgebied goedgekeur het nie.

“Volgens die ou omgewingswet was geen omgewingsklaringsertifikaat vereis om goedkeuring vir die vestiging van ''n dorpsgebied te kry nie. Intussen het wetgewing verander, maar volgens die regsadvies wat ons kon inwin, kan wette nie retrospektief afgedwing word nie en kan een wet nie regte wegneem wat deur ''n ander wet voorsien word nie.“

Oosthuizen sê hulle ervaar groot teenstand vir die ontwikkeling van nabygeleë grondeienaars wat nie dié ontwikkeling só naby wil hê nie.

“Ons respekteer hul beskouings, maar Ziveli sal 15 km van Windhoek af geleë wees – steeds binne die stadsgrense. Wanneer grond so naby aan die stad beskikbaar raak, is dit nie volhoubaar om dit as lae-digtheidsbehuising te ontwikkel ter wille van die gemak en voorregte van enkele individue nie,” het hy gesê.

“Die druk vir ontwikkeling in dié dele van die stad sal net vererger.”



''GROENER'' AS ANDER ­DREINERINGSTELSELS

Oosthuizen sê wat die gemeenskap se kommer betref omdat Ziveli in ''n be­skermingsone vir ondergrondse water gebou word: “Die sonering beteken nie geen ontwikkeling mag daarbinne plaasvind nie.

“Dit plaas egter die onus op die ontwikkelaar om spesiale maatreëls in te stel om seker te maak die ondergrondse water word nie daardeur geraak nie.”

Volgens hom is ''n verslag saam met die aanvanklike aansoek oor die kwesbaarheid van die ondergrondse water ingedien. Hy sê dienooreenkomstig is ontwerpe ingegee waarvolgens riool­water volgens spesiale standaarde gesuiwer sal word.

Wetgewing laat toe dat dié water as gryswater in inwoners se tuine gebruik word, sonder om skade aan die omgewing aan te rig.

“Wat die beskerming van ondergrondse waterbronne betref: As ontwikkelaar is ons van mening dat dié eersteklas suiweringsaanleg ''n baie beter ekologiese benadering is as die syferdreineringstelsels of Franse dreine waarvan die nabygeleë, bekommerde inwoners gebruik maak. Hier vind die ontwikkeling en uitbreiding van eiendomme ook voortdurend plaas.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer