Zuma 12de keer in hof
Die Suid-Afrikaanse oudpresident voer aan dat sy verhoor nie meer billik kan wees nie.
Oudpres. Jacob Zuma het 11 verskillende hofsake gevoer om sy verhoor op aanklagte van bedrog, korrupsie en rampokkery te vertraag – as hy dit nie gedoen het nie, sou die verhoor reeds in 2006 begin het, sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in antwoord op Zuma se aansoek dat sy verhoor permanent uitgestel moet word.
Die aansoek van Zuma, sy 12de regsaksie om die verhoor te ontduik, word Maandag in Durban aangehoor. Hy voer aan dat sy verhoor nie meer billik kan wees nie omdat te veel tyd verloop het tussen die pleeg van die beweerde misdade en die verhoor.
Zuma sê in sy hofstukke die saak is te veel kere uitgestel, onder meer weens die duur van die verhoor van Schabir Shaik, wat in Junie 2005 skuldig bevind is aan korrupsie weens omkoopgeld wat hy aan Zuma betaal het.
Zuma voer ook aan dat dit nie meer moontlik is om behoorlik getuienis vir sy verdediging in te samel nie. “Maar die saak is deeglik ondersoek tussen 2000 en 2006 en verreweg die meeste van die getuienismateriaal is dokumente. Dis bewaar en afskrifte is aan sy regspan verskaf,” sê die staat.
VERTRAGINGS
Die vertragings sedertdien was regstreeks en onregstreeks die gevolg van hofsake en ander litigasie wat Zuma self en die Franse wapenverskaffer Thales by howe ingedien het teen sy vervolging.
Die saak teen Zuma het reeds in 2001 begin toe die destydse Skerpioene, amptelik die direktoraat van spesiale operasies, ’n gekodeerde faksboodskap gevind het wat Zuma betrek by korrupte bedrywighede wat met die land se wapentransaksie in 1998 verband hou. Aanvanklik is Shaik alleen aangekla, maar minder as drie weke ná sy skuldigbevinding in Junie 2005 het die destydse direkteur van nasionale vervolging, adv. Vusi Pikoli, aangekondig dat Zuma ook vervolg gaan word op twee aanklagte van korrupsie wat uit Shaik se verhoor voortspruit.
“As hy nie sy vertragingstrategie begin het nie, sou sy verhoor reeds in Julie 2006 begin het,” lui die staat se betoogshoofde.
Die Stalingrad-strategie het kort daarna in Augustus 2005 begin toe Zuma en sy prokureur, Michael Hulley, deursoekingslasbriewe van die Skerpioene in die hof betwis het. Die lasbriewe was om Zuma se woonstel in Killarney, Johannesburg, sy woonplek in Nkandla in KwaZulu-Natal en Hulley se praktyk in Durban te deursoek.
BESLAGLEGGINGS
Daar is beslag gelê op rekenaars en dokumente, maar niks daarvan kon gebruik word totdat Zuma se regstappe daarteen in November 2008 in die konstitusionele hof doodgeloop het nie. Zuma het ook in die howe probeer keer dat die vervolgingsgesag getuienisdokumente teen hom van Mauritius na Suid-Afrika bring.
Die regter wou by Zuma se advokaat, Kemp J. Kemp, weet waarom hy wil keer dat dokumente oor korrupsie die land ingebring word.
“Ons dink dis belangrik. Dis nie soos ’n geveg tussen twee kampioenvegters nie. Dis meer soos Stalingrad. Dit strek van brandende huis tot brandende huis,” het Kemp geantwoord.
Die benaming Stalingrad-strategie het daar begin. Die saak is tot in die appèlhof en konstitusionele hof gevoer voordat Zuma die onderspit gedelf het.
Die getuienis wat in Zuma se eiendomme gevind is, kon ná die hofsake gebruik word. Hy is in Desember 2007 weer aangekla – op vier aanklagte van korrupsie, 12 van bedrog, een van rampokkery en een van geldwassery.
Maar in Junie 2008 is Zuma vir die sesde keer hof toe: omdat hy nie kans gehad het om voorleggings aan die NVG te maak voordat besluit is om hom te vervolg nie. Die hof het in sy guns beslis, maar ses maande later het die staat se appèl daarteen geslaag.
Teen daardie tyd was adv. Mokotedi Mpshe waarnemende direkteur van nasionale vervolging. Hy het vertoë van Zuma se regspan aangehoor dat geheime spioenasiebande tussen intelligensie-agente en Leonard McCarthy, destydse hoof van die Skerpioene, dui op ’n politieke komplot om aanklagte teen Zuma in te bring. Mpshe het die aanklagte teruggetrek, maar die volgende dag het die DA ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die terugtrek van die aanklagte te hersien. Dit het sewe jaar en nog drie hofsake geduur voordat Mpshe se beslissing tersyde gestel is.
Uiteindelik is die spioenasiebande-saak in Maart 2016 deur ’n volbank regters in Pretoria aangehoor, wat eenparig bevind het dat Mpshe se beslissing om die aanklagte teen Zuma te laat vaar, irrasioneel was en tersyde gestel word. Weer het Zuma geappelleer en weer het die appèlhof teen Zuma en die vervolgingsgesag beslis. En op 16 Maart het adv. Shaun Abrahams as nasionale direkteur van vervolging die aanklagte heringestel.
“Die huidige aansoek (om die klagte permanent uit te stel) is weer eens ’n voortsetting van mnr. Zuma se Stalingrad-verdingstrategie,” lui die staat se betoogshoofde. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie